LUKAS 12:22-59
LUKAS 12:22-59 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het toe met sy dissipels gepraat en gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Julle moenie bekommerd wees oor hoe julle sal lewe, oor wat julle sal eet nie. En julle moenie bekommerd wees oor julle liggaam, oor die klere wat julle moet aantrek nie. Die lewe is belangriker as kos en die liggaam is belangriker as klere. Kyk na die kraaie. Hulle saai nie, hulle sny nie koring af nie, en hulle het nie stoorkamers waar hulle kos en ander goed bêre nie. Maar God gee elke dag vir hulle kos. En julle is baie belangriker as die voëls. Dit sal niks help as julle bekommerd is nie. Dit sal julle nie langer laat lewe nie, nie een uur langer nie. As julle nie julle lewe 'n klein bietjie langer kan maak nie, hoekom is julle dan bekommerd oor al die ander dinge? Kyk hoe groei die blomme in die veld. Hulle werk nie hard nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle, koning Salomo was ryk en hy het mooi klere aangetrek, maar sy klere was nie so mooi soos een van hierdie blomme nie. God maak al die plante in die veld mooi, maar hulle lewe nie lank nie. Hulle groei vandag, en môre gooi iemand hulle in die vuur. God sal julle baie mooier aantrek en Hy sal beter vir julle sorg as vir die plante, ook vir julle wat so min glo. Julle moenie aanhou dink oor wat julle sal eet of wat julle sal drink nie. Julle moenie aanhou bekommerd wees oor alles nie, want al hierdie dinge is belangrik vir die mense van die wêreld, die mense wat nie vir God ken nie. Julle Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Nee, dit moet vir julle die belangrikste wees dat God die Koning is. Dan sal Hy al hierdie ander dinge vir julle gee. Julle is min, maar julle moenie bang wees nie, want julle Vader wil graag julle Koning wees. Dit sal beter wees as julle al julle goed verkoop en vir die arm mense sorg. Julle moet vir julleself beursies maak wat nie oud word nie, julle moet goed hê wat altyd daar sal wees. Dan sal julle ryk wees, julle sal in die hemel by God goed hê wat nie opraak nie. Daar kan diewe dit nie steel nie, en motte kan dit nie opvreet nie. Die dinge wat in die hemel by God is, moet vir julle die belangrikste wees. Dan sal julle net dink aan God wat in die hemel is.” “Julle moet altyd gereed wees, julle lampe moet altyd brand. Julle moet wees soos slawe wat wag dat hulle eienaar terugkom van die fees by 'n bruilof. Wanneer die eienaar kom en aan die deur klop, dan maak die slawe dadelik die deur vir hom oop. Die slawe wat wakker is wanneer die eienaar kom, sal baie gelukkig wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal sê hulle moet by die tafel kom sit. Hy sal sy voorskoot aansit en hy sal hulle bedien. Ja, daardie slawe sal waarlik gelukkig wees as hulle gereed is, ook as die eienaar laat in die nag of baie vroeg in die oggend kom en hy sien sy slawe is wakker. Maar ook die eienaar van 'n huis moet wakker en gereed wees, want as hy weet presies hoe laat die dief kom, dan sal hy seker maak dat die dief nie by sy huis kan inbreek nie. Julle moet ook altyd gereed wees, want Ek, die Seun van die mens, sal kom wanneer julle dit nie verwag nie.” Petrus het gevra: “Here, vir wie vertel U hierdie gelykenis? Vertel U dit vir óns of vir al die mense?” Toe sê die Here: “Ek wil vir jou vertel hoe is 'n bestuurder wat verstandig is en doen wat sy eienaar wil hê. Die eienaar kies een van sy slawe en stel hom aan om bestuurder te wees van al die ander slawe. Hy moet ook elke dag vir hulle kos gee. Wanneer die eienaar terugkom en hy sien sy slaaf is besig om alles te doen wat die eienaar vir hom gesê het, dan sal daardie slaaf baie gelukkig wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal daardie slaaf die hoof maak wat vir al die goed van sy eienaar moet sorg. Maar 'n slaaf sal miskien dink sy eienaar bly baie lank weg en sal miskien nie weer terugkom nie. En dan begin die slaaf die ander slawe slaan en hy begin eet en drink en dronk word. En eendag wanneer die slaaf dit nie verwag nie, kom die eienaar skielik terug. Dan sal die eienaar daardie slaaf baie swaar straf, hy sal hom straf soos God mense straf wat nie doen wat Hy wil hê nie. Daar is slawe wat presies weet wat hulle eienaar wil hê, maar hulle doen dit nie en hulle is nie altyd gereed nie. Die eienaar sal hierdie slawe swaar straf. Maar daar is ook slawe wat nie goed weet wat hulle eienaar wil hê nie. As hulle doen wat verkeerd is, dan sal die eienaar hulle nie swaar straf nie. 'n Eienaar wat vir 'n slaaf baie gegee het, wil baie kry wanneer hy terugkom, en as die eienaar gesê het die slaaf moet iets doen, dan wil hy hê die slaaf moet baie meer doen. Dit wil God ook van julle hê.” “Ek het gekom om vuur op die aarde te gooi, en Ek wens die vuur het al klaar begin brand. God sal My baie swaar laat kry, en Ek sal bekommerd en bang bly totdat dit gebeur het. Dink julle Ek het gekom om vrede te bring op die aarde? Nee, Ek sê vir julle: Ek het gekom, en nou twis mense met mekaar. Van nou af sal daar vyf mense in een huis wees wat twis, drie mense teen twee, en twee mense teen drie. 'n Pa sal twis met sy seun, en 'n seun sal twis met sy pa. 'n Ma sal twis met haar dogter, en 'n dogter sal twis met haar ma. 'n Skoonma sal twis met haar skoondogter, en 'n skoondogter sal twis met haar skoonma.” Toe sê Jesus ook vir die mense: “Wanneer julle 'n wolk in die weste sien, dan sê julle dadelik: ‘Dit sal reën.’ En julle is reg, dit gebeur. En wanneer julle sien die suidewind waai, dan sê julle: ‘Dit sal vandag baie warm wees.’ En dit gebeur ook so. Julle skynheiliges, julle verstaan goed wat in die natuur gebeur, maar julle verstaan nie die dinge wat nou gebeur nie. Julle weet goed wat die regte ding is om te doen. Hoekom doen julle dit nie? Wanneer iemand jou hof toe vat, en julle loop hof toe, dan moet jy alles doen wat jy kan om vrede te maak met die een wat jou hof toe vat. As jy dit nie doen nie, dan sal hy jou vat tot by die regter, en die regter sal sê die polisie moet jou in die tronk toesluit. Ek sê vir jou, jy sal nie uit die tronk uitkom nie. Jy sal eers alles moet betaal wat jy skuld.”
LUKAS 12:22-59 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie. Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere. Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge? Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges! Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie; want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het 'n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee. Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, 'n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. LAAT julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien. En as hy in die tweede of in die derde nagwaak kom, en dit so vind — gelukkig is daardie diensknegte. Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie. Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie. Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of ook vir almal? En die Here antwoord: Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind. Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word, dan sal die heer van daardie dienskneg kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom pynig en hom 'n deelgenoot maak van die ontroues. En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis. EK het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was! Maar Ek het 'n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is! Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid. Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. Die vader sal verdeeld wees teen die seun en die seun teen die vader, die moeder teen die dogter en die dogter teen die moeder, die skoonmoeder teen haar skoondogter en die skoondogter teen haar skoonmoeder. EN Hy het ook aan die skare gesê: Wanneer julle 'n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom reën! en dit gebeur ook. En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm wees! en dit gebeur. Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie? En waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie? Want terwyl jy met jou teëstander na die owerheid gaan, doen moeite op die pad om van hom los te kom; sodat hy jou nie miskien voor die regter sleep en die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en die geregsdienaar jou in die gevangenis werp nie. Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy ook die laaste oortjie betaal het nie.
LUKAS 12:22-59 Afrikaans 1983 (AFR83)
Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls. Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? As julle nie eens so 'n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge? “Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges! Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het 'n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee. “Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee. “Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle 'n beurs aan wat nie leeg raak nie, 'n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie. Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” “Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand! Julle moet wees soos mense wat vir hulle eienaar wag tot hy van die bruilof af terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. Gelukkig is die slawe vir wie die eienaar by sy koms wakker sal aantref. Dit verseker Ek julle: Hy sal hulle aan tafel laat sit, self 'n voorskoot aansit en hulle kom bedien. Gelukkig is die slawe wat hy wakker aantref, selfs al sou hy eers om middernag of met hanekraai kom. Maar dit moet julle weet: as die huiseienaar geweet het hoe laat die dief kom, sou hy hom nie in sy huis laat inbreek het nie. Ook julle moet gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n tyd wanneer julle Hom nie verwag nie.” Toe vra Petrus: “Here, is hierdie gelykenis net vir ons bedoel of vir almal?” En die Here antwoord: “Wie is eintlik die getroue en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy ander slawe sal aanstel om hulle op tyd hulle kos te gee? Dit is die man vir wie sy eienaar, by sy tuiskoms, so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy! Ek sê vir julle die waarheid: Sy eienaar sal hom aanstel oor alles wat hy besit. “Maar as die slaaf by homself sê: ‘My eienaar draai lank om te kom,’ en hy die slawe, mans en vroue, begin slaan, terwyl hy self eet en drink en dronk word, sal die eienaar van die slaaf kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur wat hy nie vooraf weet nie. Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak, en hom die lot van ontroues laat deel. “Die slaaf wat geweet het wat sy eienaar wil hê maar wat nie gereed gemaak of volgens die wil van sy eienaar gehandel het nie, sal 'n swaar straf kry. Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal 'n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.” “Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is! “Maar daar is 'n doop waarmee Ek gedoop moet word, en dit sal My heeltemal in beslag neem tot dit afgehandel is! Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid, want van nou af sal daar vyf mense in een huis onderling verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. Hulle sal verdeeld wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.” Jesus het ook vir die skare gesê: “As julle 'n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: ‘Dit gaan reën!’ en dit gebeur ook. En as die suidewind waai, sê julle: ‘Dit gaan warm word!’ en dit word warm. Huigelaars! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel. Hoe is dit dan dat julle nie weet hoe om hierdie tyd te beoordeel nie?” “Waarom maak julle nie vir julleself uit wat die regte ding is om te doen nie? “Terwyl jy saam met jou teenstander op pad is hof toe, moet jy moeite doen om die saak met hom te skik, sodat hy jou nie voor die regter sleep en die regter jou aan die polisie oorgee en die polisie jou in die tronk sit nie. Ek verseker jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”
LUKAS 12:22-59 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het toe vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Let op die kraaie: Hulle saai nie en hulle maai nie, hulle het nie 'n stoorkamer of 'n skuur nie. Tog sorg God vir hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! Wie van julle kan, deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg? As julle nie eers so 'n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die res? “Let op die wilde narsings, hoe hulle groei. Hulle swoeg nie, en hulle spin nie. Maar Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy prag was nie soos een van hulle geklee nie. En as God die gras in die veld wat vandag nog daar staan en môre in 'n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges! “Moet ook nie soek na dit wat julle moet eet of drink en daaroor besorg wees nie. Dit is immers alles dinge waarna die nasies van hierdie wêreld soek; maar julle Vader weet wat julle nodig het. Soek eerder sy •koninkryk, en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om die koninkryk aan julle te gee. Verkoop julle besittings en gee vir liefdadigheid. Maak vir julle beursies wat nie vergaan nie, 'n onuitputlike skat in die hemel, waar 'n dief nie kan bykom en geen mot kan verniel nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” “Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En wees soos mense wat vir hulle eienaar wag om van die •bruilofsfees terug te kom, sodat hulle, wanneer hy tuiskom en klop, dadelik vir hom kan oopmaak. Gelukkig is daardie slawe vir wie die eienaar wakker aantref wanneer hy terugkom. •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal sy gordel vasmaak, hulle vir ete laat aanleun en hulle kom bedien. En as hy in die tweede of derde nagwaak kom en hulle só aantref – gelukkig is daardie slawe. Maar dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het op watter tydstip die dief kom, sou hy nie by sy huis laat inbreek het nie. Wees julle ook gereed, want die •Seun van die Mens kom op 'n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.” Toe vra •Petrus: “Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons, of vir almal?” En die Here antwoord: “Wie is die betroubare en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy dienaars sal aanstel om hulle rantsoene op tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf wie se eienaar hom so aan die werk sal vind wanneer hy kom. Waarlik, Ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie slaaf in sy hart sê, ‘My heer talm om te kom’, en hy begin die dienaars en diensmeisies slaan, en begin eet en drink en dronk word, sal die eienaar van daardie slaaf op 'n dag kom wat hy nie verwag nie en op 'n uur wat hy nie weet nie. Hy sal hom middeldeur laat kap en hom laat deel in die lot van die ontroues. Daardie slaaf wat weet wat sy eienaar wil hê, en nie gereed is of gedoen het wat sy eienaar van hom verwag nie, sal swaar gestraf word. Maar die een wat dit nie weet nie, en dinge gedoen het wat straf verdien, sal net lig gestraf word. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word, en aan wie baie toevertrou is, van hom sal meer gevra word.” “Ek het gekom om 'n vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand was! Ek het 'n doop waarmee Ek gedoop moet word, en hoe swaar lê dit nie op My totdat dit afgehandel is nie! Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid, want van nou af sal vyf mense in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. “Daar sal verdeeldheid wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen haar skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.” Toe sê Hy vir die skare: “Wanneer julle 'n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik, ‘Daar kom reën!’ en dit gebeur so. En wanneer die suidewind waai, sê julle, ‘Dit gaan baie warm word!’ en dit gebeur ook. Skynheiliges, julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel, maar hoe is dit dat julle nie weet hoe om hierdie beslissende tyd te beoordeel nie?” “Hoekom kan julle nie self oordeel oor wat reg is nie? As jy saam met jou teenstander owerheid toe gaan, doen moeite om die saak onderweg met hom te skik, sodat hy jou nie voor die regter sleep, en die regter jou aan die hofbeampte oorgee, en die hofbeampte jou in die tronk gooi nie. Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste lepton betaal het nie.”
LUKAS 12:22-59 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Hy sê vir sy dissipels: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor julle lewe, wat julle sal eet nie; ook nie vir die liggaam wat julle moet aantrek nie. Die lewe is meer as vleis, en die liggaam is meer as klere. Let op die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; wat nie stoorkamer of skuur het nie; en God voed hulle. Hoeveel te meer is julle beter as die voëls? En wie van julle kan met nadenke een el by sy lengte voeg? As julle dan nie in staat is om die minste te doen nie, waarom dink julle dan aan die res? Let op die lelies hoe hulle groei: hulle swoeg nie, hulle spin nie; en tog sê Ek vir julle dat Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras wat vandag in die veld is en môre in die oond gegooi word, so beklee; hoeveel te meer sal Hy vir julle beklee, kleingelowiges? En moenie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en moenie twyfel nie. Want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. Maar soek liewer die koninkryk van God; en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moenie vrees nie, klein kuddetjie; want dit is 'n welbehae van julle Vader om aan julle die koninkryk te gee. Verkoop wat julle het, en gee aalmoese; voorsien vir julle sakke wat nie oud word nie, 'n skat in die hemel wat nie ophou nie, waar geen dief nader kom en geen mot verderf nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Laat julle lendene omgord wees en julle ligte brand; En julle hou self van manne wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof sal terugkeer; sodat as hy kom en klop, hulle dadelik vir hom kan oopmaak. Geseënd is daardie diensknegte vir wie die Here as hy kom wagtend sal vind; voorwaar Ek sê vir julle, hy sal homself omgord en hulle laat aansit en sal uitgaan en hulle bedien. En as hy in die tweede wag kom of in die derde wag kom en hulle so vind, gelukkig is daardie diensknegte. En weet dit dat as die eienaar van die huis geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie toegelaat het dat sy huis deurbreek nie. Wees dan ook gereed, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle nie dink nie. Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of selfs tot almal? En die Here het gesê: Wie is dan daardie getroue en wyse bestuurder wat sy heer oor sy huisgesin sal aanstel, om hulle op die regte tyd hulle deel van die vleis te gee? Geseënd is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, dat hy hom sal aanstel as heerser oor alles wat hy het. Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer stel sy koms uit; en sal begin om die diensknegte en diensmeisies te slaan en te eet en te drink en dronk te word; Die heer van daardie dienskneg sal kom op 'n dag dat hy na hom nie kyk nie, en op 'n uur dat hy dit nie weet nie, en hy sal hom uitsny en hom sy deel met die ongelowiges bepaal. En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en hom nie voorberei het nie en nie volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word. Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. Want aan elkeen wat baie gegee word, van hom sal veel geëis word; en aan wie die mense baie toevertrou het, van hom sal hulle des te meer vra. Ek het gekom om vuur op die aarde te stuur; en wat sal ek as dit al aangesteek is? Maar ek het 'n doop om mee gedoop te word; en hoe benoud is ek totdat dit volbring is! Sê julle dat Ek gekom het om vrede op aarde te gee? Ek sê vir jou, Nee; maar eerder verdeeldheid: Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. Die vader sal verdeeld wees teen die seun, en die seun teen die vader; die moeder teen die dogter, en die dogter teen die moeder; die skoonmoeder teen haar skoondogter, en die skoondogter teen haar skoonmoeder. En Hy sê ook vir die volk: As julle 'n wolk uit die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom 'n bui; en so is dit. En as julle die suidewind sien waai, sê julle: Daar sal hitte wees; en dit het gebeur. Geveinsdes, julle kan die aangesig van die hemel en die aarde onderskei; maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie onderskei nie? Ja, en waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie? Wanneer jy saam met jou teëstander na die magistraat gaan, soos jy op die pad is, beywer jou dat jy van hom verlos kan word; dat hy jou nie by die regter aanleer en die regter jou aan die offisier oorgee en die offisier jou in die gevangenis werp nie. Ek sê vir jou: Jy mag nie daarvandaan vertrek voordat jy die heel laaste geld betaal het nie.
LUKAS 12:22-59 Die Boodskap (DB)
Daarna het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Hou op om julle van vroeg tot laat te loop en bekommer. Julle wonder gedurig: ‘Waar gaan ons geld kry om kos te koop?’ of: ‘Hoe gaan ons geld vir klere in die hande kry?’ Dié dinge is tog nie die belangrikste in die lewe nie. Die lewe gaan oor baie meer as dit. Kyk net ’n bietjie om julle, dan sien julle wat Ek bedoel. “Kyk maar net na die voëls. Hulle het nie groot lande waar hulle hul kos aanplant nie. Daar is ook nie groot bêreplek vir kos in hulle neste nie. En tog gaan slaap hulle nooit een aand honger nie. God sorg vir hulle. Besef julle nie dat julle vir God baie meer werd is as al die voëls nie? Vir wat bekommer julle julle dan so? Dit help in elk geval niks nie. Met julle bekommernis kan julle jul lewens nie eens met ’n enkele sekonde verleng nie. Hou dadelik op daarmee! “Gaan kyk ook ’n slag na al die lelies wat buite in die veld groei. Hulle word nooit natgegooi of versorg nie. En tog groei hulle pragtig. Selfs nie eens koning Salomo met al sy rykdom en blink klere was so indrukwekkend soos een van hulle nie. As God dan die veldgras so mooi versorg, wat nog vandag daar is en môre dood is, wat sal Hy nie alles vir julle doen nie, julle spul kleingelowiges? “Ek sê weer: hou op om julle heeltyd te bekommer oor dinge soos kos en klere. En moenie so angstig wees oor alles nie. Dit is goed waaroor al die nasies van die wêreld wat nie in God glo nie hulle bekommer. Maar julle het ’n Vader in die hemel. Hy is baie lief vir julle en Hy weet presies wat julle nodig het. Al wat julle moet doen, is om heeltyd sy koninkryk eerste te stel. Leef dag en nag soos burgers van sy nuwe wêreld. En los die res vir Hom. Hy sal wel sorg dat julle alles kry wat julle elke dag nodig het. “Hou op om so bang en benoud te wees, my klein ou groepie volgelinge. Julle Vader gee verskriklik baie vir julle om. Weet julle hoe bly dit Hom gemaak het om vir julle elkeen ’n plek in sy nuwe wêreld te gee? Daarom sal Hy elke dag vir julle sorg. “Julle moet op ’n nuwe manier gaan leef. Verkoop julle besittings. Deel wat julle het met dié wat minder as julle het. Maak vir julle ’n bankrekening in die hemel oop. God self sal dit oppas. Geen dief kan daar by Hom inbreek nie. En niks word ooit oud daar nie. “Onthou, die dinge waarmee jy jou van vroeg tot laat besig hou, sê wat die belangrikste in jou lewe is. Jou lewe wys waar jy jou ‘rekening’ oopgemaak het.” “Julle moet reg leef. Laat julle lig helder in hierdie donker wêreld skyn, want die Here kan enige oomblik terugkom. Julle moet soos werkers in ’n belangrike man se huis wees wat die hele tyd wag dat hy van ’n bruilof af moet terugkeer. As hy laat in die aand aan die voordeur klop, maak hulle dadelik vir hom oop. Daardie werkers is gelukkig dat hulle nie aan die slaap geraak het nie, want die werkgewer sal daar en dan vir hulle iets te ete gee. Hy sal selfs dat hulle in sy eetkamer gaan sit terwyl hy hulle bedien. “Daardie werkgewer sal selfs nog blyer wees as hy eers in die middel van die nag by sy huis aankom en sy werkers staan steeds getrou daar by die voordeur vir hom en wag. Dan wag daar sommer ’n groot present op hulle. “Nog ’n voorbeeld: As iemand hoor dat ’n dief beplan om drie-uur in die nag by hom te kom inbreek, sal hy mos gereed wees, nie waar nie? Hy sal die dief met niks laat wegkom nie. Net so moet julle ook sorg dat julle reg is, want julle weet nie wanneer die Seun van die mens kom nie. Al wat Ek vir julle kan sê, is dat dit op ’n tydstip sal wees dat julle dit die minste verwag.” Petrus vra toe vir Jesus: “Met wie praat U nou eintlik? Net met ons dissipels, of ook met al die ander mense?” Jesus het Petrus met nog ’n verhaal geantwoord: “Dink ’n bietjie: Watter soort werker sal die eienaar van ’n fabriek die graagste aanstel om elke maand die ander werkers se lone uit te betaal? Definitief die persoon wat betroubaar is en wat altyd hard werk, of die eienaar nou daar is of nie. So ’n werker sal goed beloon word as die eienaar op ’n dag kom inspeksie doen. Uiteindelik sal hy die bestuurder oor die hele fabriek word. Maar as daardie werker vir homself sou sê: ‘Kyk, die baas is nie hier nie. Nou maak ek wat ek wil,’ wag daar groot probleme op hom. Kort voor lank begin hy dan geld steel en met die ander werkers sukkel. Hy begin ook in werkstyd drink en partytjie hou. Vir hierdie werker wag daar ’n groot verrassing. Op ’n goeie dag, as hy nog so dronk daar rondsit en die ander pla, sal die eienaar onverwags by die fabriek instap. Dit sal natuurlik gebeur wanneer hy dit die minste verwag. Maar dan gaan hy bitter swaar gestraf word. Daardie werker gaan net mooi alles verloor wat hy gehad het. “Die werker wat weet wat sy eienaar van hom verwag, maar wat hom nie daaraan steur nie en doen wat hy wil, sal bitter swaarkry op die dag dat sy eienaar terugkom. Aan die ander kant, daardie werker wat nie mooi geweet het wat sy eienaar van hom verwag nie, maar wat drooggemaak het, sal nie so swaar soos die eerste werker gestraf word nie. “So gaan dit ook in God se wêreld. Hoe meer verantwoordelikhede daar aan mense toevertrou word, hoe groter plig rus daar op hulle skouers om te doen wat God vra. Op die laaste dag sal daar van hulle groter rekenskap gevra word as van ander.” “My werk is om alles hier op aarde van hoek tot kant te kom verander. En hoe wens Ek nie dat dit al begin nie! Net soos ’n reusevuur alles aan die brand steek, kom steek Ek die hele wêreld aan die brand. Daar lê egter eers ’n groot ‘vuurdoop’ vir My voor. Eers moet Ek baie swaarkry. Dit is nie ’n lekker vooruitsig nie. “Dink julle almal gaan nou skielik in vrede met mekaar leef omdat Ek hier is? Nee, inteendeel. Van nou af gaan mense eers baklei. Selfs in dieselfde huisgesin sal mense oor My verdeeld wees. ’n Ma en haar seun sal byvoorbeeld in My glo, terwyl die pa en sy dogters weier om My te dien. Pa’s en seuns sal van nou af mekaar haat oor My. Ma’s en hulle dogters sal haaks wees om dieselfde rede; so ook ganse families. Ek gaan nog maak dat baie mense niks met mekaar te doen wil hê nie.” Jesus sê toe vir die mense wat na Hom luister: “Julle is sulke goeie weervoorspellers! As julle ’n wolk daar uit die weste sien aankom, sê julle: ‘Dit kom reën.’ En dan gebeur dit ook. En wanneer die suidewind begin waai, sê julle: ‘Nou gaan ons uitbraai van die hitte.’ En dan gebeur dit ook. “Ek verstaan julle spul skynheiliges glad nie. Julle is sulke goeie weervoorspellers. Julle kan presies sê wanneer dit gaan reën en wanneer dit warm gaan wees, maar julle kan glad nie die tyd reg lees nie. Besef julle nie hoe laat dit al op God se groot horlosie is nie? “Julle weet ook nie hoe om reg teenoor ander mense op te tree nie. Kyk net hoe dikwels beland julle in die hof. Dit is omdat julle nie bereid is om die saak voor die tyd te gaan uitpraat met mense wat julle hof toe wil vat nie. Moenie so hardkoppig wees nie. Gaan maak dinge tussen julle en ander mense reg voordat julle in die hof beland. Wie weet, later word julle skuldig bevind en dan moet julle ’n lang tyd in die tronk gaan sit.”
LUKAS 12:22-59 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus sê toe vir sy dissipels: “Daarom sê Ek vir julle, moenie julle oor die alledaagse lewe bekommer – of julle genoeg kos het om te eet of klere om te dra nie. Want die lewe bestaan uit veel meer as kos en die liggaam is veel meer as klere. Kyk na die kraaie. Hulle saai en oes nie, hulle het geen spens of skuur waarin hulle voorrade bêre nie, en tog sorg God vir hulle. En julle is baie waardevoller vir Hom as enige voëls! Kan al julle bekommernisse ’n enkele sekonde tot julle lewe toevoeg? Natuurlik nie! En as kommer nie eers sulke klein dingetjies kan regkry nie, wat is die nut van kommer oor groter dinge? “Kyk na die lelies en hoe hulle groei. Hulle werk nie en maak nie klere nie, en selfs Salomo in al sy prag was nie so mooi geklee soos hulle nie. As God só wonderlik sorg vir die blomme wat vandag hier is en môre weg is, hoeveel te meer sal Hy nie vir julle sorg nie? Julle het so min geloof! “En moenie oor kos bekommerd wees nie – oor wat om te eet en wat om te drink nie. Moenie bekommerd wees nie. Hierdie dinge domineer die gedagtes van die nasies van hierdie wêreld. Maar julle Vader ken alreeds julle behoeftes. Beywer julle allereers vir sy koningsheerskappy en Hy sal vir julle hierdie dinge nog daarby gee. “Moet dus nie bang wees nie, klein kuddetjie. Want dit maak julle Vader baie gelukkig om die koninkryk aan julle te gee. “Verkoop wat julle het, en gee vir dié wat behoeftig is. Dit sal vir julle ’n skat in die hemel opberg! En die beursies van die hemel kry nie gate in nie. Julle skat sal veilig wees – geen dief kan dit steel en geen mot dit vernietig nie. “Waar jou skat is, dáár sal jou hart en gedagtes ook wees.” “Wees geklee vir diens en goed voorberei, asof julle wag vir julle meester om terug te kom van die bruilofsfees af. Dan sal julle gereed wees om die deur oop te maak sodra hy kom en klop. Hy sal hulle wat gereed is en vir sy terugkoms sit en wag baie spesiaal behandel. Ek verseker julle, hy self sal hulle laat aansit, ’n voorskoot aantrek en hulle bedien terwyl hulle sit en eet! Hy kan in die middel van die nag kom of net voor dagbreek. Maar wanneer hy ook al kom, hy sal sy dienaars wat gereed is baie spesiaal behandel. “Weet dit: ’n Huiseienaar wat geweet het presies hoe laat ’n inbreker sou kom, sou nie toelaat dat by die huis ingebreek word nie. Julle moet altyd gereed wees, want Ek, die Seun van die Mens, sal kom wanneer dit die minste verwag word.” Petrus vra toe: “Here, is hierdie gelykenis net vir ons of vir almal?” En Jesus het geantwoord: “Ek praat met enige getroue, verstandige slaaf aan wie die meester die verantwoordelikheid opgedra het om sy huishouding te bestuur en sy gesin te voed. As die meester terugkom en sien dat die slaaf ’n goeie werk gedoen het, sal daar ’n beloning wees. Ek verseker jou, die meester sal die slaaf aanstel oor alles wat hy besit. Maar as die slaaf dink: ‘My meester sal nie binnekort terug wees nie,’ en hy begin die ander slawe verdruk en gaan hom te buite met kos en drank – wel, die meester sal onaangekondig en onverwags terugkom. Hy sal die slaaf folter en hom laat deel in die lot van die ontroues. Die slaaf sal swaar gestraf word, want alhoewel hy sy plig geken het, het hy dit nie gedoen nie. “Maar hulle wat nie bewus was dat hulle verkeerd doen nie – hulle sal net lig gestraf word. Baie word verwag van hulle aan wie baie gegee is, en nog veel meer word vereis van hulle aan wie soveel meer gegee is.” “Ek het gekom om vuur op die aarde te bring en Ek wens dat my taak al afgehandel was! Daar lê ’n vreeslike doop vir My voor, en Ek is onder ’n swaar las totdat dit volvoer is. Dink julle Ek het gekom om vrede op aarde te bring? Nee, Ek het gekom om stryd en verdeeldheid te bring! Van nou af sal gesinne oor My verdeeld wees, drie teen twee, en twee teen drie. Daar sal verdeeldheid wees tussen pa en seun, en seun en pa; tussen ma en dogter, en dogter en ma; tussen skoonma en skoondogter, en skoondogter en skoonma.” Toe het Jesus na die skare gedraai en gesê: “Wanneer julle wolke sien saampak in die weste, sê julle: ‘Hier kom ’n reënbui.’ En julle is reg. Wanneer die suidewind waai, sê julle: ‘Vandag sal skroeiwarm wees.’ En dit is so. Julle skynheiliges! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te vertolk, maar julle kan nie die huidige tyd vertolk nie. “Hoekom kan julle nie self besluit wat is reg nie? As julle saam met julle teenparty op pad hof toe is, doen moeite om ’n ooreenkoms te bereik voordat julle saak voor die regter kom, of julle kan gevonnis word en aan die polisie oorhandig word en in die tronk gestop word. En as dit gebeur, sal julle nie vrykom voordat julle die laaste sent betaal het nie.”