LUKAS 2:9-11
LUKAS 2:9-11 Bybel vir almal (ABA)
'n Engel van die Here het by hulle kom staan, en die lig van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle was baie bang. Die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, want ek bring vir julle 'n goeie boodskap. Al die mense sal baie bly wees daaroor. Vandag is julle Redder in die stad van Dawid gebore. Hy is Christus die Here.
LUKAS 2:9-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.
LUKAS 2:9-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!
LUKAS 2:9-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Engel van die Here het aan hulle verskyn, en die hemelse glans van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het geweldig groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle 'n goeie boodskap wat vir die hele volk 'n bron van groot vreugde sal wees: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here.
LUKAS 2:9-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En kyk, die Engel van die Here het oor hulle gekom, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn, en hulle was baie bevrees. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees. Want vir julle is vandag in die stad van Dawid 'n Verlosser gebore, dit is Christus die Here.
LUKAS 2:9-11 Die Boodskap (DB)
Een nag, uit die bloute, het ’n engel van die Here daar by hulle kom staan. Die Here se heerlikheid het alles om hulle helder verlig. Die skaapwagters het hulle doodgeskrik. Maar die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie. Ek het baie goeie nuus vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier. Hierdie goeie nuus is ook vir die hele volk bedoel: vandag is die Redder in die stad van Dawid gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal vrymaak. Hy is die Messias en die Here oor almal.
LUKAS 2:9-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Skielik het ’n engel van die Here aan hulle verskyn en die glans van die Here het om hulle geskyn. Hulle het vreeslik bang geword, maar die engel het hulle gerusgestel: “Moenie bang wees nie!” het hy gesê. “Ek bring vir julle goeie nuus wat groot blydskap vir almal inhou! Die Verlosser – ja, die Messias, die Here – is vannag in Betlehem, die tuisdorp van Dawid, gebore!