MATTEUS 6:6-13
MATTEUS 6:6-13 Bybel vir almal (ABA)
Maar wanneer jy bid, moet jy na jou kamer gaan. Maak dan die deur toe sodat niemand jou kan sien nie, en bid tot jou Vader. En jou Vader wat alles kan sien wat die mense nie kan sien nie, sal goed wees vir jou. Wanneer julle bid, moenie 'n klomp woorde sê en weer en weer dieselfde dinge vra nie. Mense wat nie vir God ken nie, bid so. Hulle dink hulle afgode sal luister na hulle as hulle baie woorde gebruik en lank bid. Julle moenie soos hulle bid nie. Want julle Vader weet wat julle nodig het, Hy weet dit voordat julle dit vir Hom vra. Julle moet só bid: “Ons Vader wat in die hemel is, ons bid dat al die mense u heilige Naam sal eer omdat U God is. Ons bid dat die tyd moet kom wanneer almal sal weet U is Koning. Ons bid dat al die mense op die aarde sal doen wat U wil hê hulle moet doen, soos die engele in die hemel dit doen. Gee vir ons vandag die kos wat ons vandag nodig het. En vergewe ons alles wat ons verkeerd gedoen het teen U, soos ons ook ander mense vergewe wat verkeerd gedoen het teen ons. En help ons dat niks sal gebeur wat ons sal laat sonde doen nie. Maar beskerm ons teen die duiwel.
MATTEUS 6:6-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. En as julle bid, gebruik nie 'n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word. Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra. Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
MATTEUS 6:6-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. “So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
MATTEUS 6:6-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar jy, wanneer jy bid, gaan na jou binneste kamer, maak jou deur toe en bid tot jou Vader wat in die verborgenheid is, en jou Vader wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon. “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word. Moenie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra. “Só moet julle dan bid: “Ons Vader wat in die •hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. •Amen.
MATTEUS 6:6-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, en sluit jou deur, bid tot jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. Maar wanneer julle bid, gebruik nie ydele herhalings soos die heidene doen nie, want hulle dink dat hulle verhoor sal word vanweë hulle baie woorde. Moet julle dan nie soos hulle wees nie, want julle Vader weet watter dinge julle nodig het voordat julle Hom vra. So bid julle dan: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose, want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
MATTEUS 6:6-13 Die Boodskap (DB)
“As jy bid, gaan dan na ’n stil plek toe waar niemand jou kan sien nie. Trek die deur agter jou toe en praat daar eenkant opreg met jou hemelse Vader. Hy sal sorg dat jy jou hemelse beloning kry. “Moet ook nie dieselfde rympie oor en oor sê wanneer jy bid nie. Party mense wat God nie reg ken nie, bid so. Hulle dink dat hulle Hom met ’n stortvloed woorde kan ompraat om na hulle te luister. Moenie soos hulle maak nie. Onthou: jou Vader in die hemel weet presies wat jy nodig het. Nog voordat jy bid, weet Hy al lankal wat in jou kop aangaan. “Hier is ’n voorbeeld hoe jy moet bid: Ons Vader in die hemel, laat almal op aarde groot eerbied vir u heilige Naam hê. Laat u nuwe wêreld tog gou aanbreek. Almal in die hemel doen wat U sê. Gee dat almal hier op die aarde ook doen wat U wil hê. Gee ons vandag genoeg om van te leef. Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons ander mense vergeef wat nie reg teenoor ons optree nie. Help ons om nooit te swig voor versoekings nie, en pas ons op wanneer die duiwel ons wil verlei om verkeerde dinge te doen.
MATTEUS 6:6-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wanneer jy bid, gaan na die stilste vertrek in die huis en maak die deur agter jou toe sodat jy daar in jou alleenheid tot jou Vader kan bid. En jou Vader wat alles weet, sal jou beloon. “Wanneer julle bid, moenie met woorde mors soos die ongelowiges nie. Hulle dink hulle stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word. Moenie soos hulle maak nie, want julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra! Bid dan soos volg: Ons Vader in die hemel, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel. Gee ons die porsie brood wat ons vir vandag nodig het. En vergeef ons ons sondeskuld soos ons ook óns skuldenaars vergewe het. Bewaar ons sodat ons nie aan verleiding sal toegee nie; maar bevry ons van die greep van die Bose.