MARKUS 3:13-19
MARKUS 3:13-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het toe teen die berg uitgeklim. Hy het hulle op wie sy keuse geval het, nader geroep, en hulle het na Hom gekom. Hy het toe twaalf aangestel, wat Hy ook •apostels genoem het, sodat hulle saam met Hom kon wees, en Hy hulle kon uitstuur om te preek, en hulle volmag kon hê om demone uit te dryf. Hy het hierdie twaalf aangestel: Simon, aan wie Hy die naam •Petrus gegee het, Jakobus, die seun van Sebedeus, en Johannes, die broer van Jakobus – aan hulle het Hy die naam Boanerges, dit is, ‘seuns van die donder’, gegee. Ook Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Thomas, Jakobus, seun van Alfeus, Taddeus, Simon Kananeus, en Judas Iskariot, wat Hom verraai het.
MARKUS 3:13-19 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het na die berg gegaan en Hy het die mense wat Hy daar wou hê, na Hom toe geroep. Hulle het na Hom toe gekom. Hy het twaalf manne gekies en Hy het hulle apostels genoem. Hulle moes by Hom bly. Hy wou hulle stuur sodat hulle kon gaan preek. Hy het vir hulle krag gegee om duiwels uit mense te jaag. Jesus het twaalf apostels gekies en aangestel. Hy het vir Simon die naam Petrus gegee, en Hy het vir Jakobus en Johannes, die twee seuns van Sebedeus, die naam Boanerges gegee. Dit beteken “Manne van die donderweer.” Die ander apostels was: Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die patriot, en Judas Iskariot wat later vir Jesus verraai het.
MARKUS 3:13-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy het op die berg geklim en na Hom geroep die wat Hy wou hê, en hulle het na Hom gekom. En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek en mag te hê om siektes te genees en die duiwels uit te dryf. En aan Simon het Hy die bynaam Petrus gegee; en verder Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, die broer van Jakobus — aan hulle het Hy die bynaam Boanérges gegee, dit is, seuns van die donder — en Andréas en Filippus, en Bartholoméüs en Matthéüs, en Thomas en Jakobus, die seun van Alféüs, en Thaddéüs en Simon Kananítes, en Judas Iskáriot, hy wat Hom verraai het.
MARKUS 3:13-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het teen die berg opgegaan en dié wat Hy wou hê, nader geroep, en hulle het na Hom toe gekom. Hy het toe twaalf, wat Hy apostels genoem het, aangestel om by Hom te bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek. Hulle het ook die mag ontvang om bose geeste uit te drywe. Hy het hierdie twaalf aangestel: Petrus, soos Hy Simon genoem het, Jakobus seun van Sebedeus, en Johannes die broer van Jakobus – vir hulle het Hy die bynaam Boanerges gegee, dit wil sê “manne van die donder” – Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het.
MARKUS 3:13-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy klim op die berg en roep na hom wie hy wil, en hulle het na hom gekom. En hy het twaalf bepaal dat hulle by hom moes wees, en dat hy hulle kon uitstuur om te preek, En om mag te hê om siektes te genees en duiwels uit te dryf; En Simon het hy Petrus genoem; En Jakobus, die seun van Sebedeüs, en Johannes, die broer van Jakobus; en hy het hulle Boanerges genoem, dit is die seuns van die donder. En Andreas en Filippus en Bartolomeus en Matteus en Tomas en Jakobus, die seun van Alfeüs, en Thaddeüs en Simon die Kanaäniet, En Judas Iskariot, wat hom ook verraai het, en hulle het in 'n huis ingegaan.
MARKUS 3:13-19 Die Boodskap (DB)
Later het Jesus berge se kant toe gegaan. Hy het ’n paar van sy volgelinge gekies en hulle het nader gestaan. Hy stel toe twaalf manne aan om by Hom te bly, om te stuur om die boodskap vir ander te gaan vertel en om duiwelse geeste uit mense te dryf. Hy het hulle apostels genoem. Die twaalf se name was: Simon (Jesus het hom Petrus genoem), Jakobus en Johannes, die twee seuns van Sebedeus (Jesus het hulle twee die naam Boanerges gegee, wat beteken: manne van die donder), Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus (Alfeus se seun), Taddeus, Simon die Kananeër en Judas Iskariot, wat Jesus uiteindelik sou verraai.
MARKUS 3:13-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierna het Jesus teen ’n berg opgegaan en dié na Hom toe geroep wat Hy by Hom wou hê. En hulle het na Hom toe gekom. Hy het twaalf gekies om gereeld by Hom te wees en hulle apostels genoem. Hy wou hulle stuur om te gaan preek, en om met volmag bose geeste uit te dryf. Hier volg die name van die twaalf wat Hy gekies het: Simon (Jesus het sy naam verander na Petrus), Jakobus en Johannes (die seuns van Sebedeus, maar Jesus het hulle die bynaam “Seuns van die Donder” gegee), Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus (die seun van Alfeus), Taddeus, Simon (die Yweraar), Judas Iskariot (wat Hom later uitgelewer het).