Lewe In Die WaarheidVoorbeeld
Dag 1: Waarheid in liefde bou op
"… terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op ... Julle moet op ’n nuwe, geestelike manier leer dink. Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is: iemand wat werklik reg lewe voor God en werklik aan Hom toegewy is. Daarom moet julle die leuen aflê en die waarheid teenoor mekaar praat. Ons is tog lede van dieselfde liggaam."
Efesiërs 4:15-16, 24-25 NLV
Jesus leer ons in die Skrif dat die waarheid die krag het om ons vry te maak. Sedertdien is hierdie stelling van Hom al aangehaal in howe, rolprente en ontelbare ander plekke. Dit is ‘n pragtige gedagte, maar ook ‘n kragtige waarheid. Wanneer ons die moed vind om ons geheime te bely, is daar niks wat ons terughou in ons lewens en in ons liefde nie.
Is dit nie so dat ons soveel keer in moeilike situasies geplaas word deur die mense vir wie ons lief is. Jou vriendin is dalk in ’n ongesonde patroon vasgevang. Sy gebruik jou as klankbord, want sy voel jy is die enigste persoon met wie sy daaroor kan praat. Iemand na aan jou behandel dalk ’n kelner onvriendelik en met minagting. Jou kollega is besig met ‘n sakestransaksie wat net nie heeltemal reg gedoen word nie.
Daar is min dinge so gevaarlik vir verhoudings as soos leuens. Dit veroorsaak konflik en ondermyn die wedersydse vertroue tussen gelowiges. Waar almal vir mekaar leuens vertel, is dit eenvoudig onmoontlik om gesonde verhoudings in stand te hou. Dikwels kos dit net een leuen om ’n jarelange verhouding te vernietig.
Paulus sê ons as God se familie moet altyd die waarheid met mekaar praat omdat ons saam die liggaam van Christus vorm. Wie leuens vertel, benadeel nie net die ander persoon nie, maar uiteindelik ook hulleself. Wat deur die maag opgeneem en versprei word, beïnvloed immers die hele liggaam en uiteindelik ook weer die maag as deel van dié liggaam.
Die waarheid self kan egter ook soms misbruik word om ander af te breek eerder as op te bou. Daarom maak Paulus dit baie duidelik dat die waarheid altyd op ’n liefdevolle manier gepraat moet word. Hy skryf in Efesiërs 4:15 NLV: “Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees." Liefde is waarheid. Dit maak nie saak hoe ons daarna kyk nie, sonder waarheid kan daar nie ware liefde wees nie. En sonder liefde is ons werklik niks.
Aangaande hierdie leesplan
Waarheid in liefde bou op, Waarheid in liefde genees, Om die waarheid lief te hê — Wanneer ons die moed vind om ons geheime te bely, is daar niks wat ons terughou in ons lewe en in ons liefde nie.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.mosaiek.com/