Lewe In Die WaarheidVoorbeeld

Lewe In Die Waarheid

DAG 2 VAN 5

Dag 2: Waarheid in liefde genees

"… terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op ... Julle moet op ’n nuwe, geestelike manier leer dink. Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is: iemand wat werklik reg lewe voor God en werklik aan Hom toegewy is. Daarom moet julle die leuen aflê en die waarheid teenoor mekaar praat. Ons is tog lede van dieselfde liggaam."

Efesiërs 4:15-16, 24-25 NLV

As jy die waarheid padlangs wil hoor, dan moet jy met klein kindertjies gesels.

Ek sien vriende met hul jong kind in die kerk sit en na die tyd sê ek grappenderwys vir die dogtertjie: "Hoekom praat jy so baie in die kerk met jou sussie?" Sy kyk vir my en vra: "Hoekom praat jy so lank in die kerk met die mense?"

Ons as grootmense is veels te omsigtig met die waarheid. Of dalk te polities korrek. Ons wil net nie hê ander mense moet aanstoot neem nie, veral nie diegene, wat deesdae so maklik aanstoot neem nie.

Nee, die waarheid is nie ’n seermaakmiddel nie. Dit is ‘n geneesmiddel. Daarom verwag die Here van ons om die waarheid te praat en om die waarheid met ander te deel. Nee, ons doen dit nie ongeskik nie. Ons deel dit met liefde en deernis. Die waarheid is beslis nie altyd gewild nie. Nie almal wil dit ewe graag hoor nie. Daarom gaan ons nie elke slag ’n gewildheidskompetisie wen as ons vir iemand die waarheid op die regte manier vertel nie. Maar die regte vraag is nie of dit lekker is nie — die eintlike vraag is of dit reg en nodig is. Daar waar God se waarheid seëvier, bring dit immers vryheid en herstel.

Jesus se waarheid maak nie vyande van ander mense nie. Dit skryf nooit mense af wat hiervan verskil nie. Jesus se waarheid is altyd uitnodigend. Dit vertel van God se lewende brood en water. Dit getuig van ’n goeie Herder wat die enigste pad na God toe is, en van Jesus wat self ook die waarheid is. Sy waarheid is soos strome van lewende water wat jou dors les en wat maak dat jy dit met alles in jou met ander mense wil deel.

Nee, Jesus se waarheid draai nie doekies om nie. Dit speel nie speletjies met die waarheid nie. Reg is steeds reg, en verkeerd is steeds verkeerd. Nogtans maak Jesus se waarheid nie seer nie; dit maak gesond! Dit is salf vir die wonde; dit is lig in die donker. Jesus se waarheid red en maak heel.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Lewe In Die Waarheid

Waarheid in liefde bou op, Waarheid in liefde genees, Om die waarheid lief te hê — Wanneer ons die moed vind om ons geheime te bely, is daar niks wat ons terughou in ons lewe en in ons liefde nie.

More

Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.mosaiek.com/