My Tyd - Sy TydVoorbeeld

My Tyd - Sy Tyd

DAG 2 VAN 5

Dag 2: ‘n Dreigement

Jakobus 1:17: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.”

Ek leen gereeld die volgende woorde by Prof Stephan Joubert: “Hier lê ‘n dreigement”.

Hiérdie woorde is gebruik binne die konteks van ons gawes, ons daaglikse doen en late. Dit het letterlik my lewe verander. Hoekom? Omdat ek bang was om van my Godgegewe gawes te gebruik, hoe absurd is dit? God het geskenke ín my gedeponeer en ek het dit vir veels te lank in ‘n kas toegesluit uit vrees: "wat gaan mense dink? Wie is ek om ... te doen?” Dít wat vooruit reeds deur God bepaal is, is deur my bevraagteken! Die hartseer daarvan is: hoeveel mense het ek ontneem van dít waarmee die Vader my toevertrou het en nog steeds gee? Dis soos die teksvers beaam: “volmaakte geskenke kom van Bo”.

Vir elke persoon is dit iets anders. Dalk het jy die gawe van motivering of om te skilder. Dalk kan jy iets met jou hande bou of miskien is jy ‘n uitstekende werktuigkundige en so is daar talle goeie voorbeelde.

Miskien gebruik jy wel van jou gawes, maar onder die dekmantel van vrees of skaamwees. Menigmaal sal ons ónsself verkleineer met woorde soos “ek is maar net …” of “wie sal tog na my wil luister?” So verkry die vyand die oorhand; om vir my en jou 'n blatante leuen te vertel — én ons aanvaar dit.

Die Satan is die vader van leuens en beywer hom om ons as bloedgewaste kinders van God te verkleineer en te beheer deur ons te weerhou om God se saad water te gee. Hy wil geensins sien dat jou saad groei of gebruik word nie.

Daar mág nie op jou grafsteen staan “hier lê ‘n dreigement nie”. Die koppelteken tussen gebore en dood, mag nie slegs drome wees wat saam met jou begrawe word nie.

Ek is nie meer ‘n dreigement nie. Ek dank en eer God Almagtig daarvoor, ek sal bly getuig van sy goedheid sedert Prof Stephan se woorde my behoorlik geknyp het.

Gebed: Vader, ek plaas myself en elke gawe voor U neer wat U reeds vir my as geskenk gegee het. Wys my, rig my met U eie hand sodat ek alles wat ek moet wees en doen tot eer van u Naam sal doen. Ek wil U verheerlik!

Herinner jouself, maak nóg ‘n nota, hierdie keer in groot rooi letters: “Ek is nie ‘n dreigement nie”.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

My Tyd - Sy Tyd

So dikwels gebruik ons die term “God se tyd is nie ons tyd nie” of “my tyd is in sy hande”. Ons verwys selfs na wat in die Woord staan; dat eenduisend dae vir God soos een dag is. Hierdie leesplan werp ‘n ander lig op die woord "tyd". Dalk is hierin iets van waarde en om deur ‘n ander bril na "tyd" te kyk.

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com/