Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van DaniëlVoorbeeld

Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van Daniël

DAG 11 VAN 43

Gebedsbyeenkoms wat jou jou lewe kan kos

Lees: Daniël 2:1-18

SOAP: Daniël 2:17-18

“Daarna is Daniël huis toe en het hy vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel wat aan die gang is en hulle gevra om die God van die hemel om genade te smeek oor die geheim van die droom sodat Daniël en sy vriende nie saam met die ander koninklike raadgewers doodgemaak sou word nie.”

Oordenking

Koning Nebukadnesar het aan slapeloosheid gely. Sy slaap is versteur deur 'n droom, en hy het sommige van sy wyse manne laat inroep. Hy wou egter nie vir hulle die droom vertel nie. Hy was bekommerd dat hulle eenvoudig iets sou uitdink om hom beter te laat voel, en daarom het hy besluit om hulle te toets. Die wyse manne het gereken dat dit wat die koning vra, te moeilik was. Hulle het gesê geen mens kon sy droom openbaar maak nie.

Nebukadnesar het woedend geword! Wat was die nut van wyse manne wat jou niks kan vertel nie? In sy woede het hy 'n bevel uitgestuur — maak AL die wyse manne van Babilon dood, selfs dié wat nie in die vergadering was nie.

Daniël en sy vriende is beskou as deel van die wyse manne van Babilon. Toe die hoof van die koning se lyfwag, Arjok, daar aankom, het Daniël hom gevra wat aan die gang is. Moedig het Daniël na die koning gegaan en vir hom gevra om hom tyd te gee om 'n antwoord te kry. Verbasend genoeg is aan hom meer tyd verleen.

In Daniël 1:17 sien ons dat God aan Daniël 'n besondere gawe gegee het - insig in allerhande visioene en drome. Daniël sou die gawes gebruik wat God hom gegee het om eer aan God te bring.

Daniël het sy vriende bymekaar geroep en hulle vertel wat aan die gang is. Hulle het 'n gebedsbyeenkoms begin onder die dreiging van die dood.

Raak jy paniekerig in krisistye, of bid jy? Miskien beide! Gebed is so 'n groot geskenk. Ons kan alles na die troon van genade bring (Hebreërs 4:16). Wanneer ons onthou wie God is, kalmeer ons harte gewoonlik soos ons perspektief verander.

Het jy gebedsvriende, godvresende, betroubare mense vir wie jy kan vra om vir jou te bid wanneer iets groot of klein jou hinder? Hoe goed is jy daarmee om kwesbaar te wees en vir gebede vir jouself te vra?

Is jy 'n gebedsvriend? As iemand jou om gebed nader, moenie net sê dat jy sal bid nie. Doen dit! As jy in daardie oomblik saam met hulle kan bid, nog beter. Moedig iemand vandag aan deur vir hulle te sê dat jy bid.

Gebed

God van genade en guns, ek prys U vir u onophoudelike liefde wat U oor my uitgestort het. Ek dank U vir die gawe van gebed. Mag ek vrymoedigheid hê om vir ander te bid. Here, ek bid vir dié wat my om gebed genader het. Wees genadig en versterk hulle. Mag hulle die karakter van Christus in hulle omstandighede weerspieël. Amen.

Dag 10Dag 12

Aangaande hierdie leesplan

Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van Daniël

Om as Christen in hierdie wêreld te leef, kan soms baie eensaam wees. Dit mag voel asof ons die enigstes is wat Christus getrou volg. Daniël het ook voor soortgelyke uitdagings te staan gekom. Daniël en sy vriende het gekies om God en sy weë te volg selfs al het dit ingedruis teen die wette van die land. Die boek Daniël spoor ons aan om God getrou te dien.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans