Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van DaniëlVoorbeeld

Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van Daniël

DAG 34 VAN 43

God se antwoord op gebed

Lees: Sagaria 1:7-17; Romeine 6:1-2; 1 Petrus 2:21-25

SOAP: 1 Petrus 2:24-25

"Hy self het ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees. Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die Bewaker van julle lewe."

Oordenking

Een jaar nadat Daniël herinner is aan die 70 jaar van ballingskap en begin bid het dat God medelye moet betoon, het God hierdie visioen aan die profeet Sagaria gestuur. Sagaria was onder die eerste groepe mense wat na die ballingskap na Jerusalem teruggekeer het.

Hy het 'n visioen gehad van 'n engel en vier ruiters op perde wat oor die aarde gereis het en gerapporteer het dat hulle dit in vrede gevind het. Daar was 'n gesprek tussen die engel en God, wat drie dinge oorgedra het. Eerstens; God het medelye gehad met sy mense. Tweedens; God was baie ontevrede met die nasies wat sy genade as vanselfsprekend aanvaar het. Laastens; God se mense sou terugkeer, en Hy sou hulle herbou, vertroos en bevestig. Onder sy heerskappy sou hulle weer voorspoedig wees.

Daar kan tye wees wanneer ons in die versoeking kom om te sondig en dink: "Dit maak nie saak of ek dit doen nie. God sal my vergewe!" Tog is dit 'n gevaarlike siening om te hê. Dit neem nie in ag hoe lelik sonde is en wat dit God gekos het om iets daaraan te doen nie.

God is goed, geduldig, barmhartig, en genadig. Hy bied ons gratis genade aan wanneer ons ons bekeer en Hom om vergifnis vra. Omdat Hy egter heilig en regverdig is, moet ons nooit met sonde speel nie. Soos Paulus in Romeine 6 sê: "Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem?" Die persoon wat willens en wetens aanhou sondig, het die evangelie nie verstaan nie. God vergewe nie net sy kinders nie, Hy heilig ons ook deur sy Gees wat nou in ons woon.

Niemand van ons is volmaak nie en ons sal nie volmaak wees aan hierdie kant van die ewigheid nie. Elkeen van ons is geneig om soos skape af te dwaal. God ken jou. Hy ken die ingesteldheid van jou hart. Hy het jou lief. Jesus is ons goeie herder, Hy roep ons keer op keer terug. Hy beskerm en bewaar ons, en ons is veilig in sy kudde.

Gebed

Hemelse Vader, ek is so dankbaar vir u geduld, genade, barmhartigheid en standvastige liefde. O, Here vergewe my arrogante houding wat my so dikwels in versoeking lei. Mag ek nie u genade as vanselfsprekend aanvaar nie, maar mag my hart heeltemal toegewyd aan U wees. Ek dank U vir Jesus, ons goeie herder, wat sy lewe vir my neergelê het. Ek is veilig in u tere, liefdevolle sorg. Amen.

Dag 33Dag 35

Aangaande hierdie leesplan

Leef Getrou in 'n Ongelowige Land - 'n Studie van Daniël

Om as Christen in hierdie wêreld te leef, kan soms baie eensaam wees. Dit mag voel asof ons die enigstes is wat Christus getrou volg. Daniël het ook voor soortgelyke uitdagings te staan gekom. Daniël en sy vriende het gekies om God en sy weë te volg selfs al het dit ingedruis teen die wette van die land. Die boek Daniël spoor ons aan om God getrou te dien.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans