YouVersion Logo
Search Icon

1 SAMUEL 27

27
Dawid vestig hom by die Filistyne
1Dawid dink toe by homself: “Eendag sal Saul my nog doodmaak. Dis beter dat ek vlug en by die Filistyne gaan woon. Dan sal Saul ophou om my oral in Israel te soek en ek sal veilig wees.”
2Dawid en sy 600 man het toe met hulle gesinne in Gat onder beskerming van koning Akis seun van Maok gaan woon. 3Dawid het hom in Gat gevestig met sy twee vroue, Aginoam van Jisreël en Abigajil, Nabal se weduwee uit Karmel. 4Saul het verneem dat Dawid na Gat toe gevlug het. Hy het toe opgehou om hom te agtervolg.
5Na ’n tyd sê Dawid vir Akis: “As dit vir u aanvaarbaar is, laat ons liewer in een van die dorpe woon in plaas van in die koninklike stad.” 6Akis gee hom toe die dorp Siklag, wat tot vandag aan die konings van Juda behoort. 7Dawid-hulle het ’n jaar en vier maande daar op die platteland van die Filistyne gewoon.
8Dawid en sy manne het van tyd tot tyd strooptogte op verskillende groepe uitgevoer en die Gesureërs, die Geseriete en die Amalekiete aangeval. Hulle het nog altyd die gebied van Olam af op pad na Sur in die rigting van Egipte bewoon. 9Dawid het niemand laat oorbly uit die dorpe wat hy aangeval het nie. Hy het hulle kleinvee, beeste, donkies, kamele en klere gebuit. Dan het hy teruggekeer en na Akis toe gegaan.
10Wanneer Akis vra: “Waar het jy vandag ’n strooptog uitgevoer?” antwoord Dawid: “In die suidland van Juda,” of: “In die suidland van die Jeragmeëliete,” of: “In die suidland van die Keniete.”
11Hy het niemand laat bly lewe wat na Gat toe kon kom en vertel waar hy regtig was nie. Dit het keer op keer gebeur terwyl hy tussen die Filistyne gewoon het. 12Akis het Dawid vertrou en gedink: “Teen hierdie tyd is hy sekerlik in onguns by die Israeliete. Nou sal hy hier moet bly en vir altyd my onderdaan wees.”

Currently Selected:

1 SAMUEL 27: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in