YouVersion Logo
Search Icon

OPENBARING 19

19
Die oorwinningslied van die hemelse hallelujakoor
1Hierna het ek iets gehoor soos die magtige lied van ’n groot skare in die hemel wat sing:
“Halleluja!
Die verlossing, die heerlikheid
en die krag
behoort aan ons God!
2Betroubaar en regverdig
is sy oordele,
want Hy het die oordeel voltrek
oor die groot prostituut
wat die aarde met haar
seksuele wanpraktyke
besoedel het.
Hy het die bloed van sy
diensknegte wat sy laat vloei het,
gewreek.”
3’n Tweede keer het hulle uitgeroep:
“Halleluja!
Die rook van die stad
styg boontoe vir altyd.”
4Die 24 ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval in aanbidding voor God wat op die troon sit terwyl hulle aanhou sê:
“Amen! Halleluja!”
Die bruilof van die Lam het nou aangebreek
5Van die troon se kant af het ’n stem opgeklink wat sê:
“Loof ons God,
al sy diensknegte,
dié wat Hom met ontsag bejeën,
klein en groot!”
6Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ’n baie groot skare, soos die gedruis van baie waterstrome en soos die gerammel van swaar donderweer. Hulle het aanhou uitroep:
“Halleluja!
Die Here heers as koning,
ons God, die Almagtige,
7laat ons juig en jubel
en aan Hom eer betoon,
want die tyd het aangebreek
vir die bruilof van die Lam,
en sy bruid het haarself
daarop voorberei.
8Sy is toegelaat om fyn,
helder skoon linne aan te trek.”
Die fyn linneklere is die regverdige dade van hulle wat aan God toegewy is#19:8 Grondteks van die heiliges..
9Die engel het toe vir my gesê: “Skryf: Geseënd is hulle wat na die bruilofsfees van die Lam uitgenooi is.” Hy sê toe ook aan my: “Die woorde wat van God af kom, is betroubaar.”
10Toe het ek voor sy voete neergeval om hom te aanbid. Hy sê egter vir my: “Oppas, moenie! Ek is net jou mededienskneg, en van al jou medegelowiges#19:10 Grondteks broers. wat getuienis van hulle geloof in Jesus gelewer het. Buig neer in aanbidding voor God! Die kern van die profesie is inderdaad om van Jesus te getuig.”
Die Ruiter op die wit perd se Naam is “Die Woord van God”
11Toe het ek gesien die hemel is oopgemaak. En kyk! Daar verskyn ’n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en Betroubare genoem. Hy oordeel op ’n regverdige manier en voer ook só oorlog. 12Sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Op Hom was ’n Naam geskryf wat niemand anders as net Hyself geken het nie. 13Hy het klere aangehad wat in bloed gedoop is, en sy Naam was: Die Woord van God.
14Die leërs van die hemel het Hom op wit perde gevolg. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad. 15Uit sy mond het daar toe ’n skerp swaard gekom om die nasies mee te verslaan, en Hy sal hulle soos met ’n ysterstaf beheer. Hy sal self die parskuip vir die wyn trap, dit is die wyn van die toorn en woede van God, die Almagtige. 16Op sy kleed, by die heup, was ’n Naam geskryf: “Koning van die konings en Here van die heersers.”
17Toe het ek ’n engel by die son sien staan. Hy het met ’n kragtige stem uitgeroep, en aan al die voëls wat in die middel van die hemel vlieg, gesê: “Kom, kom bymekaar vir die groot feesmaaltyd van God! 18Kom verslind die vleis van die konings en die vleis van die militêre aanvoerders, die vleis van die magtiges en die vleis van die perde en hulle ruiters, en ook die vleis van al die vry mense, slawe, klein en groot!”
19Toe het ek gesien dat die monster die konings van die aarde met hulle leërs mobiliseer om oorlog te maak teen Hom wat op die perd sit en teen sy leërmag.
20Maar die monster is gevange geneem en saam met hom ook die vals profeet wat die wondertekens ter ondersteuning van die monster gedoen het. Daarmee het hy die mense verlei wat die merkteken van die monster gedra en sy standbeeld aanbid het. Dié twee is lewendig in die vuurpoel gegooi wat met swael brand.
21Die oorblywende mense is toe om die lewe gebring met die swaard wat uitgegaan het uit die mond van Hom wat op die perd sit. Al die voëls het hulle dik gevreet aan hulle vleis.

Currently Selected:

OPENBARING 19: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in