YouVersion Logo
Search Icon

SAGARIA 12

12
Die toekomstige verlossing vir Jerusalem
1Hierdie boodskap wat gaan oor die lot van Israel kom van die Here: “So sê die Here wat die hemelkoepel oopgespan het, wat die fondamente van die aarde gelê het en wat die gees in mense gevorm het. 2Ek sal Jerusalem en Juda maak soos ’n bedwelmende drank. Jerusalem sal beleër word, en al die dorpe van Juda. 3Op daardie dag sal Ek Jerusalem ’n swaar klip maak, ’n las vir al die nasies. Nie een van die nasies wat probeer om die klip op te tel, sal ongedeerd daarvan afkom nie.
4“Op daardie dag, sê die Here, sal Ek elke perd laat skrik en elke ruiter sal waansinnig raak. Ek sal waghou oor die volk van Juda, maar Ek sal die perde van die vyand verblind. 5Die stamme van Juda sal by hulleself sê: ‘Die inwoners van Jerusalem vind hulle krag in die Here, die Almagtige, hulle God.’
6“Op daardie dag sal Ek die stamme van Juda maak soos ’n vuur onder ’n hoop hout, of soos ’n brandende fakkel tussen afgesnyde graan. Hulle sal al die naburige nasies na alle kante toe verbrand, terwyl Jerusalem veilig sal wees. 7Die Here sal die oorwinning eers aan die res van Juda gee, nog voor Jerusalem, sodat die inwoners van Jerusalem en die koninklike lyn van Dawid nie groter eer as die res van Juda ontvang nie.
8“Op dié dag sal die Here die inwoners van Jerusalem beskerm. Die swakste onder hulle sal so sterk wees soos koning Dawid! Die koninklike afstammelinge sal soos God wees, soos die engel van die Here wat voor hulle uitgaan.
9“My plan is om al die nasies wat teen Jerusalem saamtrek, te vernietig.
10“Dan sal Ek ’n gees van genade en smeekgebede uitgiet op die familie van Dawid en die inwoners van Jerusalem. Hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het en hulle sal oor hom treur soos ’n mens treur oor ’n enigste seun. Hulle sal oor hom rou soos ’n mens rou oor ’n eersgebore seun wat gesterf het. 11Die hartseer en rou op dié dag in Jerusalem sal wees soos die gehuil van Hadad-Rimmon in die Megiddovlakte.
12“Die hele Israel sal treur, elke familie afsonderlik, met die mans en vroue in verskillende groepe. Die familie van Dawid sal saam met die familie van Natan treur, 13die familie van Levi en die familie van Simi. 14Elkeen van die families wat oorleef het, sal afsonderlik treur met die mans en vroue apart van mekaar.”

Currently Selected:

SAGARIA 12: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in