YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 28

28
Agas
(Kyk ook 2 Kon 16:1-18)
1Agas was 20 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 16 jaar lank koning in Jerusalem. Sy voorvader Dawid het dinge gedoen waarvan die Here hou, maar Agas het nie gedoen soos sy voorvader Dawid nie. 2Agas het verkeerd gelewe soos die konings van Israel en hy het ook beelde laat maak van die Baäls. 3Agas het ge-offer in die Ben-Hinnom-vallei en hy het sy seuns verbrand. Hy het dinge gedoen wat die Here gehaat het. Die volke wat voorheen in die land gewoon het, het dieselfde dinge gedoen, en die Here het hulle weggejaag sodat die Israeliete in die land kon woon. 4Agas het ge-offer en hy het wierook gebrand op die offer-plekke en op die heuwels en onder elke groen boom. 5Toe het sy God die Here vir Agas laat verloor in die oorlog teen die koning van Aram. Die koning het hom oorwin en hy het baie van Agas se mense gevang en weggevat na Damaskus. Die Here het vir Agas ook laat verloor teen koning Peka van Israel. Peka het hom heeltemal oorwin. 6Peka seun van Remalja het in Juda 120 000 mense op een dag laat doodmaak, hulle was almal belangrike mense. Peka het hulle laat doodmaak omdat hulle die Here, die God van hulle voorvaders, gelos het. 7Sikri was 'n sterk man van die Efraim-stam. Hy het vir prins Maäseja doodgemaak, en ook vir Asrikam, die hoof van die paleis, en vir Elkana, die onderkoning. 8Die mense van Israel het 200 000 mense van hulle broer-volk Juda gevang en weggevat, dit was ook vroue, seuns en dogters. Hulle het ook baie goed van die Judeërs gevat en hulle het dit na die stad Samaria geneem. 9Maar daar was 'n profeet van die Here, sy naam was Oded. Hy het gaan staan voor die leër wat teruggekom het na Samaria en hy het vir hulle gesê: “Luister, die Here, die God van julle voorvaders, het julle laat wen teen Juda omdat Hy kwaad is vir hulle. Maar julle het aangehou om daardie mense te vermoor, en hulle bloed roep vir God en vra dat Hy julle moet straf. 10En nou wil julle hierdie mense van Juda en Jerusalem julle slawe en slavinne maak! Nee, julle het self al klaar baie sonde gedoen teen julle God die Here! 11Luister nou na my en bring die gevangenes terug, hulle is julle familie en julle het hulle gevang. As julle die gevangenes nie terugbring nie, dan sal die Here ook vir júlle kwaad word.”
12Party leiers van die Efraim-stam het gepraat met die manne wat teruggekom het van die oorlog. Die leiers was Asarja seun van Joganan, Berekja seun van Mesillemot, Hiskia seun van Sallum, en Amasa seun van Gadlai. Hulle het die manne gekeer wat teruggekom het 13en vir hulle gesê: “Julle moenie die gevangenes hiernatoe bring nie. Ons het al klaar baie sonde gedoen teen die Here, en julle wil dit nou nog meer maak. Die Here sal baie kwaad word vir Israel.”
14Die manne het toe die gevangenes en die goed wat hulle gevat het, gelos by die amptenare en by die volksvergadering. 15Die amptenare en die volksvergadering het manne gekies en aangestel, en die manne het die gevangenes gehelp. Party gevangenes het nie klere gehad nie, en die manne het vir hulle klere en skoene gegee, dit was van die goed wat die leër gevat en saamgebring het. Hulle het ook vir die gevangenes kos en water gegee en hulle het die gevangenes met olyf-olie ingevryf. Hulle het die gevangenes wat baie swak was, op donkies laat ry en hulle het die gevangenes gebring na Jerigo, die Palmstad, in Juda. Die gevangenes was toe terug by hulle eie volk. Daarna het die manne teruggegaan na Samaria. 16In daardie tyd het koning Agas vir die konings van Assirië gevra om hom te help. 17Die Edomiete het weer gekom en hulle het die Judeërs oorwin. Hulle het gevangenes weggevat. 18Die Filistyne het stede in die Laeveld en die Suid-land van Juda aangeval. Hulle het die stede Bet-Semes en Ajalon oorwin, en ook Gederot, Soko, Timna en die stede daar naby, en ook Gimso en die stede daar naby, en hulle het daar gaan woon. 19Dit het gebeur, want die Here wou vir Juda verneder, Hy wou dit doen omdat koning Agas van Juda verkeerd gedoen het. Koning Agas het die mense van Juda laat doen wat hulle wil en hy was baie ontrou aan die Here. 20Koning Tiglat-Pileser van Assirië het gekom, maar hy was téén Agas. Hy het Agas nóg swaarder laat kry, hy het hom nie gehelp nie. 21Ja, Agas het alles in die tempel en in die paleis gevat en ook alles wat aan die amptenare behoort het. Hy het dit vir die koning van Assirië gegee, maar dit het niks gehelp nie. 22Toe dit sleg gegaan het met Agas, het hy, hierdie koning Agas, nog meer ontrou geword aan die Here. 23Hy het offers gebring vir die gode van die mense van Damaskus wat hom oorwin het. Hy het gesê: “Die gode van die konings van Aram het daardie konings gehelp. Ek sal vir húlle offers bring, dan sal hulle my ook help.”
Maar toe Agas vir daardie gode ge-offer het, het dit met hom en al die mense van Israel nóg slegter gegaan. 24Agas het die gereedskap van die tempel bymekaargemaak en hy het dit stukkend geslaan. Hy het die deure van die tempel toegesluit en hy het vir hom altare laat maak op elke straathoek in Jerusalem. 25Hy het in elke stad van Juda offer-plekke gebou om vir ander gode offers te verbrand. Hy het die Here, die God van sy voorvaders, baie hartseer gemaak.
Agas sterf
(Kyk ook 2 Kon 16:19-20)
26Die ander dinge wat met Agas gebeur het en alles wat hy gedoen het, is geskryf in die Boek van die Konings van Juda en Israel. 27Agas het gesterf, en hulle het hom begrawe in die stad, in Jerusalem. Ja, hulle het hom nie begrawe in die grafte waar hulle die konings van Israel begrawe het nie. Sy seun Hiskia het koning geword ná hom.

Currently Selected:

2 Kronieke 28: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Video for 2 Kronieke 28