YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 33

33
Manasse
(Kyk ook 2 Kon 21:1-18)
1Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 55 jaar lank koning in Jerusalem. 2Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, dinge wat die Here gehaat het. Hy het dieselfde dinge gedoen wat die ander volke gedoen het. Die Here het daardie volke weggejaag sodat die Israeliete in die land kon woon. 3Manasse het die offer-plekke weer gebou wat sy pa Hiskia afgebreek het. Hy het altare gebou vir die Baäls en hy het gewyde pale gemaak. Manasse het gebuig vir die son en die maan en voor al die sterre in die lug en hy het hulle gedien. 4Die Here het gesê: “Ek wil altyd woon in Jerusalem,” maar Manasse het ook by die tempel altare gebou.
5Manasse het op die twee oop stukke grond by die tempel altare gebou vir die son en die maan en vir al die sterre in die lug. 6Hy het sy seuns verbrand in die Ben-Hinnom-vallei. Hy het gesê hy kan tekens sien en hy kan sê wat sal gebeur en hy kan toor. Hy het ook gesê hy kan praat met die geeste van mense wat gesterf het, en dat hy weet wat ander mense nie kan weet nie. Manasse het baie dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie en hy het die Here kwaad gemaak. 7Manasse het 'n beeld gemaak, en hy het dit in die tempel gesit. God het voorheen vir Dawid en sy seun Salomo oor daardie tempel gesê: “Ek wil altyd in hierdie tempel en in Jerusalem wees. Ek het hierdie stad gekies uit al die stede van die stamme van Israel. 8Ek sal die Israeliete nie weer laat weggaan van die land wat Ek vir hulle voorvaders gegee het nie, maar dan moet hulle seker maak dat hulle alles doen wat Ek vir hulle gesê het. Hulle moet gehoorsaam wees aan al die wette en reëls wat Ek vir Moses gegee het om vir hulle te gee. Hulle moet alles doen wat Ek besluit het.”
9Manasse het die mense van Juda en Jerusalem verlei om slegte dinge te doen. Hulle het slegter dinge gedoen as die ander volke. Die Here het daardie volke weggejaag sodat die Israeliete in die land kan woon. 10Die Here het met Manasse en sy volk gepraat, maar hulle het nie geluister nie. 11Die Here het toe die offisiere van die leër van die koning van Babel laat kom om oorlog te maak teen die mense van Juda. Die offisiere het yster-hake in Manasse se neus gesit en hulle het hom vasgebind met kettings en hom weggevat na die stad Babel. 12Dit het baie sleg begin gaan met Manasse, en toe het hy sy God die Here gesmeek en hy het homself heeltemal verneder voor die God van sy voorvaders. 13Hy het tot die Here gebid, en die Here was genadig vir hom. Die Here het gedoen wat Manasse gevra het, Hy het hom laat terugkom na Jerusalem en na sy land. Manasse het toe geweet dat dit die Here is wat God is, Hy alleen is God. 14Hierna het Manasse 'n muur buite om die Dawidstad laat bou. Hy het hierdie muur gebou van die Gihon-fontein wes in die vallei tot by die Vis-poort, en rondom die Ofel. Hy het die muur baie hoog gebou. Hy het ook offisiere laat bly in al die stede in Juda wat hoë mure gehad het. 15Manasse het die gode van die ander volke en die beeld weggevat uit die tempel en hy het al die altare laat afbreek wat hy gebou het op die tempel-berg en in Jerusalem. Hy het hulle weggegooi buite die stad. 16Hy het die altaar van die Here reggemaak en hy het daarop ete-offers en dank-offers ge-offer. Hy het gesê die mense van Juda moet die Here, die God van Israel, dien. 17Die ander mense het nog op die offer-plekke ge-offer, maar hulle het net vir hulle God die Here ge-offer. 18Die ander dinge wat met Manasse gebeur het, is geskryf in die Geskiedenisse van die Konings van Israel. Dit was Manasse se gebed tot sy God, en die woorde van die sieners wat teen hom gepraat het toe die Here, die God van Israel, hulle gestuur het. 19Sy gebed en hoe God genadig was vir hom, is geskryf in die Geskiedenisse van die Sieners. Daarin is ook geskryf van al sy sonde en dat hy ontrou was, van die offer-plekke wat hy laat bou het en die gewyde pale wat hy laat inplant het, en die beelde wat hy laat maak het voordat hy homself verneder het. 20Manasse het gesterf, en hulle het hom begrawe in sy paleis. Sy seun Amon het koning geword ná hom.
Amon
(Kyk ook 2 Kon 21:19-26)
21Amon was 22 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was twee jaar lank koning in Jerusalem. 22Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het gedoen soos sy pa Manasse in die begin gedoen het. Hy het vir die beelde ge-offer wat sy pa Manasse laat maak het en hy het die beelde gedien. 23Hy het homself ook nie verneder soos sy pa Manasse gedoen het nie. Nee, Amon het nog baie meer verkeerde dinge gedoen. 24 Amptenare van Amon het planne gemaak teen hom en hulle het hom in sy paleis vermoor. 25Die mense van die land het die amptenare doodgemaak wat vir Amon vermoor het, en toe het die mense van die land vir Josia seun van Amon koning gemaak ná hom.

Currently Selected:

2 Kronieke 33: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in