YouVersion Logo
Search Icon

2 Samuel 20

20
Seba
1Daar was 'n slegte man, sy naam was Seba. Hy was 'n seun van Bikri. Hy was van die Benjamin-stam. Hy het die ramshoring geblaas en gesê: “Ons is nie van Dawid se mense nie, ons behoort nie aan die seun van Isai nie. Ons is die mense van Israel, ons moet teruggaan na ons huise.”
2Al die manne van Israel het toe weggegaan van Dawid en hulle het saam met Seba seun van Bikri gegaan. Maar die manne van Juda het by hulle koning gebly, van die Jordaan-rivier tot in Jerusalem.
3Koning Dawid het voorheen tien byvroue in Jerusalem laat bly om die paleis op te pas. Toe hy nou by sy paleis kom, het hy die byvroue apart in 'n huis laat bly, en hy het hulle daar laat oppas. Hy het aangehou om vir hulle te sorg, maar hy het nie by hulle geslaap nie. Hulle het gebly in 'n huis wat toegesluit was en hulle het soos weduwees gelewe totdat hulle gesterf het.
4Die koning het vir Amasa gesê: “Jy moet sê al die manne van Juda moet bymekaarkom. Ek sal drie dae wag, dan moet almal hier wees, en dan moet jy ook hier wees.”
5Amasa het gegaan om die manne van Juda bymekaar te maak, maar hy het ná drie dae nog nie teruggekom nie. 6Dawid het toe vir Abisai gesê: “Seba seun van Bikri sal nou vir ons meer probleme gee as Absalom. Jý moet party van my manne neem en julle moet vir Seba volg en jaag. Hy moenie in een van die stede kom wat sterk mure het nie, want daar sal ons hom nie kan sien nie.”
7Joab en sy manne het saam met Abisai gegaan, en ook die manne wat die koning moes oppas en al die manne wat goed oorlog kon maak. Hulle het uit Jerusalem gegaan om vir Seba seun van Bikri te volg en te jaag. 8Toe hulle by die groot klip kom wat in Gibeon is, het Amasa by hulle gekom. Joab het sy oorlogklere aangehad, en hy het sy swaard bo-oor sy klere vasgebind in die leersak. Die swaard het uit die leersak geval. 9Joab het vir Amasa gesê: “Gaan dit goed, my broer?”
Joab het met sy regter-hand Amasa se baard gegryp om hom te soen. 10Amasa het nie die swaard gesien wat in Joab se linker-hand was nie, en Joab het vir Amasa in sy maag gesteek. Amasa se derms het uitgekom. Joab het net een maal gesteek, en Amasa het gesterf.
Joab en sy broer Abisai het toe vir Seba seun van Bikri gevolg en gejaag.
11Een van Joab se manne het by Amasa gestaan en gesê: “Almal wat hou van Joab en Dawid, moet saam met Joab gaan.”
12Amasa het in sy bloed gelê en rol in die middel van die pad. Elkeen wat by Amasa verbygekom het, het gaan staan. Iemand het dit gesien en hy het vir Amasa uit die pad gesleep tot in die veld. Hy het sy bo-kleed oor Amasa gegooi. 13Nadat hy vir Amasa uit die pad gesleep het, het al die manne verbygegaan om vir Seba seun van Bikri te volg en te jaag. 14Seba het die manne van al die stamme van Israel met hom saamgeneem na die stad Abel-Bet-Maäka. Al die manne van die Beker-familie het ook bymekaargekom en hulle het saam met hom gegaan. 15Joab en die ander manne het die stad aangeval van al die kante. Hulle het 'n grondwal teen die muur van die stad gebou en al die manne by Joab het begin om die muur van die stad af te breek. 16Daar was 'n slim vrou in die stad, sy het geskree: “Luister, luister na my! Sê asseblief vir Joab hy moet nader kom hiernatoe, ek wil met hom praat.”
17Toe Joab nader kom, het die vrou gevra: “Is jy Joab?”
En Joab het gesê: “Ja, ek is.”
Sy sê toe vir hom: “Luister na wat ek sê.”
En hy het gesê: “Goed, ek luister.”
18Die vrou het gesê: “Die mense het voorheen altyd gesê: ‘Vra vir iemand in die stad Abel,’ en dan het hulle geweet wat om te doen. 19Ek is een van die baie mense in die land Israel wat vrede wil hê en ek wil gehoorsaam wees aan die koning. Hoekom wil jy die mense van hierdie belangrike stad doodmaak? Dit is 'n stad wat aan die Here behoort, hoekom wil jy dit verwoes?” 20Joab het geantwoord: “Nee, ek wil glad nie die stad verwoes en sy mense doodmaak nie. 21Dit is nie wat ek wil doen nie. Maar iemand van die Efraim-berge het opstandig geword teen die koning, teen Dawid. Sy naam is Seba seun van Bikri. Gee hom vir ons, dan sal ons weggaan van die stad.”
Die vrou het vir Joab gesê: “Goed, ons sal sy kop vir jou oor die muur gooi.”
22Die vrou het na al die manne in die stad gegaan en sy het vir hulle gesê wat sy dink hulle moet doen. Hulle het toe die kop van Seba seun van Bikri afgekap en hulle het dit vir Joab gegooi. Joab het die ramshoring geblaas en hy en sy manne het weggegaan van die stad, elkeen na sy huis. Joab het teruggegaan na Jerusalem, na die koning toe.
Die amptenare van Dawid
23Joab was die hoof van die hele leër van Israel. Benaja seun van Jojada was die hoof van die manne wat die koning opgepas het. 24Adoram was die hoof van die mense wat vir die koning moes werk. Josafat seun van Agilud was die hoof van die amptenare. 25Seja was die sekretaris, en Sadok en Abjatar was die priesters. 26Ira van die stad Jaïr was ook 'n priester van Dawid.

Currently Selected:

2 Samuel 20: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in