YouVersion Logo
Search Icon

Deuteronomium 13

13
Die Israeliete mag nie ander gode dien nie
1Moses het gesê: “Miskien sal een van julle mense sê hy is 'n profeet, en 'n ander persoon sal miskien sê hy weet wat drome beteken. Iemand sal miskien vir julle 'n teken wys of 'n wonderwerk doen. 2Miskien sal die dinge gebeur wat hy gesê het toe hy die teken of die wonderwerk gedoen het, en hy sal dan sê: ‘Kom ons gaan dien ander gode,’ gode wat julle nie geken het nie. 3Dan moet julle nie luister na daardie profeet of daardie persoon wat sê hy weet wat drome beteken nie, want dan is dit julle God die Here wat vir julle toets. Julle God die Here wil weet of julle lief is vir Hom met julle hele hart. 4Julle moet altyd julle God die Here dien en eer. Julle moet Hom respekteer en doen wat sy wette sê, julle moet gehoorsaam wees aan Hom en Hom dien, julle moet lewe soos Hy wil hê. 5Maar daardie profeet of daardie persoon wat sê hy weet wat drome beteken, moet sterf, want hy wou julle opstandig maak teen julle God die Here. En Hý is die God wat julle uit die land Egipte gebring het, Hý het julle losgekoop uit die land waar julle slawe was. Daardie persoon wou hê julle moet ophou lewe soos julle God die Here vir julle gesê het. Julle moet duidelik wys dat die ander Israeliete nie saam met hom skuldig is nie.
6“Miskien sal jou eie broer of jou seun of jou dogter of jou vrou met wie jy getroud is of jou goeie vriend vir jou wil verlei. Daardie persoon sal saggies vir jou sê waar niemand anders dit kan hoor nie: ‘Kom ons gaan dien ander gode.’ Dit sal gode wees wat julle en julle voorvaders nie geken het nie, 7gode van die volke wat rondom julle is, naby of ver, oral op die aarde. 8Wanneer dit gebeur, dan moet julle nie doen wat daardie persoon wil hê nie. Julle moenie luister nie, julle moenie jammer wees vir so 'n persoon nie, julle moenie hom of haar vergewe en beskerm nie. 9Julle moet so 'n persoon doodmaak, julle móét dit doen. Iemand wat die naaste aan hom is, moet begin om hom dood te maak, en die ander mense moet help. 10Julle moet hom doodgooi met klippe, want hy het probeer om julle weg te lei van julle God die Here wat vir julle uit die land Egipte gebring het, die land waar julle slawe was. 11Al die Israeliete moet hoor wat julle gedoen het en hulle moet bang word, sodat niemand weer so 'n slegte ding daar by julle sal doen nie.
12“Miskien sal julle iets hoor in een van die stede wat julle God die Here vir julle gee om in te woon. 13Julle sal miskien hoor dat slegte mense daar by julle die mense in hulle stad wou verlei en vir hulle gesê het: ‘Kom ons gaan dien ander gode,’ gode wat julle nie geken het nie. 14Wanneer julle dit hoor, dan moet julle vra wat gebeur het en julle moet alles uitvind en seker maak. As julle sien dat dit die waarheid is, en dat so 'n slegte ding gebeur het, 15dan moet julle al die mense in die stad doodsteek met swaarde, julle moet die hele stad verwoes, niemand moet aanhou lewe nie, ook nie die diere nie. 16Julle moet al die goed opmekaar gooi op die oop stuk grond en julle moet dit verbrand. Die stad en alles in hom moet heeltemal 'n offer vir die Here wees. Daardie stad moet altyd net 'n hoop klippe wees, niemand moet die mure weer bou nie. 17Julle moenie vir julleself iets neem van die goed wat julle moet verwoes nie. As julle doen wat die Here sê, dan sal Hy ophou om kwaad te wees en Hy sal weer jammer wees vir julle, Hy sal julle baie laat word, soos Hy belowe het vir julle voorvaders. 18Want dan is julle gehoorsaam aan julle God die Here, en dan doen julle alles wat Hy wil hê, alles wat ek vandag vir julle sê. Dan doen julle dinge wat reg is vir die Here.”

Currently Selected:

Deuteronomium 13: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in