YouVersion Logo
Search Icon

Rigters 15

15
1Later, toe die mense begin koring sny, het Simson 'n bokkie geneem en na sy vrou toe teruggegaan. Hy het vir haar pa gesê: “Ek wil na my vrou toe gaan in haar kamer.”
Maar haar pa wou hom nie laat ingaan nie. 2Hy het gesê: “Ek het gedink jy wil haar nie meer hê nie, en ek het haar vir een van die mans gegee wat op die fees saam met jou was. Maar haar jonger suster is mooier as sy. Jy mag met haar trou.”
3Simson het gesê: “Ek sal die Filistyne laat swaarkry oor hierdie ding, en dit sal nie my skuld wees nie.”
4Toe het Simson 300 jakkalse gevang. Hy het elke maal twee jakkalse gevat, en hy het hulle sterte aan mekaar vasgemaak en hy het 'n fakkel tussen die sterte vasgemaak. 5Hy het al die fakkels aan die brand gesteek en die jakkalse in die koringlande van die Filistyne ingejaag. Alles het verbrand: die koring-gerwe, die koring op die land, die wingerde en die olyfbome. 6Die Filistyne het gevra: “Wie het dit gedoen?” en die mense het gesê: “Simson, die skoonseun van die man in Timna. Hy het dit gedoen omdat sy skoonpa sy vrou gegee het vir een van die mans wat saam met hom was op die fees.”
Toe gaan die Filistyne en hulle verbrand die vrou en haar pa. 7Simson het vir hulle gesê: “Julle het nou dit gedoen, daarom sal ek nie ophou voordat ek julle genoeg gestraf het nie.”
8Simson het toe baie Filistyne doodgeslaan. Daarna het hy in die berge gaan woon, in die Etam-kloof.
Simson slaan 1 000 Filistyne dood
9Die Filistyne het hulle tente gaan opslaan in die land Juda en hulle het tot by die stad Legi gekom. 10Die mense van Juda het vir die Filistyne gevra: “Hoekom wil julle oorlog maak teen ons?”
Die Filistyne het gesê: “Ons het gekom om Simson te vang. Ons wil aan hom doen wat hy aan ons gedoen het.”
11Toe het 3 000 mans van Juda na die Etam-kloof gegaan en vir Simson gesê: “Jy weet die Filistyne regeer oor ons. Hoekom het jy vir ons probleme gebring?”
Simson het vir hulle gesê: “Ek het aan die Filistyne gedoen wat hulle aan my gedoen het.”
12Hulle sê toe vir Simson: “Ons het gekom om jou vas te bind en om jou vir die Filistyne te gee.”
Simson het vir hulle gesê: “Julle moet eers belowe julle sal my nie aanval nie.”
13Hulle het gesê: “Nee, ons wil jou nie doodmaak nie, maar ons wil jou styf vasbind en jou vir die Filistyne gee.”
Hulle het hom met twee nuwe toue vasgebind en hulle het hom uit die kloof gebring. 14Toe hulle met Simson by Legi kom, het die Filistyne geskree en gekom om hom aan te val. Maar die Gees van die Here het Simson sterk gemaak. Hy het die toue maklik gebreek waarmee hulle hom vasgebind het. Die toue het so maklik gebreek soos garing wat brand en dit het afgeval van sy arms. 15Simson het die kakebeen van 'n donkie gesien en hy het dit gegryp. Die kakebeen was nog nie droog nie, want die donkie was nog nie lank dood nie. Simson het 1 000 Filistyne met die kakebeen doodgeslaan. 16Daarna het Simson gesê:
“Met die kakebeen van 'n donkie
het ek baie van hulle
opmekaar laat val,
met die kakebeen van 'n donkie
het ek 1 000 manne
doodgeslaan.”
17Toe Simson dit klaar gesê het, het hy die kakebeen weggegooi en hy het die plek “Kakebeen-hoogte” genoem. 18Hy was baie dors en hy het tot die Here gebid en gevra: “U het my, u dienaar, laat wen. Wil U nou hê ek moet sterf omdat ek nie water het nie? En wil U hê die Filistyne moet my vang, die Filistyne wat nie u mense is nie?”
19Daar was 'n gat in die rots by Legi. Die Here het die rots oopgebreek, en daar het water uitgekom. Simson het water gedrink en hy het weer sterk geword. Die fontein is nou nog daar by Legi. Die mense noem dit “Roeper-fontein.” 20Simson was 20 jaar lank 'n leier van die Israeliete in die tyd toe die Filistyne oor hulle regeer het.

Currently Selected:

Rigters 15: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in