YouVersion Logo
Search Icon

Jeremia 49

49
Die Here praat oor die Ammoniete
1Die Here praat oor die Ammoniete, Hy sê:
“Die Israeliete het seuns wat hulle goed kan erf.
Hoekom het die koning van die Ammoniete
die Gad-stam se grond gekry?
Hoekom het die Ammoniete gaan woon
in die stede van Gad?”
2Die Here sê:
“Omdat hulle dit gedoen het,
sal Ek eendag oorlog laat kom
in Rabba, die stad van die Ammoniete.
Hulle sal die ramshorings blaas.
Die stad Rabba sal 'n hoop klippe word,
'n hoop grond word waar niemand woon nie,
en die vyande sal die stede naby Rabba verbrand.
Dan sal die Israeliete die stede terugkry
wat die Ammoniete gevat het.”
Dit sê die Here.
3Mense van Gesbon, julle moet huil,
want die vyande sal julle stad verwoes,
dit sal 'n hoop klippe word.
Vroue van Rabba, julle moet skree
en vra dat iemand julle moet help.
Julle moet rouklere aantrek,
julle moet rou,
julle moet heen en weer loop
tussen die mure om die koringlande,
want die vyande vat julle koning weg
na 'n ander land,
en sy priesters en sy amptenare
moet saam met hom gaan.
4Mense van Gesbon, julle dink die valleie
en die diep stroom water sal julle beskerm.
Julle is opstandige mense,
julle dink dit sal julle help as julle baie goed het,
julle dink niemand sal julle kom aanval nie.
5Die Here praat, die Here wat oor alles regeer, sê:
“Kyk, Ek laat julle bang word vir almal
rondom julle.
Vyande sal julle wegjaag na al die kante toe,
julle sal vlug en nie agtertoe kyk nie,
en niemand sal julle bymekaarmaak nie.
6Maar later sal Ek dit weer goed laat gaan
met die Ammoniete.”
Dit sê die Here.
Die Here praat oor die Edomiete
7Die Here wat oor alles regeer, praat oor die land Edom. Hy sê:
“Is daar nie wysheid in die stad Teman nie?
Die wyse mense weet nie wat om te doen nie.
Hulle wysheid het vrot geword.
8Mense wat in Dedan woon,
julle moet vlug,
julle moet omdraai en diep wegkruip,
want Ek sal dit sleg laat gaan
met die nageslag van Esau.
Die tyd het gekom wanneer Ek
hulle sal straf.
9Wanneer ander mense julle druiwe kom pluk,
dan laat hulle party druiwetrosse oorbly.
Wanneer diewe in die nag kom,
dan steel hulle totdat hulle genoeg het.
10Maar Ek het self alles weggevat
uit die land van Esau,
Ek het die plekke oopgemaak
waar hulle wou wegkruip,
hulle kan hulleself nie meer wegsteek nie.
Esau het nie meer 'n nageslag
of broers of bure nie,
en hy lewe self nie meer nie.
11Hulle kinders het nie pa's nie,
Ek sal vir hulle sorg,
hulle weduwees moet weet
dat Ek hulle sal help.”
12Die Here sê: “Ek sal dit doen, want mense wat minder skuldig was as julle, moes die beker drink. Dink julle Ek sal sê julle is onskuldig? Ek sal dit nie doen nie, julle sal die beker moet drink, dit is seker. 13Ja, Ek het vir Myself belowe dat mense die naam van die stad Bosra sal noem wanneer hulle ander mense wil laat skrik of hulle wil spot of vervloek. Dit sal 'n droë plek word, en al die ander stede daar naby sal altyd net hope klippe wees.”
14Die Here het die nuus vir my vertel, Hy het 'n boodskapper na die volke toe gestuur en gesê:
“Julle moet bymekaarkom,
julle moet oorlog kom maak teen Edom.”
15Die Here sê vir die Edomiete:
“Kyk, Ek sal julle 'n klein volk laat word,
kleiner as die ander volke,
die mense sal dink julle is nie belangrik nie.
16Julle het julleself bedrieg,
julle het gespog en julle was hoogmoedig.
Julle het tussen die rotse
hoog in die berge gewoon
soos 'n arend wat sy nes
op die hoogste plek maak.
Maar Ek sal julle afbring van daar af.”
Dit sê die Here.
17Die Here sê: “Niemand sal in Edom woon nie. Almal wat daar verbygaan, sal skrik en fluit wanneer hulle sien wat met die land gebeur het. 18Dit sal wees soos toe Ek Sodom en Gomorra en die ander stede daar naby verwoes het. Niemand sal daar woon nie, nie een mens sal daar wil bly nie.
19“ Dit moet julle weet,
soos die diere in 'n weiveld langs 'n waterstroom
vlug wanneer 'n leeu uit die bosse
by die Jordaan-rivier kom,
so sal Ek die Edomiete skielik laat vlug uit hulle land
en Ek sal iemand kies om oor die land te regeer.
Want wie is soos Ek, en wie kan doen wat Ek doen?
Watter koning kan téén My wees en aanhou lewe?
20Daarom moet julle hoor wat die Here
besluit het oor Edom,
julle moet hoor wat Hy wil doen
met die mense van die stad Teman.
Die vyande sal hulle kinders wegsleep,
dit is seker,
hulle sal al die mense wegvat
uit die woonplek van die Edomiete,
dit is seker.
21Die aarde sal skud
wanneer die Edomiete val,
die mense by die Riet-see
sal hoor hoe skree die Edomiete.
22Soos 'n arend opvlieg en afkom
en sy vlerke oopmaak,
so sal die vyande na die stad Bosra kom.
“Daardie dag sal die soldate van Edom so bang wees soos 'n vrou wanneer haar baba gebore moet word.”
Die Here praat oor die Arameërs
23Die Here praat oor Damaskus. Hy sê:
“Die mense van die stede Hamat en Arpad
weet nie wat om te doen nie,
want hulle het slegte nuus gekry.
Hulle smelt weg, hulle gaan heen en weer
soos die branders van die see wat nie stil word nie.
24Die mense van die stad Damaskus kan niks doen nie,
hulle het omgedraai en gevlug, hulle het groot geskrik.
Hulle is so bang en hulle kry so seer
soos 'n vrou wanneer haar baba gebore moet word.
25Almal het gepraat oor die stad,
en al die mense daar was so vrolik,
maar daardie stad sal nou leeg word.”
26Daarom sê die Here wat oor alles regeer:
“Daardie dag sal die jongmanne van Damaskus
in die strate van die stad val,
en die soldate sal stil word.
27Ek sal 'n vuur aansteek
teen die muur van Damaskus,
en die mooi huise wat koning Ben-Hadad gebou het,
sal afbrand.”
Die Here praat oor die Oosmense
28Die Here praat oor die stad Kedar en oor die lande van Gasor. Koning Nebukadnesar het hulle oorwin.
Die Here sê:
“Julle moet gereedmaak en na Kedar gaan,
julle moet die Oosmense verwoes,
29julle moet hulle tente vat en hulle skape en bokke,
hulle tentdoeke en al hulle goed.
Julle moet hulle kamele wegvat
en julle moet vir die mense skree en sê:
Daar kom skrik van al die kante!
30Mense van Gasor, die Here sê
julle moet vlug,
julle moet weghardloop,
julle moet diep wegkruip,
want koning Nebukadnesar het
'n plan gemaak teen julle,
hy wil iets doen teen julle.”
31Die Here het vir Nebukadnesar gesê:
“Julle moet gereedmaak
en julle moet 'n volk gaan aanval wat dink hulle is veilig.
Hulle stede het nie poorte
wat kan toesluit nie,
en hulle woon alleen.
32Julle kan hulle kamele vat
en ook hulle baie skape en bokke.
Ek sal hierdie mense wegjaag
na al die kante toe,
hierdie mense wat die kante
van hulle koppe kaal skeer.
En Ek sal hulle laat bang word
vir almal wat daar verbyloop.”
Dit sê die Here.
33Gasor sal 'n plek wees vir jakkalse,
daar sal nooit weer mense woon nie,
nie een mens sal daar bly nie.
Die Here praat oor die mense van die land Elam
34Die profeet Jeremia het gehoor die Here praat oor die land Elam. Dit was kort nadat Sedekia koning van Juda geword het. 35Die Here wat oor alles regeer, sê:
“Ek sal die pyl en boog
van die mense van Elam breek,
Ek sal hulle beste soldate laat sterf.
36Ek sal die winde laat waai oor die Elamiete,
die winde uit die ooste, die weste,
die noorde en die suide.
Ek sal hulle wegjaag voor al hierdie winde,
Ek sal hulle wegjaag na al die kante toe,
daar sal by elke volk 'n paar Elamiete wees.
37Ek sal die Elamiete laat bang word
vir hulle vyande wat hulle wil doodmaak.
Die Elamiete sal voel hoe brand die vuur
wanneer Ek kwaad is en hulle laat swaarkry.”
Dit sê die Here. Die Here sê: “Ek stuur vyande met swaarde na die Elamiete toe totdat die Elamiete almal dood is. 38Ek sal self in Elam regeer, Ek sal hulle koning en hulle amptenare almal laat sterf.”
Dit sê die Here. 39Die Here sê ook: “Maar later sal Ek dit weer goed laat gaan met die Elamiete.”

Currently Selected:

Jeremia 49: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in