YouVersion Logo
Search Icon

Jeremia 5

5
Ek sal nou 'n volk van ver bring om julle aan te val
1Die Here sê:
“Loop in die strate van Jerusalem
en kyk op al die oop stukke grond,
kyk of julle een mens kry wat reg doen
en wat wys dat die waarheid
vir hom belangrik is.
As julle so iemand kry,
dan sal Ek die stad se sondes vergewe.
2“Hulle belowe dinge en hulle sê:
‘So seker soos die Here lewe,’
maar hulle belowe dinge
wat hulle nie sal doen nie.”
3Here, U wil kyk of hierdie mense
doen wat U wil hê.
Maar toe U hulle geslaan het,
het hulle nie seergekry nie.
Toe U hulle laat swaarkry het,
wou hulle nie luister nie.
Hulle koppe was harder as klip,
hulle wou nie verander nie,
hulle wou nie lewe soos U wil hê nie.
4En ek, ek het gedink hulle is so
omdat hulle arm mense is,
hulle is dom en hulle weet nie
wat die Here wil hê nie,
hulle weet nie dat hulle God wil hê
hulle moet reg doen nie.
5Ek het gedink ek sal
na die belangrike mense toe gaan,
want hulle weet wat die Here wil hê,
hulle weet hulle God wil hê hulle moet reg doen.
Maar ook hulle is soos beeste wat die jukke breek
en die stroppe stukkend ruk.
6Die Here sê:
“Daarom sal leeus uit die bos
en wolwe uit die woestyn hulle kom doodmaak,
luiperds sal by die stede lê en wag
en hulle sal elkeen doodbyt wat uitkom.
Dit sal gebeur omdat hulle altyd
so opstandig was teen My
en omdat hulle My verraai het.
7Jerusalem, Ek kan jou mense
nie vergewe vir hierdie dinge nie.
Hulle het weggegaan van My
en wanneer hulle dinge belowe het,
dan het hulle gesê die afgode is getuies.
Ek het hulle genoeg gegee,
hulle kon daarvan lewe,
maar toe het hulle afgode gaan dien.
Hulle het bymekaargekom
in die tempels van die afgode.
8Hulle het geword soos perde-hingste
wat vet is en merries soek:
Elkeen van hulle wil slaap by sy buurman se vrou.
9Wil julle hê Ek moet hierdie dinge nie sien nie?
Moet Ek mense wat so doen, nie straf
oor wat hulle gedoen het nie?
10Gaan verwoes die wingerde,
maar nie alles nie.
Sny af die ranke,
die mense van Israel en Juda,
want hulle is nie Myne nie.
11Ja, Israel was heeltemal ontrou aan My.”
Dit sê die Here.
12Hulle het gemaak of die Here
vir hulle niks beteken nie,
hulle het gesê: “Die Here kan niks
aan ons doen nie.
Niemand sal ons doodmaak nie,
en ons kos sal nie opraak nie.
13Die profete praat nonsens,
hulle sê dinge wat die Here nie gesê het nie.
Wat hulle sê, sal met hulleself gebeur.”
14Die Here, die God wat oor alles regeer, sê:
“Omdat hulle dit gesê het,
maak Ek nou my woorde in Jeremia se mond 'n vuur,
en Ek maak hierdie volk die hout.
Die vuur sal hulle brand, daar sal niks oorbly nie.
15Mense van Israel, Ek sal nou
'n volk van ver bring om julle aan te val,
'n volk wat lankal daar is, van lank gelede af.
Daardie volk praat 'n taal wat julle nie verstaan nie.
16Hulle soldate kan almal goed oorlog maak,
hulle pyle bring dood.
17Hulle sal julle kos op-eet
wat in julle koringlande of in julle huise is,
hulle sal julle seuns en julle dogters doodmaak,
hulle sal julle skape en bokke en beeste op-eet.
Hulle sal julle wingerde en julle vyebome verwoes,
hulle sal julle stede wat die sterk mure het,
plat slaan met hulle swaarde.
18Maar ook daardie tyd
sal Ek julle nie almal laat sterf nie.
19“Jeremia, hulle sal vra: ‘Hoekom het ons God die Here hierdie dinge aan ons gedoen?’ Jy moet dan vir hulle sê: ‘Julle het weggegaan van My en julle het gode van ander volke gedien in julle land. Net so sal julle ander konings dien in 'n land wat nie aan julle behoort nie.’
20“Julle moet praat met die nageslag van Jakob, julle moet vir die mense in die land Juda sê:
21“ ‘Luister wat ek sê, dwase volk,
julle het nie verstand nie,
julle het oë maar julle wil nie sien nie,
julle het ore maar julle wil nie hoor nie.’ ”
22Die Here sê:
“Ek het gesê die seewater mag kom
tot by die sand langs die see,
en die see het nog nooit verder gekom nie,
die branders kom nader en raas hard,
maar kan nie by die sand verbykom nie.
Is julle nie bang vir My nie?
23Nee, hierdie volk is hardkoppig
en opstandig,
hulle het weggegaan van My.
24Hulle het nie gesê:
‘Kom ons dien ons God die Here
wat die reën gee, die vroeë reën
en die laat reën op die regte tyd,
en wat ook die weke altyd weer laat kom
wanneer ons die koring moet afsny.’
25Dit is omdat julle verkeerd gedoen het,
daarom reën dit nie.
Ek het die goeie dinge weggehou
omdat julle sonde doen,
26want daar is slegte mense in my volk,
hulle vang mense
soos hulle voëls vang in vangstrikke.
27Hulle huise is vol mense
wat vir hulle geld skuld
en vir hulle moet werk.
Dit is soos 'n hok wat 'n mens vol voëls maak
wanneer jy hulle vang.
Hulle word ryk omdat hulle mense bedrieg,
28hulle word vet en blink.
Hulle is regters in die hof
wat nie reg doen aan mense nie,
hulle laat verkeerde dinge gebeur.
Die slegte mense laat weeskinders
en arm mense verloor
wanneer hulle vra dat iemand
reg moet doen aan hulle.
29Wil julle hê Ek moet hierdie dinge
nie raaksien nie?
Moet Ek mense wat so doen, nie straf
oor wat hulle gedoen het nie?”
Dit sê die Here.
30'n Vreeslike lelike ding het in die land gebeur:
31Die profete bring boodskappe
wat hulle nie by die Here gekry het nie,
die priesters regeer soos hulle wil,
en my volk hou daarvan.
Maar wat sal julle doen
wanneer die einde kom?

Currently Selected:

Jeremia 5: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in