YouVersion Logo
Search Icon

Josua 13

13
Die Here sê Josua moet die land verdeel
1Toe Josua baie oud was, het die Here vir hom gesê: “Jy is baie oud, en julle het 'n groot deel van die land nog nie oorwin en vir julleself gevat nie. 2Die deel van die land wat oorbly, is al die grond van die Filistyne en die Gesur-mense. 3Dit is 'n deel van die land Kanaän, en dit is die grond van die Sigor-rivier naby Egipte tot by die stad Ekron in die noorde. Die grond van die vyf leiers van die Filistyne wat regeer oor die stede Asdod, Askelon, Gat, Ekron en Gasa is 'n deel van die land. 4Daar is ook nog die hele land van die Kanaäniete wat begin by die stede Teman en Meara en wat aan die mense van die stad Sidon behoort. Dit is die grond tot by die stad Afek, die grond van die Amoriete begin daar. 5Daar is ook die land van die mense van die stad Gebal en die oostelike deel van die Libanon-berge, van die stad Baäl-Gad suid van Hermon-berg tot by die stad Lebo-Hamat. 6Die Sidon-mense woon in die Libanon-berge tot by die stad Misrefot-Majim. Ek sal hulle almal ook wegjaag om plek te maak vir die Israeliete. Maar jy moet lootjies trek om die land vir die Israeliete te gee, jy moet doen soos Ek vir jou gesê het. 7Jy moet nou begin en jy moet hierdie land verdeel sodat elke stam van die nege stamme en die halwe Manasse-stam sy eie grond sal kry.”
Die grond van die stamme oos van die Jordaan-rivier
8Die stamme Ruben en Gad het saam met die halwe Manasse-stam hulle grond gekry wat Moses oos van die Jordaan-rivier vir hulle gegee het. Hulle het dit gekry toe Moses, die dienaar van die Here, dit vir hulle gegee het. 9Dit is die land van die stad Aroër langs die Arnon-vallei, en die stad wat binne-in die Arnon-vallei is, en die hele Hoëveld van die stad Medeba tot by die stad Dibon, 10al die stede van koning Sihon van die Amoriete tot teen die land van die Amoriete. Sihon was die koning in Gesbon. 11Die stamme oos van die Jordaan-rivier het ook die hele land Gilead gekry en die grond van die mense van Gesur en Maäka, die hele Hermon-berg en die hele land Basan tot by die stad Salka. 12Dit was die hele land van koning Og in Basan, hy was die koning in die stede Astarot en Edreï. Og was een van die Refaïete wat nog gelewe het. Moses het hierdie mense oorwin en weggejaag. 13Maar die Israeliete het nie die mense van Gesur en Maäka weggejaag nie, hulle het aangehou om tussen die Israeliete te woon, en hulle is nou nog daar. 14Moses het nie vir die Levi-stam hulle eie grond gegee nie. Die Here het vir Moses gesê die Levi-stam moet die vuur-offers kry van die Here, die God van Israel.
Die grond van die Ruben-stam
15Moses het vir die Ruben-stam hulle eie grond gegee. 16Hulle grond was die land van die stad Aroër langs die Arnon-vallei en van die stad wat binne-in die vallei is, die hele Hoëveld by die stad Medeba, 17die stad Gesbon en al die stede daar naby op die Hoëveld. Die stede was Dibon, Bamot-Baäl, Bet-Baäl-Meon, 18Jasa, Kedemot, Mafaät, 19Kirjatajim, Sibma en Seret-Sagar op die heuwel in die vallei, 20Bet-Peor, Asdot-Pisga en Bet-Jesimot. 21Dit was al die stede op die Hoëveld, die hele land van koning Sihon van die Amoriete. Sihon was die koning in Gesbon. Moses het vir Sihon oorwin saam met die leiers van die Midianiete. Die leiers was Ewi, Rekem, Sur, Gor en Reba. Hulle was amptenare van Sihon en hulle het in die land gewoon. 22Die Israeliete het ook die waarsêer Bileam seun van Beor doodgemaak saam met ander manne wat in die oorlog gesterf het. 23Die grond van die Ruben-stam was langs die Jordaan-rivier. Dit was die grond van die families van die Ruben-stam, en dit was die stede en die dorpies daar naby.
Die grond van die Gad-stam
24Moses het vir die families in die Gad-stam hierdie grond gegee: 25Hulle land was die stad Jaser, die helfte van die land van die Ammoniete tot by die stad Aroër naby die stad Rabba. 26Hulle grond was ook van die stad Gesbon tot by die stede Ramat-Mispe en Betonim, en van die stad Maganajim tot by die stad Lo-Dabar, 27en in die Jordaan-vallei die stede Bet-Haram, Bet-Nimra, Sukkot en Safan. Dit is die deel van die land van koning Sihon van Gesbon wat oorgebly het. Dit was oos van die Jordaan-rivier tot by die Gennesaret-meer. 28Dit is die land van die families in die Gad-stam, die stede en die dorpies daar naby.
Die grond van die Manasse-stam oos van die Jordaan-rivier
29Moses het vir die families in die halwe Manasse-stam hierdie grond gegee: 30Van die stad Maganajim het hulle die hele land Basan gekry, die hele land van koning Og van Basan, al die kampe van Jaïr wat in Basan is. Dit was almal saam 60 stede. 31Die halwe Manasse-stam het ook die helfte van die land Gilead gekry, en die stede Astarot en Edreï. Og was daar die koning. Die helfte van die nageslag van Makir seun van Manasse het hierdie stede gekry. 32Dit is die land wat Moses vir die stamme oos van die Jordaan-rivier gegee het. Hy het dit gedoen in die Moab-vlakte naby die stad Jerigo. 33Hy het nie vir die Levi-stam hulle eie grond gegee nie. Hulle het die Here self, die God van Israel, gekry, die Here het dit vir hulle belowe.

Currently Selected:

Josua 13: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in