YouVersion Logo
Search Icon

Josua 15

15
Die grond van die Juda-stam
1Hulle het lootjies getrek vir die families in die Juda-stam en hulle het vir hulle die land gegee tot ver suid van die Sin-woestyn, teen die grens van Edom. 2Die suidgrens van Juda begin by die Sout-see, by die punt wat suid is 3en dan gaan die grens suid van Skerpioen-pas verby na die stad Sin. Daarna gaan die grens op na 'n plek suid van die stad Kades-Barnea en dan verder verby die stad Gesron. Daarna gaan die grens op na die stad Addar en dan draai dit na die stad Karka. 4Daarna gaan die grens verby die stad Asmona en dan saam met Egipte-spruit tot by die see. Dit is die suidgrens van Juda.
5Die oosgrens van Juda is die Sout-see tot waar die Jordaan-rivier in die see vloei.
Die noordgrens begin waar die Jordaan-rivier in die see vloei. 6Daarna gaan dit op na die stad Bet-Gogla, en dit gaan noord langs die stad Bet-Araba verby. Dan gaan die grens op na die Klip van Bohan seun van Ruben. 7Daarna gaan die grens van die Akor-vallei na die stad Debir, en dan draai dit noord na die stad Gilgal oorkant Adummim-pas, suid van die vallei. Die grens gaan dan verby na Semes-fontein en tot by Rogel-fontein. 8Dan gaan die grens op deur die Ben-Hinnom-vallei tot suid van Jebusiete-berg, dit is Jerusalem, en dan gaan dit op na die boonste punt van die berg wes van die Ben-Hinnom-vallei langs die noordekant van Spook-laagte. 9Van die boonste punt van die berg draai die grens na Neftoag-fontein, dan verder na die stede teen Efron-berg, en dan draai dit na die stad Baäla, dit is Kirjat-Jearim. 10Van Baäla draai die grens wes na Seïr-berg, en dan langs die noordekant van Jearim-berg, dit is Kesalon, en dan af na die stad Bet-Semes en verby die stad Timna. 11Die grens gaan daarna tot by die noordekant van die stad Ekron, dan draai dit na die stad Sikkaron. Dan gaan dit verby Baäla-berg na die stad Jabneël en daarna tot teen die see.
12Die wesgrens van Juda is die strand van die Groot See.
Dit is die grense van die grond van die families in die Juda-stam.
Kaleb oorwin die stede Hebron en Debir
13Josua het vir Kaleb seun van Jefunne 'n deel van die land gegee tussen die Juda-mense. Dit was die stad Hebron, hulle het die stad voorheen Kirjat-Arba genoem. Arba was die pa van Enak. Die Here het vir Josua gesê hulle moet die plek vir Kaleb gee. 14Kaleb het die Enak-mense Sesai, Agiman en Talmai weggejaag uit Hebron. Hulle was die nageslag van Enak. 15Kaleb het toe na die stad Debir gegaan, die naam van Debir was voorheen Kirjat-Sefer. 16Kaleb het gesê: “Ek sal my dogter Aksa gee vir die man wat die stad Kirjat-Sefer oorwin en wat dit vat, my dogter sal daardie man se vrou wees.”
17Otniël seun van Kenas broer van Kaleb het die stad oorwin, en Kaleb het sy dogter Aksa vir hom gegee om sy vrou te wees. 18Toe Aksa by Otniël kom, het sy gesê hy moet vir haar pa 'n stuk grond vra waar hulle kan ploeg en plant. Maar toe sy afklim van die donkie, het Kaleb vir haar gevra wat sy wil hê. 19Sy sê toe: “Jy moet vir my vrugbare grond gee. Jy het vir my die Suid-land gegee, maar nou moet jy vir my ook plekke gee waar daar water is.”
Kaleb het toe vir haar plekke gegee waar daar water was in die berge en in die valleie.
Die stede wat aan die Juda-stam behoort
20Die families in die Juda-stam het hierdie stede gekry: 21Ver in die suide langs die grens van die land Edom het hulle die stad Kabseël gekry, en ook Eder, Jagur, 22Kina, Dimona, Adada, 23Kedes, Gasor, Jitnan, 24Sif, Telem, Bealot, 25Gasor-Gadatta, Kerijot-Gesron, dit is Gasor, 26Amam, Sema, Molada, 27Gasar-Gadda, Gesmon, Bet-Pelet, 28Gasar-Sual, Berseba, Bisjoteja, 29 Baäla, Ije-Abarim, Esem, 30Eltolad, Kesil, Gorma, 31Siklag, Madmanna, Sansanna, 32Lebaot, Silgim, Ajin en Rimmon. Dit was almal saam 29 stede en die dorpies daar naby. 33In die Laeveld was daar Estaol, Sora, Asna, 34Sanoag, En-Gannim, Tappuag, Enajim, 35Jarmut, Adullam, Soko, Aseka, 36Saärajim, Aditajim, Gedera en Gederotajim. Dit was 14 stede en die dorpies daar naby. 37Hulle het ook hierdie stede gekry: Senan, Gadasa, Migdal-Gad, 38Dilan, Mispe, Jokteël, 39Lakis, Boskat, Eglon, 40Kabbon, Lagmas, Kitlis, 41Gederot, Bet-Dagon, Naäma en Makkeda. Dit was 16 stede en die dorpies daar naby. 42Die Juda-stam het ook hierdie stede gekry: Libna, Eter, Asan, 43Jiftag, Asna, Nesib, 44Keïla, Aksib en Maresa. Dit was nege stede en die dorpies daar naby. 45Die Juda-stam het ook Ekron, en die woonplekke en dorpies daar naby, gekry, 46en wes van Ekron het hulle al die stede naby Asdod, en die dorpies daar naby, gekry, 47en Asdod en die woonplekke en dorpies daar naby, en Gasa en die woonplekke en dorpies daar naby, tot teen Egipte-spruit en die strand van die Groot See. 48In die Bergland het hulle hierdie stede gekry: Samir, Jattir, Soko, 49Danna, Kirjat-Sanna, dit is Debir, 50Anab, Estemoa, Anim, 51Gosen, Golon en Gilo, elf stede en die dorpies daar naby. 52Daar was ook hierdie stede: Arab, Duma, Esan, 53Janum, Bet-Tappuag, Afeka, 54Gumta, Kirjat-Arba, dit is Hebron, en Sior. Dit was nege stede en die dorpies daar naby, en 55Maon, Karmel, Sif, Jutta, 56Jisreël, Jokdeam, Sanoag, 57Kain, Giba, Timna. Dit was tien stede en die dorpies daar naby, en 58Galgul, Bet-Sur, Gedor, 59Maärat, Bet-Anot, Eltekon. Dit was ses stede en die dorpies daar naby, en ook 60Kirjat-Baäl, dit is Kirjat-Jearim, en Rabba. Dit was twee stede en die dorpies daar naby. 61In die woestyn was daar Bet-Araba, Middin, Sekaka, 62Nibsan, Ir-Melag en En-Gedi. Dit was ses stede en die dorpies daar naby. 63Die mense van Juda kon nie die Jebusiete, die mense van Jerusalem, oorwin en wegjaag nie. Hulle woon vandag nog daar saam met die mense van Juda.

Currently Selected:

Josua 15: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in