YouVersion Logo
Search Icon

Romeine 8

8
Die Heilige Gees help gelowiges om te doen wat God wil hê
1As mense aan Christus Jesus behoort, dan straf God hulle nie. 2Mense wil altyd graag sonde doen, en sonde laat mense altyd sterf. Maar die Heilige Gees het jou vrygemaak en Hy help jou om altyd te doen wat God wil hê. Ja, die Heilige Gees laat jou waarlik lewe, jy wat aan Christus Jesus behoort. 3God self het gedoen wat sy wette nie kon doen nie, Hy het ons gered. Die wette kon dit nie doen nie omdat mense swak is. God het sy eie Seun gestuur en God het Hom 'n mens laat word, 'n mens soos die mense wat sonde doen, en God het vir Hóm gestraf. So het God die sonde gestraf wat oor die mense regeer het. 4Nou kan ons regtig doen wat die wette sê, want ons doen nie die slegte dinge wat mense graag doen nie, ons doen wat die Heilige Gees sê ons moet doen. 5Die mense wat die dinge doen wat hulle wil doen, dink altyd oor wat húlle wil doen, en wat hulle wil doen, is slegte dinge. Maar die mense wat na die Heilige Gees luister, dink altyd aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen. 6Daar is mense wat altyd dink oor die dinge wat húlle graag wil doen, slegte dinge. God sal hulle vir altyd laat sterf. Maar daar is mense wat altyd dink aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen. God sal hulle vir altyd laat lewe en Hy sal vir hulle vrede gee. 7Mense wat altyd dink aan die dinge wat húlle graag wil doen, is God se vyande. Hulle luister nie na God se wette nie, hulle kan nie. 8Die mense wat altyd doen wat húlle graag wil doen, kan nie doen wat God wil hê nie.
9Maar julle doen nie wat julle self wil doen nie, want die Heilige Gees is in julle harte en julle luister na die Heilige Gees, die Gees van God. Mense wat nie die Heilige Gees, die Gees van Christus, in hulle harte het nie, behoort nie aan Christus nie. 10Julle liggame sal sterf omdat die sonde in die wêreld gekom het. Maar nou is Christus in julle, God het julle vrygespreek en die Heilige Gees laat julle waarlik lewe. 11Jesus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe, en God se Gees woon nou in julle harte. Daarom, Christus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe en God sal eendag ook vir julle weer laat lewe, julle wie se liggame nog sal sterf, maar wat God se Gees in julle harte het.
12Vriende, ons moet reg lewe. Ons moenie die dinge doen wat mense self graag doen nie, dit is slegte dinge. 13As julle lewe soos julle self graag wil lewe, dan sal God julle vir altyd laat sterf. Maar as julle na die Heilige Gees luister en julle doen nie wat julle liggame wil hê nie, dan sal God julle vir altyd laat lewe. 14Want as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan is hulle kinders van God. 15God het vir julle die Heilige Gees gegee. Daarom is julle nie soos slawe nie, julle moenie bang wees vir God nie. Nee, God het julle aangeneem, julle is nou sy kinders, en die Heilige Gees help ons om vir God te sê “Vader.” 16Ja, die Heilige Gees help ons om baie seker te weet dat ons God se kinders is. 17Ons is God se kinders, en daarom sal God ook vir ons gee wat Hy vir ons belowe het. Ja, ons sal saam met Christus alles kry wat God gee. Maar dan moet ons saam met Christus swaarkry, sodat ons soos Christus kan wees, Christus wat Koning is.
God sal vir gelowiges iets gee wat baie wonderlik is
18Ons kry nou baie swaar, maar ek weet God sal eendag vir ons iets gee wat baie beter is. Hy sal vir ons iets gee wat baie wonderlik is, en ons sal dit sien. 19Want God het alles gemaak, en alles wag en hoop dat die dag sal kom wanneer God vir almal sal wys wie sy kinders is. 20God het alles gemaak, maar alles wat Hy gemaak het, is nou swak en sleg. Dit het nie self so geword nie, God het gesê dit moet so word. Maar alles wag 21om weer vry te word van alles wat dit swak en sleg laat word het. God sal alles verander wat Hy gemaak het, en dit sal so vry en belangrik wees soos die kinders van God. 22God het alles gemaak, en ons weet dat alles wat Hy gemaak het, nou swaarkry en sug soos 'n vrou wanneer sy 'n kind kry. 23Maar dit is nie net dit wat gebeur nie, ons self sug ook, ons wat die Heilige Gees het wat God vir ons gegee het sodat ons kan weet dat God vir ons alles sal gee wat Hy belowe het. Ja, ons wag en hoop dat God ons sal aanneem om sy kinders te wees, ons hoop dat Hy ons heeltemal vry sal maak. 24God het ons gered, daarom hoop ons dat iets met ons sal gebeur. Dit het nog nie gebeur nie. Wanneer iets met mense gebeur het, dan hoop hulle nie dat dit sal gebeur nie, want dit het klaar gebeur. 25Maar ons hoop dat daar iets met ons sal gebeur, iets wat nog nie gebeur het nie. Daarom hoop ons en hou ons aan om daarvoor te wag.
26Die Heilige Gees help ons ook wanneer ons bid. Ons kan nie bid soos God wil hê ons moet bid nie, want ons is swak, maar wanneer die Gees by God kla en sug, dan sê Hy vir God dinge wat mense nie self kan sê nie. 27God weet alles wat mense dink en Hy weet ook wat die Heilige Gees dink. God weet die Gees doen wat God wil hê, en die Gees sê vir God wat die mense bid, die mense wat aan God behoort.
God is baie lief vir die gelowiges
28Ons weet dat wanneer mense lief is vir God, dan is alles wat met hulle gebeur, goed vir hulle. God laat dit so gebeur, want Hy het lank gelede besluit om hulle te kies om aan Hom te behoort. 29God het besluit dat hulle aan Hom moet behoort, Hy het dit gedoen voordat Hy iets gemaak het. Hy het besluit hulle sal wees soos sy Seun, want God wou hê dat Christus sy belangrikste Kind moet wees, die Oudste Broer van God se baie kinders. 30Ja, God het besluit hulle moet sy kinders wees. God het ook vir hulle gesê hulle behoort aan Hom, Hy het hulle ook vrygespreek, Hy het hulle ook baie belangrik gemaak.
31Ons weet dit nou alles. Ons weet dat God by ons is, daarom is ons vir niemand bang nie. 32God het nie gekeer toe sy eie Seun swaargekry het nie, God het sy Seun gegee en Hy het sy Seun laat sterf om ons almal te red. Daarom weet ons dat God baie goed is vir ons en dat Hy nog baie ander goeie dinge vir ons sal gee. 33God het ons gekies om aan Hom te behoort. Nou kan niemand sê dat ons skuldig is nie, want God het ons vrygespreek. 34Niemand kan sê God moet ons straf nie, want Christus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe, en nou sit Hy op die belangrikste plek langs God in die hemel en Hy vra vir God om ons sonde te vergewe. 35Kan iemand keer dat Christus lief is vir ons? Nee, nooit nie! Niemand kan dit keer nie, nie wanneer ons swaarkry nie, nie wanneer ons bang is nie, nie wanneer mense ons verdruk nie, nie wanneer ons honger is nie, nie wanneer ons niks klere het nie, nie wanneer ons vyande het nie, nie wanneer mense ons wil doodmaak nie. 36Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is:
Mense hou aan om ons
dood te maak
omdat ons aan U behoort.
Hulle maak of ons slagskape is.
37God is lief vir ons, daarom wen ons altyd wanneer al hierdie slegte dinge met ons gebeur. 38-39Ek weet één ding: God is lief vir ons. Christus Jesus, ons Here, het dit vir ons gewys. Daar is niks wat God se liefde kan wegvat van ons nie, nie die dood nie, niks wat lewe nie, nie engele nie, niemand en niks wat oor die wêreld wil regeer nie, niks wat nou daar is nie, niks wat later daar sal wees nie, niks wat sterker as mense is nie, niks bokant die aarde en niks onder die aarde nie, niks en niemand nie!

Currently Selected:

Romeine 8: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in