4
1En Samuel se boodskap was tot die hele Israel gerig.
Ondergang van Eli en sy seuns
Israel het die Filistyne tegemoetgetrek vir die oorlog, en hulle het kamp opgeslaan by Eben-Haeser. Die Filistyne weer het kamp opgeslaan by Afek. 2Die Filistyne het hulle gevegslinies teen Israel opgestel, en toe die geveg uitbrei, is Israel voor die Filistyne uit verslaan. Hulle het op die gevegsterrein ongeveer vierduisend man neergevel.
3Toe die manskappe by die kamp aankom, vra die oudstes van Israel: “Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne uit verslaan? Ons moet die •verbondsark van die Here uit Silo na ons toe bring, sodat Hy tussen ons kan inkom en ons verlos uit die greep van ons vyande. ” 4Die manskappe stuur toe mense na Silo, en hulle het die verbondsark van die Here, Heerser oor alle magte, wat op die gerubs troon, van daar af gebring. Die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, was daar by die verbondsark van God.
5Die oomblik toe die verbondsark van die Here by die kamp aankom, het die hele Israel so 'n harde strydkreet aangehef dat die aarde gedreun het. 6Die Filistyne het die geluid van die strydkreet gehoor en gevra: “Wat beteken hierdie harde strydkreet in die kamp van die Hebreërs? ” Toe besef hulle dat die ark van die Here by die kamp aangekom het. 7Die Filistyne was bang, “want,” het hulle gesê, “'n god het by die kamp aangekom”. Hulle sê toe ook: “Wee ons, want so iets het nog nooit voorheen gebeur nie. 8 Wee ons! Wie sal ons red uit die hand van hierdie magtige gode? Dit is dieselfde gode wat die Egiptenare in die woestyn met allerhande plae getref het. 9Skep moed, gedra julle soos manne, Filistyne! Anders gaan julle die Hebreërs dien, soos hulle julle gedien het. Gedra julle soos manne en veg!”
10 Die Filistyne het gaan veg en Israel is verslaan. Hulle het gevlug, elkeen na sy tente toe. Dit was 'n baie groot slagting: Dertigduisend voetsoldate van Israel het geval. 11Die ark van God is weggevoer, en die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, het gesterf.
12'n Man van Benjamin het van die gevegslinies af gehardloop en dieselfde dag nog in Silo aangekom met geskeurde klere en grond op sy kop. 13Toe hy daar aankom, sit Eli juis op 'n stoel langs die pad, in afwagting op nuus, want sy hart was aan die bewe oor die ark van God. Toe die man die stad binnegaan om die nuus bekend te maak, het die hele stad om hulp geroep.
14Eli het die uitroepe gehoor en gevra: “Wat beteken hierdie geraas?” Die man het toe gou die nuus vir Eli gaan vertel. 15 Eli was agt-en-negentig jaar oud en sy oë was al star, sodat hy nie meer kon sien nie. 16Die man het vir Eli gesê: “Ek is die een wat van die gevegslinies af gekom het. Ek het pas van die gevegslinies af gevlug.” Eli vra toe: “Wat het dan gebeur, my seun?” 17Die boodskapper het geantwoord en gesê: “Israel het voor die Filistyne gevlug. Daar was nie net 'n groot slagting onder die manskappe nie, maar ook u twee seuns, Hofni en Pinehas, het gesneuwel, en die ark van God is weggevoer.”
18Die oomblik toe hy die ark van God noem, val Eli reg agteroor van sy stoel af langs die stadspoort. Sy nek het gebreek en hy het gesterf, want hy was 'n ou man en hy was swaar. Hy het Israel veertig jaar lank gerig.
19Sy skoondogter, die vrou van Pinehas, was swanger en op die punt om geboorte te gee. Toe sy die tyding kry oor die ark van God wat weggevoer is, en haar skoonvader en man wat dood is, het sy ineengekrimp en geboorte gegee, want haar geboortepyne het haar oorweldig. 20Toe sy besig was om te sterf, het die vroue wat haar bystaan, gesê: “Moenie bang wees nie, want jy het 'n seun in die wêreld gebring!” Sy het egter nie daarop geantwoord of dit ter harte geneem nie. 21Sy het die seuntjie Ikabod genoem en, met verwysing na die wegvoering van die ark van God, en na haar skoonvader en man, gesê: “Die eer is weggevoer uit Israel.” 22Sy het gesê: “Die eer is weggevoer uit Israel,” omdat die ark van God weggevoer is.