YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 35

35
Viering van die Pasga
1 Josia het in Jerusalem die Pasga vir die Here gevier. Hulle het die pasgalammers op die veertiende van die eerste maand geslag. 2Hy het die priesters vir hulle pligte laat aantree en hulle bemoedig vir die dienswerk in die huis van die Here. 3 Hy het vir die Leviete wat die hele Israel onderrig het en aan die Here gewy was, gesê: “Plaas die heilige ark in die •tempel wat Salomo, seun van Dawid, koning van Israel, gebou het. Dit moet nie meer vir julle 'n las op julle skouers wees nie. Dien nou die Here julle God en sy volk Israel. 4Hou julle in julle families en afdelings gereed, soos Dawid, koning van Israel, dit beskryf het en volgens die geskrewe opdragte van sy seun Salomo. 5Staan julle nou, elke groep van die Levitiese families, volgens die indeling in families, in die heiligdom gereed vir julle volksgenote, die gewone mense. 6Slag dan die pasgalammers. Heilig julleself en berei dit voor vir julle volksgenote deur dit te doen in ooreenstemming met die woord van die Here by monde van Moses.”
7Josia het aan die gewone mense skaap- en boklammers afgestaan, alles as •Pasgaoffer vir almal wat daar teenwoordig was, 'n getal van dertigduisend, en dan ook nog drieduisend beeste. Dit was uit die private besit van die koning. 8Sy •hoë amptenare het vrywillig aan die volk, die priesters en die Leviete offerdiere afgestaan. Gilkija, Sagaria en Jegiël, leiers in die huis van God, het vir die priesters as Pasgaoffer tweeduisend seshonderd gegee; en dan ook nog driehonderd beeste. 9Kenanja en Semaja en Netanel, sy broers, en Gasabja, Jeïel en Josabad, leiers van die Leviete, het aan die Leviete vyfduisend as Pasgaoffer afgestaan, en dan ook nog vyfhonderd beeste.
10Die dienswerk is toe gereël: Die priesters het op hulle plekke gaan staan. Die Leviete was in hulle afdelings, volgens die opdrag van die koning, 11en hulle het die pasgalammers geslag. Terwyl die Leviete slag, het die priesters die bloed wat hulle aangee, gesprinkel. 12Hulle het dit wat as brandoffer moes dien, eenkant gesit om dit aan kleiner groepe in die families van die gewone mense te gee, sodat dit vir die Here aangebied kon word, soos geskryf staan in die •boekrol van Moses. Met die beeste het hulle net so gemaak. 13Hulle het die pasgalammers volgens voorskrif oor die vuur gaargemaak, maar die •heilige gawes het hulle in potte, kastrolle en skottels gaargemaak. Hulle het dit vinnig vir die gewone mense geneem. 14Daarna het die Leviete vir hulleself en vir die priesters die Pasga gereedgemaak. Omdat die priesters, die nageslag van Aäron, tot in die nag betrokke was by die verbranding van die brandoffers en vetstukke, het die Leviete vir hulleself en vir die priesters, die nageslag van Aäron, die Pasga gereedgemaak. 15Die sangers, die nageslag van Asaf, was op hulle plek, ooreenkomstig die opdrag van Dawid, Asaf, Heman en Jedoetoen, die siener van die koning. En wat die poortwagte by elke poort betref, dit was nie vir hulle nodig om van diens af te gaan nie, want hulle stamgenote, die Leviete, het vir hulle die Pasga gereedgemaak. 16So is die hele dienswerk van die Here op daardie dag gereël om die Pasga te vier en die brandoffers op die altaar van die Here te verbrand ooreenkomstig die opdrag van die koning, Josia.
17Die Israeliete wat gedurende daardie tyd teenwoordig was, het die Pasga gevier en sewe dae lank die Fees van die Ongesuurde Brood. 18 So 'n Pasga is nie in Israel gevier sedert die tyd van Samuel, die profeet, nie. Van al die konings van Israel het nie een dit gevier soos die Pasga wat Josia, die priesters, die Leviete, die hele Juda en Israel wat daar teenwoordig was, en die inwoners van Jerusalem, gevier het nie. 19Hierdie Pasga is in die agttiende jaar van Josia se koningskap gevier.
Josia se dood
20 Ná al hierdie gebeure waartydens Josia die tempel herstel het, het Nego, koning van Egipte, opgetrek om by Karkemis aan die Eufraat oorlog te maak. Josia het uitgetrek om teen hom te staan te kom. 21Nego het boodskappers na hom gestuur om te sê: “Wat het jy teen my, koning van Juda? Dit is nie teen jou wat ek vandag optrek nie, maar teen 'n koningshuis met wie ek in oorlog verkeer. Dit is God wat gesê het ek moet gou maak. Bly jy weg van God, wat met my is, dat Hy jou nie vernietig nie!”
22Josia het egter nie van hom weggedraai nie, maar vir die geveg met hom het hy homself vermom. Hy het nie geluister na die woorde van Nego uit die mond van God nie. Hy het in die vlakte van Megiddo aangekom om te veg. 23Die boogskutters het die koning, Josia, geskiet. Die koning sê toe vir sy dienaars: “Kry my hier weg, want ek is swaar gewond!” 24Sy dienaars het hom van die strydwa afgehaal en hom op die tweede wa wat hy gehad het, vervoer. Hulle het hom na Jerusalem geneem. Hy het gesterf en is in die grafte van sy voorouers begrawe. Die hele Juda en Jerusalem het oor Josia getreur. 25Jeremia het 'n treurlied oor Josia gedig. Al die sangers en sangeresse dra dit vandag nog voor in hulle treurliedere oor Josia. Dit het 'n instelling geword in Israel. Kyk, dit is opgeteken in die Treurliedere.
26Die verdere geskiedenis van Josia en sy dade van trou, volgens wat geskryf staan in die Wet van die Here, 27sy vroeëre en latere geskiedenis, kyk, dit is opgeteken in die boekrol van die konings van Israel en Juda.

Currently Selected:

2 Kronieke 35: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in