YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 5

5
1Toe al die werk wat koning Salomo aan die huis van die Here gedoen het, afgehandel was, het Salomo die •heilige gawes van sy vader Dawid, die silwer en goud en al die ander voorwerpe, na binne geneem en dit in die skatkamers van die huis van God geplaas.
Inwyding van die tempel
2Daarna het Salomo die oudstes van Israel, al die stamhoofde, die leiers van die families van die Israeliete, in Jerusalem laat byeenkom om die •verbondsark van die Here vanuit die •Stad van Dawid, dit is Sion, op te dra. 3Al die manne van Israel het toe by die koning byeengekom in die feestyd, dit is die sewende maand. 4Toe al die oudstes van Israel aangekom het, het die priesters die ark opgetel. 5Hulle het die ark, die Tent van Ontmoeting en al die heilige voorwerpe wat in die tent was, na bo gedra – die Levitiese priesters het dit gedra. 6Koning Salomo en die hele volksvergadering van Israel, dié wat by hom saamgetrek het en saam met hom voor die ark was, het kleinvee en beeste geoffer wat vanweë hulle hoeveelheid nie getel of bereken kon word nie. 7 Die priesters het die verbondsark van die Here na sy plek geneem, na die heiligdom van die •tempel, na die •Allerheiligste, onder die vlerke van die gerubs. 8Die gerubs het hulle vlerke uitgesprei oor die plek van die ark. Die gerubs het die ark en sy draaghoute van bo af beskut. 9Die draaghoute was lank, en die punte van die draaghoute was sigbaar uit die heilige deel aan die voorkant van die heiligdom. Van buite af was dit egter nie sigbaar nie. Hulle is daar tot vandag toe. 10 Daar was niks in die ark nie, behalwe die twee kliptafels wat Moses daarin geplaas het op Horeb, toe die Here met die Israeliete 'n verbond gesluit het tydens hulle uittog uit Egipte.
11En toe die priesters uit die heiligdom gekom het – ja, al die priesters wat daar was, het hulleself geheilig, want die diensbeurte van afdelings het nie gegeld nie, 12 ook die Levitiese sangers, hulle almal, Asaf, Heman en Jedoetoen, hulle nakomelinge en stamgenote, wat in linneklere gereed gestaan het aan die oostekant van die altaar met simbale, harpe en liere, en saam met hulle honderd-en-twintig priesters wat trompette blaas – 13het die trompetblasers en die sangers soos een man ingeval om die Here met een stem te loof en te dank. Net toe hulle, onder begeleiding van trompette, simbale en ander musiekinstrumente, hulle stemme verhef en die Here begin loof met “Want Hy is goed, ja, vir ewig duur sy troue liefde,” is die tempel, die huis van die Here, gevul met 'n wolk. 14Die priesters kon vanweë die wolk nie bly staan om hulle dienswerk te doen nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van God gevul.

Currently Selected:

2 Kronieke 5: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in