YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 9

9
Koningin van Skeba
1 Toe die koningin van Skeba die berigte oor Salomo hoor, het sy gekom om Salomo met raaisels te toets in Jerusalem. Met 'n baie groot gevolg, kamele gelaai met speserye, groot hoeveelhede goud asook edelstene, het sy by Salomo aangekom. Sy het met hom gepraat oor alles wat sy op die hart gehad het. 2Salomo het vir haar verklarings gegee vir al die sake wat sy aangeroer het. Daar was geen saak vir Salomo verborge nie, geen saak waaroor hy nie vir haar 'n verklaring kon gee nie. 3 Toe die koningin van Skeba sien hoe wys Salomo is, ook die paleis wat hy gebou het, 4die kos op sy tafel, die plasing van sy amptenare, sy bediendes wat gereed staan, hulle uitrustings, sy skinkers en hulle uitrustings, en sy •brandoffers wat hy bring in die huis van die Here, het dit haar asem weggeslaan. 5Sy sê toe vir die koning: “Die berig wat ek in my land gehoor het oor u prestasies en u wysheid was werklik waar, 6maar ek het die berigte nie geglo nie, totdat ek gekom en dit met my eie oë gesien het. Kyk, die helfte is my nie vertel oor die omvang van u wysheid nie. U oortref die gerugte wat ek gehoor het. 7Hoe gelukkig is u manne, hoe gelukkig hierdie dienaars van u, hulle wat voortdurend in u diens staan, hulle wat u wysheid aanhoor. 8Die Here u God moet geprys word, Hy wat u so goedgesind is om u op die troon te plaas as koning vir die Here u God. Omdat u God Israel liefhet, en hulle altyd staande hou, het Hy u as koning oor hulle aangestel om reg en geregtigheid te laat geskied. ”
9 Sy het toe vir die koning honderd-en-twintig kikkar goud en 'n baie groot hoeveelheid speserye en edelstene gegee. Daar was nog nooit soveel speserye bymekaar soos wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie.
10Verder het die dienaars van Huram en Salomo wat goud uit Ofir gebring het, ook jenewerhout en edelstene gebring; 11en van die jenewerhout het die koning trappe gemaak vir die huis van die Here en vir die koninklike paleis, en ook liere en harpe vir die sangers. So iets is nog nooit tevore in die gebied van Juda gesien nie.
12Koning Salomo weer het vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy wou hê en waarvoor sy gevra het, meer as waarmee sy by die koning aangekom het. Daarna het sy die terugtog aangepak en na haar land gegaan, sy en haar dienaars.
Salomo se rykdom
13Die gewig van die goud wat in een jaar vir Salomo ingekom het, was seshonderd ses-en-sestig kikkar. 14Dit was afgesien van die goud wat gekom het van die handelsreisigers en wat die handelaars gebring het. Al die konings van die Arabiere en die •streekgoewerneurs van die land het telkens vir Salomo goud en silwer gebring.
15Koning Salomo het tweehonderd grootskilde gemaak met geplette goud daarop. Met seshonderd sikkel geplette goud het hy elke skild oorgetrek. 16Hy het ook driehonderd kleinskilde gemaak met geplette goud daarop. Elkeen van hierdie skilde het hy met driehonderd sikkel goud oorgetrek. Die koning het dit in die saal, genoem Bos van die Libanon, geplaas.
17Die koning het 'n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek. 18Daar was ses trappe vir die troon en 'n voetbank van goud wat aan die troon verbind was. Daar was armleunings aan elke kant van die sitplek, met twee leeus wat langs die armleunings staan. 19Twaalf leeus het daar op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. So iets is nog nooit vir enige koninkryk gemaak nie.
20Al die drinkgerei van koning Salomo was van goud, en al die toebehore in die saal, Bos van die Libanon, was van fyngoud. Daar was nie silwer nie. Dit is nie in koning Salomo se tyd as waardevol geag nie, 21want die koning het skepe gehad wat, met die dienaars van Huram daarop, na Tarsis kon vaar. Een keer in drie jaar het die handelskepe aangekom, gelaai met goud en silwer, ivoor, bobbejane en ape.
22So het koning Salomo, wat rykdom en wysheid betref, groter geword as al die konings van die aarde. 23 Al die konings van die aarde het Salomo se teenwoordigheid gereeld opgesoek om sy wysheid te hoor wat God in sy hart gegee het. 24Elkeen het sy geskenk saamgebring: artikels van silwer en goud, kledingstukke, wapens en speserye, perde en muile. Dit het jaar ná jaar gebeur.
25Salomo het vierduisend stalle vir die perde en strydwaens gehad, en die strydwabemanning was twaalfduisend. Hy het hulle in die strydwastede en by hom, die koning, in Jerusalem gehou.
26Hy het oor al die konings geheers; van die Rivier af tot in die land van die Filistyne en tot teen die grens van Egipte. 27 Die koning het silwer in Jerusalem so volop soos klippe gemaak, en sederhout so volop soos wildevyebome in die Sjefela gemaak. 28Perde is vir Salomo uit Egipte en al die ander lande ingevoer.
Salomo se dood
29 Die res van die geskiedenis van Salomo, die vroeëre en latere geskiedenis, is dit nie opgeteken in die Geskiedenis van Natan, die profeet, in die Profesie van Agija, die man uit Silo, en in die Visioen van die siener Jedi oor Jerobeam, seun van Nebat, nie? 30Salomo het in Jerusalem veertig jaar lank as koning geheers oor die hele Israel. 31Salomo het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom in die •Stad van Dawid, sy vader, begrawe. Sy seun Rehabeam het in sy plek koning geword.

Currently Selected:

2 Kronieke 9: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in