YouVersion Logo
Search Icon

2 Konings 15

15
Asarja koning van Juda
1In die sewe-en-twintigste regeringsjaar van Jerobeam, die koning van Israel, het Asarja, seun van Amasia, die koning van Juda, koning geword. 2 Hy was sestien jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee-en-vyftig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Jegolja, uit Jerusalem. 3Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, net soos sy vader Amasia gedoen het – 4 net die offerhoogtes is nie verwyder nie. Die volk het nog steeds geslag en offers verbrand by die offerhoogtes. 5 Die Here het die koning getref, en hy het 'n velsiekte gehad tot die dag van sy dood. Hy het in 'n plek van afsondering gewoon, en Jotam, die seun van die koning, was hoof van die hofhouding en het reg gespreek oor die volk van die land.
6Die verdere geskiedenis van Asarja en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? 7Asarja het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom in die Stad van Dawid by sy voorouers begrawe. Jotam, sy seun, het in sy plek koning geword.
Sagaria koning van Israel
8In die agt-en-dertigste regeringsjaar van Asarja, die koning van Juda, het Sagaria, seun van Jerobeam, koning geword oor Israel in Samaria, ses maande lank. 9Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos sy voorvaders gedoen het. Hy het nie afgewyk van die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, waarmee hy Israel laat sondig het nie. 10Sallum, seun van Jabes, het 'n komplot teen hom gesmee, hom voor die volk neergevel en doodgemaak, en in sy plek koning geword.
11Die verdere geskiedenis van Sagaria, kyk, dit is opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel. 12Dit was die vervulling van die woord van die Here wat Hy tot Jehu gespreek het: “Daar sal vir jou seuns tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.” Dit was toe so.
Sallum koning van Israel
13Sallum, seun van Jabes, het koning geword in die nege-en-dertigste regeringsjaar van Ussia, die koning van Juda. Hy het 'n maand lank in Samaria regeer. 14Menahem, seun van Gadi, het opgetrek uit Tirsa en in Samaria aangekom. Hy het Sallum, seun van Jabes, in Samaria neergevel en doodgemaak, en in sy plek koning geword.
15Die verdere geskiedenis van Sallum en die komplot wat hy gesmee het, kyk, dit is opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel. 16Menahem het in dié tyd Tifsag verwoes met alles wat daarin was, die hele gebied van Tirsa af. Omdat hulle nie vir hom oopgemaak het nie, het hy verwoesting aangerig. Al die swanger vroue het hy oopgesny.
Menahem koning van Israel
17In die nege-en-dertigste regeringsjaar van Asarja, die koning van Juda, het Menahem, seun van Gadi, koning geword oor Israel in Samaria, tien jaar lank. 18Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. In sy hele regeringstyd het hy nie afgewyk van die sondes waarmee Jerobeam, seun van Nebat, Israel laat sondig het nie.
19Pul, die koning van Assirië, het die land binnegeval. Menahem het aan Pul duisend kikkar silwer gegee, sodat hy hom sou ondersteun om sy beheer oor die koningskap te versterk. 20Menahem het die geld van Israel gevorder, van al die vermoënde manne, sodat hy dit vir die koning van Assirië kon gee – vyftig sikkel silwer van elke man. Die koning van Assirië het toe omgedraai en nie daar in die land gebly nie.
21Die verdere geskiedenis van Menahem, alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? 22Menahem het by sy voorouers gaan rus, en Pekahia, sy seun, het in sy plek koning geword.
Pekahia koning van Israel
23In die vyftigste regeringsjaar van Asarja, die koning van Juda, het Pekahia, seun van Menahem, in Samaria koning geword oor Israel, twee jaar lank. 24Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgewyk van die sondes waarmee Jerobeam, seun van Nebat, Israel laat sondig het nie. 25Peka, seun van Remalja, sy adjudant, het egter teen hom saamgesweer en hom in Samaria, in die vesting van die koninklike paleis neergevel saam met Argob en Haärje. By hom was vyftig man uit Gilead. Hy het hom doodgemaak en in sy plek koning geword.
26Die verdere geskiedenis van Pekahia, alles wat hy gedoen het, kyk, dit is opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel.
Peka koning van Israel
27In die twee-en-vyftigste regeringsjaar van Asarja, die koning van Juda, het Peka, seun van Remalja, koning geword oor Israel in Samaria, en twintig jaar lank regeer. 28Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgewyk van die sondes waarmee Jerobeam, seun van Nebat, Israel laat sondig het nie. 29 In die tyd van Peka, die koning van Israel, het Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, gekom en Ijon, Abel-Bet-Maäga, Janoag, Kedes, Gasor, Gilead en Galilea, die hele gebied van Naftali, verower, en die inwoners weggevoer na Assirië. 30Hosea, seun van Ela, het 'n komplot gesmee teen Peka, seun van Remalja, hom neergevel en doodgemaak, en in sy plek koning geword in die twintigste regeringsjaar van Jotam, seun van Ussia.
31Die verdere geskiedenis van Peka en alles wat hy gedoen het, kyk, dit is opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel.
Jotam koning van Juda
32 In die tweede regeringsjaar van Peka, seun van Remalja, die koning van Israel, het Jotam, seun van Ussia, die koning van Juda, koning geword. 33 Hy was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sestien jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Jerusa, dogter van Sadok. 34 Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, net soos sy vader Ussia gedoen het – 35 net die offerhoogtes is nie verwyder nie. Die volk het nog steeds geslag en offers verbrand by die offerhoogtes. Dit is hy wat die boonste poort van die huis van die Here gebou het.
36 Die verdere geskiedenis van Jotam, wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? 37 In daardie tyd het die Here die eerste keer vir Resin, die koning van Aram, en Peka, seun van Remalja, teen Juda uitgestuur. 38 Jotam het by sy voorouers gaan rus, en is begrawe by sy voorouers in die Stad van Dawid, sy voorvader. Agas, sy seun, het in sy plek koning geword.

Currently Selected:

2 Konings 15: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Video for 2 Konings 15