YouVersion Logo
Search Icon

2 Samuel 10

10
Oorlog teen die Ammoniete en Arameërs
1 'n Tyd daarna het die koning van die Ammoniete gesterf, en Ganun, sy seun, het in sy plek koning geword. 2Dawid sê toe: “Ek wil welwillendheid betoon teenoor Ganun, seun van Nagas, soos sy vader teenoor my welwillendheid betoon het.” Dawid stuur toe sy amptenare om met hom meegevoel te betuig oor sy vader. Toe die amptenare van Dawid in die gebied van die Ammoniete aankom, 3sê die •hoë amptenare van die Ammoniete vir Ganun, hulle heer: “Eer Dawid, volgens u mening, u vader omdat hy mense na u stuur wat meegevoel betuig? Is dit nie met die doel om inligting oor die stad in te win en dit te verken, net om dit dan te verwoes, dat Dawid sy amptenare na u gestuur het nie?”
4Ganun het toe Dawid se amptenare gevat, die helfte van hulle baarde afgeskeer, die helfte van hulle klere tot op hulle sitvlakke afgesny, en hulle toe weggestuur. 5Toe Dawid daaroor ingelig is, het hy mense gestuur om hulle te ontmoet, want die manne was verskriklik verneder. Die koning het gesê: “Bly in Jerigo totdat julle baarde weer gegroei het, en kom dan terug.”
6Toe die Ammoniete besef dat hulle hulleself veragtelik gemaak het by Dawid, het hulle 'n afvaardiging gestuur en Arameërs van Bet-Regob en Soba gehuur – twintigduisend voetsoldate – en ook die koning van Maäga met 'n duisend man en manne van Tob, twaalfduisend van hulle.
7Dawid het daarvan te hore gekom en vir Joab met die hele leër, die helde, gestuur. 8Die Ammoniete het uitgetrek en gevegslinies opgestel by die ingang van die stadspoort. Die Arameërs van Soba en Regob en die manne van Tob en Maäga was op hulle eie in die veld.
9Toe Joab sien dat daar gevegslinies voor en agter hom is, het hy uit al die keurtroepe in Israel 'n keuse gemaak en hulle teenoor die Arameërs opgestel. 10Die res van die manskappe het hy geplaas onder bevel van Abisai, sy broer, en hulle teenoor die Ammoniete opgestel. 11Hy het gesê: “As die Arameërs vir my te sterk word, moet jy my te hulp kom, en as die Ammoniete vir jou te sterk word, sal ek gaan om jou te help. 12Wees dapper en laat ons ons inspan ter wille van ons mense en die dorpe van ons God. Die Here sal doen wat goed is in sy oë.”
13Toe het Joab en die manskappe by hom nader gegaan vir die geveg teen die Arameërs, maar hulle het voor hom uit gevlug. 14Toe die Ammoniete sien dat die Arameërs vlug, het ook hulle voor Abisai uit gevlug en die stad binnegegaan. Joab het toe teruggedraai van die Ammoniete af en in Jerusalem aangekom.
15Toe die Arameërs sien dat hulle deur Israel verslaan is, het hulle hergroepeer. 16Hadad-Eser het boodskappers gestuur en die Arameërs wat anderkant die Rivier, was, laat optrek. Hulle het by Gelam aangekom met Sobag, die bevelvoerder van die leër van Hadad-Eser, op die voorpunt.
17Toe Dawid die berig kry, het hy die hele Israel byeengebring, die Jordaan oorgesteek en in Gelam aangekom. Die Arameërs het gevegslinies opgestel teenoor Dawid en teen hom geveg. 18Maar die Arameërs het voor Israel op die vlug geslaan. Dawid het van die Arameërs sewehonderd trekperde en veertig afdelings van die strydwabemanning doodgemaak. Sobag, die bevelvoerder van sy leër, het hy neergevel, en hy het daar gesterf. 19Toe al die konings wat aan Hadad-Eser onderdanig was, sien dat hulle deur Israel verslaan is, het hulle met die Israeliete vrede gesluit en was aan hulle onderdanig. Die Arameërs was toe bang om die Ammoniete weer te help.

Currently Selected:

2 Samuel 10: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in