YouVersion Logo
Search Icon

Handelinge 27

27
Paulus se reis na Rome
1Toe daar besluit is dat ons na Italië moes vaar, het hulle Paulus en 'n paar ander gevangenes uitgelewer aan 'n centurio van die keiserlike kohort soldate met die naam Julius. 2Ons het aan boord gegaan van 'n skip uit Adramittium wat gereed was om na plekke langs die kus van Asië te vaar, en toe weggeseil. Aristargus, 'n Macedoniër uit Thessalonika, was saam met ons. 3Die volgende dag het ons by Sidon anker gegooi, en Julius het heel welwillend teenoor Paulus opgetree en hom toegelaat om na sy vriende te gaan en om hulle sorg te geniet. 4Van daar af het ons weggeseil, en omdat die wind teen ons was, het ons aan die beskutte kant van Ciprus verbygevaar. 5Nadat ons die oop see langs Silisië en Pamfilië oorgesteek het, het ons by Mira in Lisië aangekom. 6Daar het die centurio 'n skip uit Aleksandrië gevind wat na Italië vaar, en ons aan boord laat gaan. 7Vir 'n hele paar dae het ons maar stadig gevaar, en met moeite naby Knidus gekom. Omdat die wind ons nie toegelaat het nie, het ons aan die beskutte kant van Kreta, by Salmone, verbygevaar. 8Nadat ons met moeite daarlangs verby beweeg het, het ons aangekom by 'n plek bekend as Mooi Hawens, wat naby die stad Lasea was.
9 Aangesien heelwat tyd al verloop het, en dit gevaarlik geword het om te vaar – die Vasdag was immers reeds verby – het Paulus hulle gewaarsku 10 deur vir hulle te sê: “Manne, ek sien dat die vaart skade en groot verlies sal meebring, nie alleen aan die vrag en die skip nie, maar ook aan ons eie lewens.” 11Maar die centurio het meer waarde geheg aan die stuurman en die skeepseienaar se oordeel as aan Paulus se woorde. 12Omdat die hawe nie geskik was vir oorwintering nie, het die meerderheid besluit om daarvandaan uit te vaar en om, indien moontlik, Feniks te bereik – 'n hawe in Kreta met 'n uitkyk op die suidweste en die noordweste – en daar te oorwinter.
Storm op see
13Toe 'n ligte suidewind begin waai, het hulle gedink hulle kon hulle voorneme uitvoer. Hulle het die anker gelig en al langs die kus van Kreta verby beweeg. 14Maar dit was nie lank nie, of daar swiep van die land af 'n stormwind neer wat as die Eurakilon bekend staan. 15Omdat die skip meegesleur is en nie in staat was om teen die wind in te beur nie, het ons ons daaraan oorgegee en weggedryf. 16Toe ons aan die beskutte kant van 'n klein eilandjie bekend as Cauda kom, het ons met moeite daarin geslaag om die sloep onder beheer te kry. 17Nadat die bemanning die sloep opgehys het, het hulle toue onder die skip deurgetrek om dit te verstewig. Omdat hulle bang was dat hulle op die Sirtis sou strand, het hulle die dryfanker laat sak, en so het hulle weggedryf. 18Omdat ons so geweldig deur die storm geteister is, het hulle die volgende dag begin om die skeepsvrag oorboord te gooi, 19en op die derde dag het hulle met hulle eie hande die skip se toerusting oorboord gegooi. 20Die son en die sterre het vir baie dae nie geskyn nie, en die storm het ook nie in hewigheid afgeneem nie, sodat alle hoop om gered te word, ons ontneem is.
21Daar was 'n ernstige tekort aan kos. Toe het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie weggevaar het van Kreta af nie. Dan sou ons hierdie skade en verlies kon voorkom het. 22En nou roep ek julle op om moed te hou, want daar sal geen lewensverlies onder julle wees nie; net die skip sal vergaan. 23Verlede nag het 'n engel van die God aan wie ek behoort en vir wie ek dien, by my kom staan 24en gesê, ‘Moenie bang wees nie, Paulus, jy moet nog voor die keiser verskyn. Kyk, God het in sy genade die behoud van almal wat saam met jou vaar, aan jou geskenk.’ 25Daarom, hou moed, manne, want ek vertrou op God dat dit net so sal gebeur soos aan my gesê is. 26 Ons moet egter op een of ander eiland strand.”
27Teen die veertiende nag het ons steeds op die Adriatiese See rondgedryf. Om middernag het die matrose vermoed dat hulle naby land kom. 28Hulle het 'n peiling geneem, en gevind dat dit twintig vaam diep is. Hulle het 'n entjie verder gevaar en weer 'n peiling geneem, en gevind dat die diepte vyftien vaam is. 29Omdat hulle bang was dat hulle miskien op rotsagtige plekke kon strand, het hulle vier ankers van die skip se agterstewe afgegooi en gebid dat dit dag moet word. 30Toe die matrose probeer om van die skip af te vlug, en die sloep in die see neerlaat onder die voorwendsel dat hulle die ankers van die boeg af wou laat sak, 31het Paulus aan die centurio en die soldate gesê: “As hulle nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.” 32Toe het die soldate die toue van die sloep afgekap en dit laat val.
33Net voor dagbreek het Paulus by almal begin aandring om iets te eet. Hy het gesê: “Vandag is al die veertiende dag dat julle sonder kos bly wag en niks inneem nie. 34Daarom dring ek by julle daarop aan om voedsel in te neem, want dit sal bydra tot julle redding. Daar sal nie 'n haar van een van julle se kop verlore gaan nie. ” 35Nadat hy dit gesê het, het hy 'n stuk brood geneem, God voor almal gedank, die brood gebreek en begin eet. 36Almal het moed geskep en self ook begin eet. 37Ons was altesaam tweehonderd ses-en-sewentig mense op die skip. 38Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die skip ligter gemaak deur die koring in die see te gooi.
Skipbreuk
39Toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie, maar hulle het wel 'n baai met 'n strand gewaar, waar hulle besluit het om die skip op die sand te laat loop as hulle kon. 40Hulle het die ankers afgekap en in die see laat val en tegelykertyd die roertoue losgemaak, die voorseil gehys en windaf op die strand afgestuur. 41 Hulle het egter 'n rif met see aan weerskante getref, en daar het die skip gestrand. Die boeg het vasgesteek en bewegingloos gebly, en die agterstewe het deur die geweld van die golwe begin opbreek. 42Die soldate se plan was om die gevangenes dood te maak, sodat niemand kon ontsnap deur uit te swem nie. 43 Maar die centurio wou Paulus red, en het hulle plan verydel. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en aan land te gaan, 44en daarna die res – sommige op planke, ander op wrakstukke van die skip. En so het almal behoue aan land gekom.

Currently Selected:

Handelinge 27: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in