YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 24

24
Verbondsluiting by Sinai
1Vir Moses het Hy gesê: “Klim op na die Here, jy en Aäron, Nadab en Abihu en sewentig van die oudstes van Israel, maar buig van ver af al in aanbidding. 2 Moses alleen mag nader aan die Here gaan; hulle mag egter nie nader gaan nie, en die volk mag nie saam met hom opklim nie.”
3 Moses het gegaan en aan die volk al die woorde van die Here, en al die bepalings oorgedra. Die hele volk het eenstemmig geantwoord en gesê: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen.”
4Moses het al die woorde van die Here neergeskryf. Hy het vroeg die oggend opgestaan en aan die voet van die berg 'n altaar opgerig en twaalf gedenkstene vir die twaalf stamme van Israel. 5 Hy het jong manne uit die Israeliete gestuur, en hulle het •brandoffers geoffer, en vir die Here bulle geslag as •maaltydoffers. 6Moses het die helfte van die bloed geneem en in bakke gegooi. Die ander helfte van die bloed het hy teen die altaar gesprinkel.
7Toe neem hy die Boekrol van die Verbond en lees dit duidelik hoorbaar aan die volk voor. Hulle het gesê: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen en gehoorsaam.”
8 Moses het toe die bloed geneem en dit oor die volk gesprinkel en gesê: “Kyk, dit is die bloed van die verbond wat die Here met julle sluit op grond van al hierdie woorde.”
9Daarna het Moses en Aäron, Nadab en Abihu en sewentig van die oudstes van Israel die berg uitgeklim. 10Hulle het die God van Israel gesien. Onder sy voete was dit soos 'n plaveisel van •lasuursteen, so helder soos die hemelruim self. 11Teen hierdie vernames van die Israeliete het God sy hand nie uitgesteek nie. Hulle het God aanskou en toe geëet en gedrink.
Verdere opdragte aan Moses
12 Die Here het vir Moses gesê: “Kom na My toe op die berg en bly daar. Ek sal vir jou die kliptafels gee met die wet, met die opdragte wat Ek geskryf het, om hulle te onderrig.” 13Moses en Josua, sy helper, het gereedgemaak, en Moses het die berg van God uitgeklim. 14Vir die oudstes het hy gesê: “Wag hier vir ons, totdat ons na julle terugkom. Kyk, Aäron en Hur is by julle, en wie ook al regsake het, kan na hulle toe gaan.”
15 Moses het die berg uitgeklim en die wolk het die berg bedek. 16Die heerlikheid van die Here het op die berg Sinai vertoef en die wolk het die berg ses dae lank bedek. Die Here het op die sewende dag uit die wolk na Moses geroep. 17Die heerlikheid van die Here het vir die Israeliete gelyk soos 'n verterende vuur op die kruin van die berg. 18Moses het in die wolk ingegaan en die berg verder uitgeklim. Moses was veertig dae en veertig nagte lank op die berg.

Currently Selected:

Eksodus 24: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in