YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 18

18
Spreekwoord oor groen druiwe
1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“ Wat is dit met julle dat julle hierdie spreekwoord gebruik oor die land Israel,
‘Die ouers het groen druiwe geëet,
en die kinders se tande
het stomp geword’?
3“So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van die Heer, die Here, “dit sal nie meer by julle opkom om hierdie spreekwoord in Israel te gebruik nie. 4 Kyk, alle lewens – aan My behoort dit. Soos die lewe van die seun, so ook die lewe van die vader – aan My behoort dit. Die persoon wat sonde doen, dié moet sterf.
5 “Wanneer iemand regverdig is,
doen wat reg en billik is,
6op die berge nie eet nie,
sy oë nie rig op die afgodsbeelde
van die huis van Israel nie,
die vrou van sy medemens
nie verontreinig nie,
by 'n vrou wat menstrueer,
nie kom nie,
7 niemand verdruk nie,
die pand wat hy vir skuld neem,
teruggee,
niemand beroof nie,
sy brood aan honger mense gee,
wie nakend is, met 'n kleed bedek,
8 nie teen rente uitleen nie,
nie woekerrente neem nie,
van onreg hom weerhou,
eerlik oordeel tussen mense,
9 volgens my vaste voorskrifte leef,
my bepalings nakom deur eerlik
op te tree –
hy is regverdig en sal beslis leef.”
Dit is die uitspraak
van die Heer, die Here.
10“As iemand egter 'n gewelddadige seun verwek wat bloed vergiet, en helaas enige van hierdie dinge doen 11– dit terwyl die vader niks daarvan gedoen het nie – as hy wel
op die berge eet,
die vrou van sy medemens verontreinig,
12 magteloses en behoeftiges verdruk,
mense beroof,
'n pand nie teruggegee nie,
na die afgodsbeelde opkyk vir hulp,
afstootlike dinge doen,
13op rente uitleen
en woekerrente neem,
“sal hy bly leef? Hy mag nie bly leef nie. Al hierdie afstootlike dinge het hy gedoen, hy moet beslis sterf. Sy bloedskuld rus op hom.
14“Maar kyk, as hý 'n seun verwek, en dié het al die sondes van sy vader gesien, dit wat hy gedoen het – ja, hy het dit gesien, maar hy doen nie dieselfde dinge nie – sodat hy
15op die berge nie eet nie,
na die afgodsbeelde van die huis van Israel
nie opkyk vir hulp nie,
die vrou van sy medemens
nie verontreinig nie,
16niemand verdruk nie,
'n pand nie neem nie,
niemand beroof nie,
sy brood aan honger mense gee,
wie nakend is, met 'n kleed bedek,
17van onreg hom weerhou,
rente en woekerrente nie neem nie,
my bepalings uitvoer,
en volgens my vaste voorskrifte leef,
hý sal nie sterf vir die sondeskuld
van sy vader nie –
hy sal beslis leef.
18“Wat sy vader betref, omdat hy afgepers het, 'n stamgenoot beroof het, en wat nie goed is nie, gedoen het tussen sy volksgenote, kyk, hy sal sterf vir sy sondeskuld.
19“ Maar julle vra, ‘Waarom dra die seun nie die sondeskuld van die vader nie?’ Die seun het egter gedoen wat reg en billik is; al my vaste voorskrifte het hy nagekom en uitgevoer. Hy sal beslis leef. 20 Maar die persoon wat sonde doen, hy sal sterf. 'n Seun sal nie die sondeskuld van 'n vader dra nie, en 'n vader sal nie die sondeskuld van 'n seun dra nie. Die geregtigheid van die regverdige sal op homself van toepassing wees, en die goddeloosheid van 'n goddelose sal op homself van toepassing wees.
21“ Maar die goddelose, as hy hom bekeer van al sy sonde wat hy gedoen het, en hy kom al my vaste voorskrifte na en doen wat reg en billik is – hy sal beslis leef; hy sal nie sterf nie. 22Al die oortredings wat hy begaan het – dit sal nie teen hom gehou word nie. Deur die geregtigheid wat hy bewys het, sal hy leef. 23 Sou Ek enige vreugde vind in die dood van 'n goddelose?” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Is vreugde nie eerder daarin geleë dat hy van sy verkeerde paaie terugkeer en leef nie?
24“ Maar wanneer 'n regverdige van sy geregtigheid afwyk en onreg doen in navolging van al die afstootlike dade wat die goddelose gedoen het – sal hy dit doen en leef? Al die geregtigheid wat hy bewys het, sal nie onthou word nie. Deur die troubreuk wat hy pleeg en die sonde wat hy doen, daardeur sal hy sterf.
25“ Julle sê egter, ‘Die optrede van my Heer is onaanvaarbaar.’ Luister tog, huis van Israel: Is my optrede onaanvaarbaar? Is dit nie julle optrede wat onaanvaarbaar is nie? 26Wanneer 'n regverdige van sy geregtigheid afwyk en onreg doen, sal hy daaroor sterf. Deur die onreg wat hy doen, sal hy sterf. 27En wanneer 'n goddelose hom bekeer van die goddeloosheid wat hy begaan het, en hy tree reg en billik op – hy sal sy lewe behou. 28As hy tot insig gekom het en hom bekeer van al die oortredings wat hy begaan het, sal hy beslis leef – hy sal nie sterf nie. 29Tog sê die huis van Israel, ‘Die optrede van my Heer is onaanvaarbaar.’ My optrede, is dit onaanvaarbaar, huis van Israel? Is dit nie julle optrede wat onaanvaarbaar is nie? 30Daarom sal Ek julle oordeel, huis van Israel, elkeen volgens sy optrede, ” is die uitspraak van die Heer, die Here. “Bekeer julle! Draai weg van al julle oortredings, sodat dit nie vir julle 'n struikelblok word wat sondeskuld meebring nie. 31Werp al julle oortredings van julle af weg, dit waarmee julle oortree het, en maak vir julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees. Waarom moet julle sterf, huis van Israel? 32 Ja, Ek vind nie vreugde in die dood van een wat moet sterf nie,” is die uitspraak van die Heer, die Here. “Bekeer julle en leef!”

Currently Selected:

Esegiël 18: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in