YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 41

41
1Toe neem hy my na die hoofvertrek van die •tempel, en meet die afskortingsmure: Dit was ses el dik aan die een kant en ses el dik aan die ander kant. Dit was die breedte van die afskortingsmuur. 2 Die breedte van die ingang was tien el, en die symure van die ingang was vyf el aan albei kante. Toe meet hy die lengte van die hoofvertrek: Dit was veertig el. Die breedte was twintig el.
3Daarna gaan hy binnetoe en meet die afskortingsmuur by die ingang: Dit was twee el dik. Die ingang was ses el, en die symure van die ingang was sewe el. 4 Toe meet hy die lengte van die vertrek: Dit was twintig el. Die breedte, aan die voorkant van die hoofvertrek, was ook twintig el. Hy het vir my gesê: “Dit is die •Allerheiligste.”
5 Hy meet toe die muur van die tempel: Dit was ses el dik. Die breedte van die sykamers aan alle kante reg rondom die tempel was vier el. 6Die sykamers was sykamer op sykamer in drie verdiepings, dertig van hulle. Reg rondom het die buitemuur van die tempel trapsgewys vernou sodat daar steunpunte vir die sykamers kon wees en die steunpunte nie in die muur van die tempel sou wees nie. 7 Daar was rondom, hoër en hoër, meer ruimte vir die sykamers; want die tempel is, tot heel bo, rondom deur sykamers omring. Aan die buitekant was die tempel dus net so breed aan die bokant as aan die onderkant. 'n Mens kon deur die middelste verdieping na die boonste verdieping opgaan. 8Ek het gesien dat daar reg rondom die tempel 'n opgeboude terras was wat as onderbou gedien het vir die sykamers. Dit was 'n volle maatstok hoog, ses el, tot by die basis van die sykamers. 9Die buitemuur van die sykamers se dikte was vyf el. Die deel wat oopgelaat was tussen die sykamers van die tempel 10en ander vertrekke, was twintig el breed, al om die tempel. 11Die ingange na die sykamers was uit die ruimte rondom die tempel – een ingang aan die noordekant en een ingang aan die suidekant. Die dikte van die buitemuur by die ingange was oral vyf el.
12 Die gebou aan die westekant van die tempel was sewentig el lank en negentig el breed, en was teenoor die ruimte waar toegang beperk is; die muur van die gebou was rondom vyf el dik. 13Daarna meet hy toe die tempel: Dit was honderd el lank. Die ruimte waar toegang beperk is, saam met die gebou en sy mure aan die westekant, was ook honderd el lank. 14Die breedte van die tempel aan die voorkant, insluitende die ruimte waar toegang beperk is aan die oostekant, was honderd el. 15Toe meet hy die breedte van die gebou langs die ruimte waar toegang beperk is, dié een aan die agterkant daarvan, saam met die lyste daarvan aan albei kante: Dit was honderd el.
Afwerking van die tempel
Die hoofvertrek, die binnevertrek en die portale by die voorhof, 16 die drumpels, die vensters met luike en met rame aan drie kante, uitgesonderd die vensterbank, was oral met hout beklee. Van die vloer af tot by die vensters was dit bedek. 17Tot aan die bokant van die ingange na die •tempel, aan die binne- en buitekant, en rondom op elke muur binne en buite, was daar stroke afgemeet 18 waarop gerubs en palmette aangebring was. Daar was elke keer 'n palmet tussen twee gerubs. Elke gerub het twee gesigte gehad – 19die gesig van 'n mens, gerig na die palmet aan die een kant, en die gesig van 'n leeu, gerig na die palmet aan die ander kant. Dit was aangebring aan al die tempelmure reg rondom. 20Van die vloer tot aan die bokant van die ingange was daar gerubs en palmette.
Die muur 21 van die hoofvertrek het 'n vierkantige kosyn gehad. Voor die heiligdom was daar iets wat gelyk het soos 22'n altaar van hout – drie el hoog, met 'n lengte van twee el; dit het hoeke gehad, en die voetstuk en sykante was van hout. Die man sê toe vir my: “Dit is die tafel wat voor die Here is.”
23 Die hoofvertrek en die heiligdom het dubbele deure gehad. 24Die deure het twee vleuels gehad, twee vleuels wat oopswaai, twee vir elke deur. 25Op die deure van die hoofvertrek was daar gerubs en palmette aangebring, soos op die mure. 'n Afskorting van hout was voor die portaal aan die buitekant. 26Daar was vensters met luike en palmette aan albei kante van die symure van die portaal, ook aan die sykamers van die tempel en die afskortings.

Currently Selected:

Esegiël 41: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in