YouVersion Logo
Search Icon

Esra 1

1
Terugkeer van ballinge na Jerusalem
1 In die eerste regeringsjaar van Kores, die koning van Persië, het die Here die gees van Kores, koning van Persië, aangevuur. Dit het Hy gedoen om sy woord, aangekondig by monde van Jeremia, te vervul. Hy het 'n boodskap dwarsdeur sy hele koninkryk gestuur en dit selfs op skrif gestel:
2“ So sê Kores, koning van Persië, ‘Al die koninkryke op aarde het die Here, die God van die hemel, aan my gegee. 3 Enigiemand onder julle uit enige deel van sy volk – mag sy God met hom wees – hy moet optrek na Jerusalem in Juda om die huis te herbou van die Here, die God van Israel, die God wat in Jerusalem is. 4 En almal wat agterbly op al die plekke waar diegene wat wil teruggaan, as •vreemdelinge gewoon het, dit wil sê die mense van hulle omgewing, moet diegene wat wil teruggaan, ondersteun met silwer, goud, goedere en lewende hawe. Hulle moet ook vrywillige gawes gee vir die huis van die God wat in Jerusalem is.’ ”
5Toe het die familiehoofde van Juda en Benjamin, asook die priesters en Leviete, elkeen wat in sy gemoed deur God oortuig is, gereedgemaak om op te trek om die huis van die Here in Jerusalem te herbou. 6 Al die mense in hulle omgewing het hulle ondersteun met voorwerpe van silwer, met goud, goedere, vee en kosbare geskenke, afgesien van alles wat ook nog vrywillig gegee is. 7 Koning Kores het al die voorwerpe van die huis van die Here wat Nebukadnesar uit Jerusalem weggeneem en in die huis van sy gode gesit het, daar laat uithaal. 8Koning Kores van Persië het dit onder toesig van Mitredat, die tesourier, laat verwyder, wat dit toe vir Sesbassar, die Judese leier, afgetel het.
9Onder die getal voorwerpe was:
30 bakke van goud
1 000 bakke van silwer
29 messe
1030 bakkies van goud
410 dubbelbakkies van silwer
1 000 ander voorwerpe.
11Altesaam was daar 5 400 voorwerpe van silwer en goud. Al hierdie voorwerpe het Sesbassar saamgeneem toe die ballinge van Babilonië na Jerusalem opgetrek het.

Currently Selected:

Esra 1: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in