YouVersion Logo
Search Icon

Esra 6

6
Ondersoek in die argiewe
1 Toe het koning Darius opdrag gegee en ondersoek is ingestel in die argiewe waar kosbaarhede daar in Babel bewaar word. 2 In die vesting Agmeta, in die provinsie Medië, is 'n •boekrol gevind waarin daar die volgende geskryf staan:
“'n Verslag:
3“ In sy eerste regeringsjaar het koning Kores die volgende opdrag gegee, ‘Wat betref die huis van God in Jerusalem: Die huis moet gebou word as 'n plek waar offers gebring word. Die fondamente moet gelê word; die hoogte moet sestig el en die breedte sestig el wees, 4 gebou met drie lae groot klippe en 'n laag nuwe hout. Die boukoste sal uit die koninklike skatkis gedelg word. 5 En verder: Die voorwerpe van goud en silwer van die huis van God wat •Nebukadnesar uit die •tempel wat in Jerusalem was, verwyder en na Babel gebring het, moet teruggestuur word, en na die •tempel in Jerusalem, hulle plek, gaan. Sit dit in die huis van God.’ ”
Brief van koning Darius
6“ Aan Tattenai, •streekgoewerneur van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai, en julle ampsgenote, die amptenare wat wes van die Eufraat is:
“Bly weg daar! 7 Laat die werk aan daardie huis van God voortgaan. Laat die Judeërs se streekgoewerneur en hulle oudstes daardie huis van God op sy plek herbou! 8 Ek gee nou opdrag oor wat julle saam met hierdie oudstes van die Judeërs moet doen om daardie huis van God te bou: Uit die koninklike staatskas – in besonder uit die belasting van Wes-Eufraat – moet die uitgawes van daardie manne ten volle vergoed word, sodat die werk nie onderbreek word nie. 9 En wat hulle nodig het, jong bulle, ramme en lammers as •brandoffers vir die God van die hemel, koring, sout, wyn en olie, moet, op versoek van die priesters in Jerusalem, daagliks en stiptelik aan hulle gelewer word, 10 sodat hulle offers met 'n aangename geur aan die God van die hemel kan bring, en kan bid vir die lewe van die koning en sy seuns.
11“ Ek gee ook opdrag dat elke persoon wat hierdie beslissing wysig, met 'n balk wat uit sy huis geruk is, deurboor en opgehang moet word. Van sy huis moet ook 'n puinhoop gemaak word.
12 “En mag die God wat sy Naam daar laat woon, elke koning en volk tot 'n val bring wat 'n hand uitsteek om hierdie beslissing te wysig en sodoende daardie huis van God wat in Jerusalem is, te vernietig. Ek, Darius, gee so opdrag. Dit moet noukeurig uitgevoer word.”
Ingebruikneming van die tempel
13 Daarna het Tattenai, die streekgoewerneur van Wes-Eufraat, en Setar-Bosnai en hulle ampsgenote dit net so, op grond van die brief wat koning Darius gestuur het, noukeurig uitgevoer. 14 Die oudstes van die Judeërs het aanhou bou en was voorspoedig, danksy die profetiese prediking van die profeet Haggai en Sagaria, seun van Iddo. Hulle het gebou en die werk voltooi volgens die opdrag van die God van Israel en die opdragte van Kores, Darius en Artasasta, die konings van Persië. 15 Hierdie huis is op die derde dag van die maand Adar in die sesde jaar van koning Darius se regering voltooi.
16 Die Israeliete, die priesters, die Leviete en die res van die ballinge het die wyding van hierdie huis van God met vreugde gevier. 17Vir die wyding van hierdie huis van God het hulle honderd bulle, tweehonderd ramme en vierhonderd lammers geoffer, en, in ooreenstemming met die getal stamme van Israel, ook nog twaalf bokramme as •reinigingsoffer vir die hele Israel. 18 Hulle het die priesters in hulle afdelings en die Leviete in hulle groepe opgestel vir die diens van God wat in Jerusalem is, soos dit in die boekrol van Moses geskryf staan.
19 Die ballinge het die Pasga op die veertiende dag van die eerste maand gevier: 20 Die priesters en Leviete het hulle soos een man gereinig, en toe hulle almal rein was, het die Leviete die Pasgalam geslag vir al die ballinge, vir hulle ampsgenote, die priesters, en vir hulleself. 21 Die Israeliete wat uit die ballingskap teruggekeer het, het die Pasga geëet. En almal wat hulle afgeskei het van die •onreinheid van die volk van die land, om die wil van die Here die God van Israel te soek, het dit ook gedoen. 22 Hulle het die Fees van die ongesuurde Brood sewe dae lank met blydskap gevier, want die Here het hulle bly gemaak deurdat Hy die gesindheid van die koning van Assirië teenoor hulle verander het, sodat hy hulle hande gesterk het vir die werk aan die huis van God, die God van Israel.

Currently Selected:

Esra 6: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in