YouVersion Logo
Search Icon

Hebreërs 10

10
1Die wet bevat immers net 'n afskaduwing van die toekomstige goeie dinge, nie 'n presiese weergawe daarvan nie. Daarom kan dit nooit deur dieselfde offers, wat onophoudelik jaar ná jaar gebring word, diegene wat kom aanbid, tot volmaaktheid bring nie. 2Sou hulle nie andersins opgehou het om offers te bring, omdat die aanbidders, nadat hulle een maal gereinig is, nie meer enige besef van sonde sou hê nie? 3Maar deur dié offers word hulle nou jaarliks aan hulle sondes herinner; 4want die bloed van bulle en bokke kan onmoontlik sondes wegneem.
5Daarom sê Hy met sy koms na die wêreld:
“Offerande en offergawe
wou U nie hê nie,
maar 'n liggaam het U vir My voorberei;
6ja, •brandoffers en •reinigingsoffers
het U nie tevrede gestel nie.
7Toe het Ek gesê,
‘Kyk, hier is Ek om u wil te doen, o God!
Dit is in die boekrol oor My geskryf.’ ”
8Eers sê Hy hierbo,
“Offerandes en offergawes”,
en “brandoffers en reinigingsoffers
wou U nie hê,
en het U nie tevrede gestel nie” –
dit is wat volgens die wet geoffer word. 9Dan sê Hy:
“Kyk, hier is Ek om u wil te doen!”
Hy beëindig die eerste, sodat Hy die tweede tot stand kan bring. 10Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus •Christus, eens en vir altyd.
11Elke priester staan wel dag vir dag en diens doen, en bring oor en oor dieselfde offers, wat nooit in staat is om sondes weg te neem nie; 12maar toe Christus vir altyd een offer ter wille van sondes gebring het, het Hy aan die regterhand van God gaan sit. 13Sedertdien wag Hy totdat sy vyande 'n voetbank vir sy voete gemaak word. 14Want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak.
15Ook die Heilige Gees getuig teenoor ons; want nadat Hy gesê het,
16 “Dit is dan die verbond
wat Ek ná daardie dae
met hulle sal sluit, sê die Here:
Ek sal my wette in hulle harte gee,
en dit op hulle verstand neerskryf,”
sê Hy ook:
17 “Aan hulle sondes
en aan hulle wettelose dade
sal Ek glad nie meer dink nie.”
18Waar daar vergifnis hiervoor is, word 'n offer vir sondes nie meer gebring nie.
Oproep en waarskuwing
19Broers, ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom, 20langs 'n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam, 21en ons het 'n groot Priester oor die huis van God. 22Laat ons daarom ingaan met 'n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van 'n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die belydenis van wat ons hoop, sonder om af te wyk, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou. 24Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade, 25sonder om ons eie samekoms te verwaarloos, soos sommige se gewoonte is; laat ons eerder mekaar aanmoedig, soveel te meer nog namate julle dié dag sien nader kom!
26 Want as ons willens en wetens aanhou sonde doen, nadat ons kennis van die waarheid ontvang het, bly daar nie meer 'n offer vir ons sondes oor nie, 27maar wel 'n verskriklike verwagting van oordeel en intense vuur, wat God se teenstanders gaan verteer. 28Wanneer iemand die •Wet van Moses verwerp het, het hy gesterf op grond van twee of drie se getuienis, sonder genade. 29Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die •Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het, en die Gees van genade uitgedaag het? 30Want ons ken Hom wat gesê het:
“Aan My behoort die wraak;
Ek sal vergeld.”
en ook:
“Die Here sal sy volk oordeel.”
31Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God!
32Maar onthou die vroeër dae toe julle, nadat julle verlig is, 'n geweldige stryd van lyding deurstaan het. 33Aan die een kant is julle deur beledigings en deur verdrukking openlik bespotlik gemaak; aan die ander kant het julle julle vereenselwig met dié wat so behandel word. 34Ook het julle met die gevangenes medelye gehad, en die beslaglegging van julle besittings met vreugde aanvaar, omdat julle weet dat julle 'n beter en blywende besitting het. 35Julle moet dus nie julle vrymoedigheid prysgee nie; dit hou 'n groot beloning in. 36 Julle het inderdaad volharding nodig, sodat julle, wanneer julle die wil van God gedoen het, die belofte kan verkry.
37 Want nog net
“'n baie kort rukkie,
en Hy wat kom, sal kom
en nie talm nie.
38My regverdige sal deur geloof leef.
As hy hom egter sou onttrek,
het Ek geen behae in hom nie.”
39Maar ons is nie deel van enige onttrekking wat tot ondergang lei nie, maar van die geloof wat lei tot behoud van die lewe.

Currently Selected:

Hebreërs 10: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in