YouVersion Logo
Search Icon

Rigters 18

18
1In daardie tyd was daar geen koning in Israel nie. En in daardie tyd was die stam van Dan op soek na 'n erfdeel vir hulle om hulle te vestig. Want tot op daardie dag het nog geen plek tussen die stamme van Israel as erfdeel aan hulle toegeval nie. 2Toe stuur die nakomelinge van Dan uit al die manne wat hulle het, vyf manne uit hulle familiegroep, onverskrokke manne, vanaf Sora en Estaol, om die land te verken en deur te kyk. Hulle het vir die manne gesê: “Gaan kyk die land deur!” Hulle het toe in die heuwelland van Efraim ingegaan tot by die huis van Miga en daar oornag.
3Toe hulle naby Miga se huis was, het hulle die stem van die jong man, die Leviet, herken, en toe het hulle daarheen afgedraai. Hulle het hom gevra: “Wie het jou hierheen laat kom? Wat doen jy op hierdie plek? Watter belang het jy hier?” 4Hy sê toe vir hulle: “Miga het dit en dat vir my gedoen; en hy het my gehuur en ek het vir hom 'n priester geword. ” 5Daarop vra hulle hom: “Raadpleeg God asseblief, sodat ons kan weet of die reis waarop ons nou is, voorspoedig sal afloop.” 6Die priester het vir hulle gesê: “Gaan in vrede! Die pad waarop julle gaan, is voor die Here.
7Die vyf manne het verder gegaan en by Lajis aangekom. Hulle merk toe dat die mense wat daar is, rustig woon, soos dit die gewoonte van die Sidoniërs was – onverstoord en rustig, met niks in die land wat skade aanrig of wat welvaart bedreig nie. Hulle was ver van die mense van Sidon en het niks met enigiemand te doen gehad nie.
8Toe die vyf manne by hulle volksgenote in Sora en Estaol aankom, vra dié vir hulle: “Hoe het dit gegaan?” 9Hulle antwoord: “Maak gereed, laat ons optrek teen hulle! Want ons het die land gesien, en kyk, dit is baie goed. Weifel julle nog? Moenie aarsel om te gaan, om die land in besit te gaan neem nie! 10Wanneer julle die gebied binnegaan, sal julle aankom by 'n rustige volk en 'n gebied wat na alle kante wyd uitstrek. Ja, God gee dit in julle hand – 'n plek waar daar niks kortkom van enigiets wat in die land is nie. ”
11Hulle het toe daarvandaan weggetrek, uit Sora en Estaol, seshonderd manne uit die familiegroep van Dan, met hulle wapens aangegord. 12Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan by Kirjat-Jearim in Juda. Daarom noem hulle daardie plek Magane-Dan; dit is vandag nog so. Kyk, dit lê wes van Kirjat-Jearim.
13Daarvandaan het hulle die grens oorgesteek na die heuwelland van Efraim en by Miga se huis aangekom. 14Die vyf manne wat gegaan het om die gebied by Lajis te verken, het toe aan die woord gekom en vir hulle volksgenote gesê: “Weet julle dat daar in hierdie geboue 'n efod, huisgode, 'n gesnede beeld en 'n gegote beeld is? Julle weet dan nou wat julle moet doen.”
15Hulle het toe daarheen afgedraai en by die woonplek van die jong man, die Leviet in Miga se huishouding, aangekom en hom gegroet. 16Die seshonderd manne uit die nakomelinge van Dan, met hulle wapens aangegord, het stelling ingeneem by die toegangspoort. 17Die vyf manne wat die land gaan verken het, het opgegaan, daar ingekom en die gesnede beeld, die efod, die huisgode en die gegote beeld gevat. Die priester het by die ingang van die poort by die seshonderd gewapende manne bly staan, 18terwyl hulle by Miga se huis ingegaan en die gesnede beeld, die efod, die huisgode en die gegote beeld gevat het. Die priester vra toe vir hulle: “Wat doen julle?” 19Hulle het vir hom gesê: “Bly stil! Sit jou hand voor jou mond en gaan saam met ons. Wees vir ons 'n vader en 'n priester. Is dit vir jou beter om 'n priester te wees vir die huishouding van een man, of om priester te wees vir 'n stam en familiegroep in Israel?” 20Dit het die priester se hart bly gemaak. Hy het die efod, die huisgode en die gesnede beeld geneem en by die manskappe aangesluit.
21Hulle het toe omgedraai en verder gegaan. Hulle het die afhanklikes, die vee en die waardevolle goedere aan die voorpunt geplaas. 22Hulle was al 'n hele ent weg van Miga se huis af, toe die manne wat naby Miga se huis woon, opgeroep is. Hulle het die nakomelinge van Dan ingehaal 23en na hulle geroep. Die nakomelinge van Dan het omgekyk en vir Miga gesê: “Wat is dit met jou dat jy jou mense opgeroep het?” 24Hy het geantwoord: “My gode wat ek gemaak het, het julle gevat, ook nog my priester, en weggegaan. Wat bly vir my oor? Hoe kan julle dan vir my sê, ‘Wat is dit met jou?’ ” 25Maar die nakomelinge van Dan het hom geantwoord: “Moenie op ons kom skreeu nie, anders val opvlieënde manne jou dalk aan en verloor jy jou lewe en dié van jou huismense.” 26Die nakomelinge van Dan het toe verder gegaan op hulle reis. Toe Miga sien dat hulle te sterk vir hom was, het hy omgedraai en teruggegaan na sy huis.
27Hulle het dit wat Miga gemaak het en die priester wat hy gehad het, saamgeneem en Lajis, 'n onverstoorde en rustige volk, oorval. Hulle het hulle met die skerpte van die swaard verslaan en die dorp afgebrand. 28Niemand kon hulle red nie, want die dorp was ver van Sidon af en hulle het niks met enigiemand te doen gehad nie. Die dorp was in die vallei wat by Bet-Regob is.
Hulle het die dorp herbou en daarin gewoon. 29 Hulle het die dorp Dan genoem, na hulle voorvader Dan wat vir Israel gebore is. Voorheen was die naam van die dorp Lajis. 30Die nakomelinge van Dan het die godsbeeld toe vir hulle opgerig. Jonatan, seun van Gersom, seun van Moses, hy en sy seuns was priesters vir die stam van Dan tot die tyd toe die land se mense in ballingskap gegaan het. 31Hulle het Miga se gesnede beeld wat hy gemaak het, vir hulle in stand gehou, so lank as wat die huis van God in Silo was.

Currently Selected:

Rigters 18: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in