YouVersion Logo
Search Icon

Jeremia 36

36
Jeremia se boekrol met profesieë
1In die vierde regeringsjaar van Jojakim, seun van Josia, koning van Juda, het hierdie woord van die Here tot Jeremia gekom: 2“Vat vir jou 'n •boekrol en skryf daarin al die woorde wat Ek met jou gepraat het oor Israel en Juda en oor al die nasies, vanaf die dag dat Ek met jou gepraat het in die dae van Josia, tot vandag toe. 3 Miskien sal die huis van Juda hoor van al die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen, sodat elkeen van hulle sal omdraai weg van sy verkeerde pad, en Ek hulle sondeskuld en sonde kan vergewe.”
4Toe het Jeremia vir Barug, seun van Nerija, geroep, en Barug het uit die mond van Jeremia al die woorde wat die Here met hom gepraat het, in 'n boekrol geskryf. 5Jeremia het Barug opdrag gegee: “Ek is ingeperk, ek mag nie na die huis van die Here gaan nie. 6Gaan jy dan en lees op 'n vasdag in die huis van die Here ten aanhore van die volk uit die boekrol die woorde van die Here wat jy uit my mond neergeskryf het. Jy moet dit ook voorlees ten aanhore van die hele Juda wat uit hulle dorpe kom. 7Miskien sal hulle smeekbede voor die Here neergelê word, en sal elkeen van hulle omdraai, weg van sy verkeerde pad; want die toorn en die woede waarmee die Here hierdie volk dreig, is baie groot.”
8Barug, seun van Nerija, het toe gemaak net soos die profeet Jeremia hom beveel het – om uit die boekrol die woorde van die Here in die huis van die Here voor te lees. 9In die vyfde regeringsjaar van Jojakim, seun van Josia, koning van Juda, in die negende maand, is die hele volk in Jerusalem, en die hele volk wat uit die dorpe van Juda in Jerusalem aangekom het, opgeroep vir 'n vasdag voor die Here. 10 Barug het toe uit die boekrol die woorde van Jeremia aan die hele volk voorgelees in die huis van die Here, uit die vertrek van Gemarja, seun van Safan, die sekretaris, in die boonste voorhof by die ingang na die Nuwe Poort in die huis van die Here, ten aanhore van die hele volk.
11Toe Miga, seun van Gemarja, seun van Safan, al die woorde van die Here uit die boekrol hoor, 12het hy afgegaan na die paleis van die koning, na die kamer van die sekretaris. Al die •hoë amptenare het juis daar gesit: Elisama, die sekretaris, Delaja, seun van Semaja, Elnatan, seun van Agbor, Gemarja, seun van Safan, Sedekia, seun van Gananja – al die hoë amptenare. 13Miga deel toe aan hulle al die woorde mee wat hy gehoor het toe Barug uit die boekrol voorgelees het ten aanhore van die volk. 14Toe stuur al die hoë amptenare Jehudi, seun van Netanja, seun van Selemja, seun van Kusi, met 'n boodskap na Barug: “Die boekrol waaruit jy ten aanhore van die volk gelees het, neem dit in jou hand en kom!” Barug, seun van Nerija, het die boekrol in sy hand geneem en toe na hulle gegaan. 15Hulle het vir hom gesê: “Gaan sit asseblief, dan lees jy dit, sodat ons dit met ons eie ore kan hoor.” Barug het dit toe ten aanhore van almal voorgelees. 16Toe hulle al die woorde hoor, het hulle bewend na mekaar beweeg en vir Barug gesê: “Ons moet beslis al hierdie woorde aan die koning meedeel.” 17Vir Barug het hulle gevra: “Lig ons asseblief in: Hoe kon jy al hierdie woorde uit sy mond opskryf?” 18Barug het hulle geantwoord: “Met sy eie mond het hy my al hierdie woorde voorgesê, terwyl ek dit met ink in die boekrol skryf.”
19Die hoë amptenare het vir Barug gesê: “Gaan kruip weg, jy en Jeremia. Niemand mag weet waar julle is nie.”
20Hulle het toe na die koning in die voorhof gegaan – die boekrol het hulle weggesit in die kamer van Elisama, die sekretaris – en ten aanhore van die koning oor al die sake berig. 21Toe stuur die koning Jehudi om die boekrol te gaan haal. Hy het dit gaan haal uit die kamer van Elisama, die sekretaris. Jehudi het dit toe, ten aanhore van die koning en al die hoë amptenare wat by die koning staan, voorgelees. 22Die koning het in die wintervertrek gesit, in die negende maand, met 'n vuur wat in die kolebak voor hom brand. 23Sodra Jehudi drie of vier velle gelees het, het die koning dit met 'n skrywersmes stukkend gesny en in die vuur op die kolebak gegooi, totdat die hele boekrol vernietig is in die vuur op die kolebak. 24 Die koning en al sy dienaars wat al hierdie woorde gehoor het, het nie gebewe of hulle klere geskeur nie. 25Selfs toe Elnatan, Delaja en Gemarja by die koning daarop aangedring het om nie die boekrol te verbrand nie, het hy nie na hulle geluister nie. 26Die koning het Jeragmeël, seun van die koning, Seraja, seun van Asriël, en Selemja, seun van Abdeël, opdrag gegee om Barug, die skrywer daarvan, en die profeet Jeremia gevange te neem. Maar die Here het hulle weggesteek.
27Die woord van die Here het toe tot Jeremia gekom, nadat die koning die boekrol met die woorde wat Barug uit die mond van Jeremia neergeskryf het, verbrand het: 28“Kry weer vir jou 'n ander boekrol en skryf daarin al die vorige woorde wat in die vorige boekrol was wat Jojakim, koning van Juda, verbrand het. 29En oor Jojakim, koning van Juda, moet jy sê, ‘So sê die Here: “Jy het self hierdie boekrol verbrand terwyl jy sê, ‘Waarom het jy daarin geskryf: Die koning van Babilonië sal beslis kom en hierdie land verwoes en mens en dier daaruit laat verdwyn?’ ” 30 Daarom, so sê die Here oor Jojakim, koning van Juda: “Hy sal niemand hê wat op die troon van Dawid sit nie, en sy lyk sal weggegooi lê, bedags in die hitte en snags in die koue. 31Ek sal van hom en sy nageslag en sy dienaars rekenskap eis oor hulle sondeskuld. Ek sal oor hulle en oor die inwoners van Jerusalem en oor die mense van Juda al die onheil bring wat Ek oor hulle uitgespreek het. Maar hulle het nie geluister nie.” ’ ”
32Daarop het Jeremia 'n ander boekrol geneem en dit vir die skrywer Barug, seun van Nerija, gegee. Hy het toe daarin, uit die mond van Jeremia, al die woorde van die boekrol geskryf wat Jojakim, die koning van Juda, verbrand het. En nog baie soortgelyke woorde is bygevoeg.

Currently Selected:

Jeremia 36: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in