YouVersion Logo
Search Icon

Jeremia 41

41
1 In die sewende maand het Ismael, seun van Netanja, seun van Elisama, verwant aan die koninklike familie en hoofamptenare van die koning, met tien manne saam met hom, by Gedalja, seun van Agikam, in Mispa aangekom. Terwyl hulle daar in Mispa saam geëet het, 2het Ismael, seun van Netanja, en die tien manne wat by hom was, opgestaan en Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, met die swaard neergevel en hom doodgemaak – hy wat deur die koning van Babilonië in die land aangestel is. 3Ook al die Judeërs wat by hom, Gedalja, in Mispa was, en die Galdeërs wat hulle daar bevind het, die krygsmanne, is deur Ismael neergevel.
4Die tweede dag ná die moord op Gedalja, terwyl niemand dit nog geweet het nie, 5het daar tagtig manne uit Sigem, Silo en Samaria aangekom wat hulle baarde afgeskeer, hulle klere geskeur en hulleself stukkend gekerf het. Hulle het graanoffers en wierook by hulle gehad met die doel om dit na die huis van die Here te neem. 6Ismael, seun van Netanja, het hulle al huilend uit Mispa tegemoetgegaan. Toe hy by hulle kom, sê hy vir hulle: “Kom in na Gedalja, seun van Agikam!” 7Maar net toe hulle in die middel van die dorp kom, het Ismael, seun van Netanja, hulle vermoor en hulle in 'n opgaarput gegooi, hy en die manne by hom. 8Maar tien van die manne onder hulle het vir Ismael gesê: “Moet ons nie doodmaak nie, want ons het weggesteekte voorrade in die veld – koring, gars, olyfolie en heuning.” Toe het hy daarvan afgesien, en hulle nie saam met hulle volksgenote doodgemaak nie. 9Die opgaarput waarin Ismael al die lyke van die manne wat hy langs Gedalja neergevel het, gegooi het – dit was die opgaarput wat koning Asa gemaak het weens die bedreiging van Baesa, koning van Israel. Ismael, seun van Netanja, het dit met die gesneuweldes volgemaak.
10 Daarna het Ismael almal wat van die volk oorgebly het, wat in Mispa was, in gevangenskap weggevoer – die dogters van die koning en al die mense wat in Mispa oorgebly het, oor wie Nebusaradan, die •aanvoerder van die lyfwag, vir Gedalja, seun van Agikam, aangestel het. Ismael, seun van Netanja, het hulle weggevoer en vertrek om oor te trek na die Ammoniete.
11Maar toe Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings wat by hom was, hoor van al die kwaad wat Ismael, seun van Netanja, aangerig het, 12het hulle al die manne geneem en gegaan om teen Ismael, seun van Netanja, te veg. Hulle het hom aangetref by die groot dam by Gibeon. 13Toe al die mense wat by Ismael was, vir Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings by hom, sien, was hulle bly. 14Al die mense wat deur Ismael uit Mispa as gevangenes weggevoer is, het omgedraai, teruggekeer en na Joganan, seun van Kareag, gegaan. 15Maar Ismael, seun van Netanja, het met agt manne van Joganan af weggekom en na die Ammoniete gegaan.
Vlug na Egipte
16Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings by hom, het almal wat van die volk oorgebly het, saamgeneem, almal wat hy van Ismael, seun van Netanja, uit Mispa teruggebring het, nadat dié vir Gedalja, seun van Agikam, neergevel het. Dit was die mans, krygsmanne, vroue en kinders en eunugs wat hy uit Gibeon teruggebring het. 17 Hulle het vertrek en oorgebly by Gerut-Kimham naby Betlehem, om van daar af verder te gaan en Egipte te bereik, 18weg van die Galdeërs af; want hulle was bang vir hulle. Ismael, seun van Netanja, het immers vir Gedalja, seun van Agikam, vir wie die koning van Babilonië in die land aangestel het, neergevel.

Currently Selected:

Jeremia 41: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in