YouVersion Logo
Search Icon

Johannes 17

17
Jesus se gebed
1Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë na die hemel opgerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik – 2net soos U aan Hom gesag oor die hele mensdom gegee het, sodat Hy aan elkeen wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. 3En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus. 4Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U aan My gegee het om te doen. 5En nou, Vader, verheerlik My by U met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.
6“Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord gehoorsaam. 7Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom. 8Die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee, en hulle het dit aanvaar en werklik besef dat Ek van U af gekom het. En hulle het geglo dat U My gestuur het.
9“Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir hulle wat U aan My gegee het, omdat hulle aan U behoort. 10En alles wat myne is, behoort aan U, en wat aan U behoort, is myne, en in hulle is Ek verheerlik. 11Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is nog in die wêreld, en Ek kom na U. Heilige Vader, bewaar hulle wat U aan My gegee het in u Naam, sodat hulle, net soos Ons, een kan wees. 12Toe Ek by hulle was, het Ek hulle wat U aan My gegee het, in u Naam bewaar. Ek het hulle ook beskerm; en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word. 13Maar nou kom Ek na U. Ek sê hierdie dinge terwyl Ek in die wêreld is, sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê. 14Ek het aan hulle u woorde gegee; maar die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. 15Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. 16Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. 17Heilig hulle deur die waarheid – u woorde is die waarheid. 18 Net soos U My in die wêreld ingestuur het, so het Ek ook hulle in die wêreld ingestuur. 19En ter wille van hulle heilig Ek Myself, sodat hulle ook deur die waarheid geheilig kan wees.
20“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo, 21dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is: 23Ek in hulle en U in My, sodat hulle volledig een kan wees en die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het. 24Vader, Ek wil hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My kan wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het, omdat U My van voor die grondlegging van die wêreld liefgehad het. 25•Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle weet dat U My gestuur het. 26En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.”

Currently Selected:

Johannes 17: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in