18
Voorbereidings vir die verdeling van die land
1 Die hele volksvergadering van die Israeliete het in Silo byeengekom en die Tent van Ontmoeting daar opgeslaan. Die land is deur hulle onderwerp, 2maar daar het sewe stamme onder die Israeliete oorgebly wie se erfenis hulle nog nie verdeel het nie. 3Josua sê toe vir die Israeliete: “Hoe lank nog gaan julle sloer om die land wat die Here, die God van julle voorvaders, vir julle gegee het, in besit te neem? 4Bring vir julle drie manne uit elke stam, sodat ek hulle kan uitstuur. Hulle moet dan gereedmaak, in die land rondbeweeg en daarvan 'n beskrywing gee met die oog op hulle erfdeel. Wanneer hulle by my terug is, 5moet hulle die gebied in sewe dele onder mekaar verdeel. Juda moet sy gebied in die suide behou, en die huis van Josef moet sy gebied in die noorde behou, 6 maar julle moet die gebied in sewe dele afbaken in julle beskrywing en dit hier na my toe bring. Ek sal vir julle die lot werp hier voor die Here ons God. 7Daar is immers geen deel vir die Leviete onder julle nie, want die priesterskap van die Here is hulle erfenis. Gad, Ruben en die halwe stam van Manasse het hulle erfdeel wat Moses, die dienskneg van die Here, vir hulle gegee het, oorkant die Jordaan, aan die oostekant, ontvang. ”
8Die manne het toe gereedgemaak en vertrek. Josua het dié wat op pad was, opdrag gegee om die land te beskryf: “Gaan, beweeg rond deur die land, beskryf dit en kom terug na my. Dan sal ek hier in Silo vir julle die lot werp voor die Here.”
9Die manne het gegaan en die land deurkruis. Hulle het dit dorp vir dorp, volgens die sewe dele, in 'n •boekrol beskryf, en teruggekeer na Josua, na die kamp in Silo. 10Josua het vir hulle in Silo voor die Here die lot gewerp. Daar het Josua die land vir die Israeliete verdeel ooreenkomstig hulle indeling in stamme.
Stamgebied van Benjamin
11Die lot is getrek vir die stam van Benjamin se nageslag ooreenkomstig hulle familiegroepe.
Die gebied wat deur loting vir hulle aangewys is, was tussen dié van die nageslag van Juda en dié van die nageslag van Josef. 12Hulle grens aan die noordekant begin by die Jordaan. Die grens loop op na die heuwelrug noord van Jerigo, en dan loop dit weswaarts op in die bergland, met sy verste punt in die woestyn by Bet-Awen. 13Van daar gaan die grens verby Lus, dit is Bet-El, na die heuwelrug van Lus aan die suidekant. Die grens loop dan af na Atrot-Addar langs die berg wat suid van Bet-Goron-Onder lê. 14Dan swaai die grens weg en draai aan die westekant suid, weg van die berg wat suid van Bet-Goron lê. Die grens se verste punt is by Kirjat-Baäl, dit is Kirjat-Jearim, 'n dorp van Juda se nageslag. Dit is die grens aan die westekant. 15Aan die suidekant strek die grens vanaf die buitewyke van Kirjat-Jearim. Dit strek weswaarts en gaan na die fontein van die Water van Neftoag. 16Daarna gaan die grens af na die voet van die berg langs die Ben-Hinnomdal, aan die noordekant van die vallei van Refaïm, verder af met die Hinnomdal na die heuwelrug van die Jebusiete in die suide, en dan af na En-Roghel. 17Dit swaai noord weg en strek verder na En-Sjemesj. Dit gaan nog verder na Gelilot, wat teenoor die Adummimhoogte lê. Daarna gaan dit af na die klip van Bohan, seun van Ruben. 18Die grens gaan na die heuwelrug teenoor die Araba in die noorde, loop af na die Araba 19en gaan dan na die heuwelrug by Bet-Gogla aan die noordekant. Die verste punt van die grens is by die noordelike tong van die Soutsee, by die monding van die Jordaan in die suide. Dit is die suidelike grens. 20Die Jordaan vorm die grens aan die oostekant.
Dit dan is die erfdeel van die nageslag van Benjamin vir hulle familiegroepe, met sy grense aan alle kante.
21Die dorpe van die stam van Benjamin se nageslag, vir hulle familiegroepe, was Jerigo, Bet-Gogla en Kesisvallei; 22Bet-Araba, Semarajim, Bet-El, 23Awwim, Para, Ofra, 24Kefar-Ammoni, Ofni en Geba – twaalf dorpe met hulle gehuggies; 25verder nog Gibeon, Rama, Beërot, 26Mispa, Kefira, Mosa, 27Rekem, Jirpeël, Tarala, 28Sela, Elef, Jebus, dit is Jerusalem, Gibea en Kirjat – veertien dorpe met hulle gehuggies.
Dit dan is die erfdeel van die nageslag van Benjamin, vir hulle familiegroepe.