YouVersion Logo
Search Icon

Numeri 36

36
Huwelike van vroulike erfgename
1 Die familiehoofde van die familiegroep wat afstam van Gilead, seun van Magir, seun van Manasse, uit die familiegroepe wat van Josef afstam, het na vore getree. Hulle het voor Moses en die leiers, die familiehoofde van die Israeliete, gepraat. 2 Hulle het gesê: “Vir my heer het die Here opdrag gegee om die land deur loting, met erfreg vir die Israeliete, te gee. En my heer is deur die Here beveel om die erfdeel van Selofgad, ons volksgenoot, vir sy dogters te gee. 3As hulle nou die vroue word van iemand uit die seuns van die ander Israelitiese stamme, en hulle erfdeel word weggeneem van ons voorouers se erfdeel en gevoeg by die erfdeel van die stam waaraan hulle dan behoort, sal ons erfdeel wat deur loting aangewys is, weggeneem word. 4En as dit dan jubeljaar is vir die Israeliete, sal hulle erfdeel bygevoeg word by die erfdeel van die stam waaraan hulle dan behoort; en so word hulle erfdeel uit die erfdeel van die stam van ons voorouers weggeneem.”
5 Moses het die Israeliete in opdrag van die Here beveel: “Die stam van die nageslag van Josef het gelyk. 6Dit is die uitspraak wat die Here oor die dogters van Selofgad gegee het, ‘Hulle mag die vroue word van mans wat goed is in hulle oë, maar hulle mag alleen die vroue word van mans in 'n familiegroep van hulle voorvaderlike stam. 7Die erfdeel van die Israeliete mag nie van een stam na 'n ander stam oorgaan nie, want die Israeliete moet elkeen aan die erfdeel van hulle voorvaderlike stam verbonde bly. 8 Elke dogter onder die Israelitiese stamme wat 'n erfdeel in besit neem, moet met iemand uit 'n familiegroep van haar vader se stam trou, sodat die Israeliete elkeen die erfdeel van sy voorouers kan besit. 9'n Erfdeel mag nie van een stam na 'n ander stam oorgaan nie, want elke stam van Israel moet aan sy erfdeel verbonde bly.”
10Soos die Here Moses beveel het, presies so het die dogters van Selofgad toe gemaak. 11Magla, Tirsa, Gogla, Milka en Noa, die dogters van Selofgad, het die vroue geword van die seuns van hulle ooms aan vaderskant. 12Met mans uit familiegroepe van die nageslag van Manasse, seun van Josef, het hulle getrou. Hulle erfdeel het gebly by 'n familiegroep van hulle vader se stam.
13 Dit is die wette en beslissings wat die Here by monde van Moses aan die Israeliete opgedra het in die vlaktes van Moab, by die Jordaan, teenoor Jerigo.

Currently Selected:

Numeri 36: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in