YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 66

66
1Vir die •musiekleier. 'n Lied. 'n Psalm.
Juig tot eer van God, almal op aarde!
2Besing die eer van sy Naam;
betoon eer met 'n loflied aan Hom.
3Sê vir God:
“Hoe ontsagwekkend is u dade!
Vanweë die grootheid van u krag,
veins u vyande onderdanigheid
aan U.
4Almal op aarde buig voor U
in aanbidding.
Hulle besing U,
hulle besing u Naam.” •Sela
5Kom kyk na God se werke –
ontsagwekkend is sy dade
onder die mense.
6Hy het 'n see in droë grond verander.
Hulle het te voet deur die rivier gegaan.
Daar kon ons ons in Hom verheug,
7Hy wat ewig heers deur sy mag,
wie se oë die nasies deurkyk.
Hardkoppiges moet hulleself
nie verhef nie. Sela
8Prys ons God, volke;
laat die klank van sy loflied opklink –
9Hy wat aan ons lewe gee,
nie toelaat dat ons voete swik nie.
10 Ja, U het ons getoets, o God,
U het ons gelouter soos 'n mens
silwer louter.
11U het ons in 'n vangnet laat beland,
'n las op ons skouers gelê.
12U het mense oor ons koppe laat ry;
ons het deur vuur en water gegaan,
maar U het ons na oorvloed uitgelei.
13Ek sal u huis binnegaan
met •brandoffers;
ek sal aan U my geloftes betaal
14wat my lippe uitgespreek
en my mond beloof het
toe ek in die nood was.
15Brandoffers van vetgemaakte
skape sal ek aan U bring,
saam met die offerrook van ramme.
Ek sal beeste saam met bokke offer. Sela
16Kom luister, almal wat vir God
ontsag het,
sodat ek kan vertel
wat Hy vir my gedoen het.
17Met my mond het ek Hom aangeroep;
lofprysing was gereed op my tong.
18 Wat onreg betref,
as ek dit in my hart sou gewaar,
sou my Heer nie geluister het nie.
19Maar God het geluister;
Hy het ag geslaan op die klank
van my gebed.
20God moet geprys word,
Hy wat my gebed nie afgewys het,
sy troue liefde van my
nie weerhou het nie.

Currently Selected:

Psalms 66: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in