YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 74

74
1'n Maskiel. Van Asaf.
Waarom, o God, verstoot U,
smeul u toorn vir altyd
teen die kleinvee van u weiplek?
2 Dink aan u volk wat byeen is,
wat U in die voortyd gekoop het,
wat U as stam, as u eiendom,
losgekoop het;
dink aan die berg Sion,
waar U gewoon het.
3Klim tog op na die ewige puinhope.
Die vyand het alles verwoes
in die heiligdom.
4U teenstanders het gebrul
binne-in u ontmoetingsplek;
hulle het hulle baniere
as oorwinningstekens opgerig.
5Dit is bekend:
Toe hulle saam met die fynhout
byle teen die trappe op gevat het,
6het hulle ook die paneelwerk
alles afgestroop met handbyle
en breekysters.
7Hulle het u heiligdom
aan die brand gesteek;
tot op die grond het hulle
die woonplek van u Naam ontheilig.
8Hulle het in hulle hart gesê:
Ons moet alles gelyktydig vernietig.
Hulle het al die ontmoetingsplekke
van God in die land verbrand.
9Ons sien nie meer ons tekens nie,
daar is nie meer 'n profeet nie;
en niemand by ons weet
hoe lank nog nie.
10Hoe lank, o God,
gaan die teenstander
nog die spot dryf,
gaan die vyand u Naam vir ewig verag?
11Waarom hou U u hand,
u regterhand, terug?
Trek dit uit die vou van u kleed!
Maak 'n einde hieraan!
12God is my koning
van die vroegste tye af,
Hy wat verlossingsdade verrig
hier op aarde.
13Dit is U wat met u krag
die see geskud het,
die koppe van seemonsters
op die water verpletter het,
14die koppe van die Leviatan
verbrysel het,
dit as kos vir woestynbewoners
gegee het.
15U het fontein en stroom
oopgebreek;
U het standhoudende riviere
laat opdroog.
16Aan U behoort die dag;
ook die nag behoort aan U.
U het die maan en die son gevestig.
17U het al die grense van die aarde
vasgestel;
somer en winter, U het dit gevorm.
18Dink daaraan dat die vyand
die spot dryf, Here,
dat 'n dwase volk u Naam verag.
19Moet tog nie die lewe van u tortelduif
aan wilde diere oorgee nie;
die lewens van u magteloses –
moet dit nie vir ewig vergeet nie.
20Hou die verbond in die oog,
want die donker plekke van die wêreld
is vol nedersettings van geweld.
21Laat die onderdruktes
nie in vernedering terugkeer nie.
Die magteloses en behoeftiges
sal u Naam loof.
22Staan tog op, o God,
verdedig u regsaak!
Dink daaraan dat U die hele dag
deur dwase gespot word.
23Moenie die stem
van u teenstanders vergeet nie,
die rumoer wat voortdurend
opklink van hulle wat teen U opstaan.

Currently Selected:

Psalms 74: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in