YouVersion Logo
Search Icon

Openbaring 7

7
Die honderd vier-en-veertigduisend
1Hierna het ek vier engele by die vier hoeke van die aarde sien staan. Hulle het die vier winde van die aarde in bedwang gehou, sodat daar nie wind op die land of op die see of teen enige boom sou waai nie. 2Ek het ook 'n ander engel van die oostekant af sien aankom, wat 'n seël van die lewende God vashou. Hy het met 'n kragtige stem geroep na die vier engele wat aangesê is om die land en die see te beskadig, en gesê: 3“Moenie die land of die see of die bome beskadig, voordat ons die diensknegte van ons God met 'n seël op hulle voorkoppe gemerk het nie. ” 4Ek het toe gehoor wat die getal is van hulle wat met die seël gemerk is: honderd vier-en-veertigduisend – uit elke stam van die kinders van Israel:
5Uit die stam Juda, twaalfduisend
wat die seël dra;
uit die stam Ruben, twaalfduisend;
uit die stam Gad, twaalfduisend;
6uit die stam Aser, twaalfduisend;
uit die stam Naftali, twaalfduisend;
uit die stam Manasse, twaalfduisend;
7uit die stam Simeon, twaalfduisend;
uit die stam Levi, twaalfduisend;
uit die stam Issaskar, twaalfduisend;
8uit die stam Sebulon, twaalfduisend;
uit die stam Josef, twaalfduisend;
uit die stam Benjamin, twaalfduisend
wat die seël dra.
Die groot skare in die hemel
9Hierna het ek gesien, en kyk, daar was 'n baie groot skare, wat niemand kon tel nie. Hulle was afkomstig uit elke nasie en stam en volk en taal, en het voor die troon gestaan, en voor die Lam. Hulle het lang wit stolas gedra, met palmtakke in hulle hande. 10Hulle het met 'n harde stem uitgeroep:
“Die verlossing behoort aan ons God,
wat op die troon sit,
en aan die Lam!”
11Al die engele het rondom die troon, en ook rondom die ouderlinge en die vier lewende wesens, gestaan. Hulle het toe op hulle gesigte neergeval voor die troon, en God aanbid 12en gesê:
“•Amen!
Die lof, die heerlikheid en die wysheid,
die dank en die eer,
die krag en die sterkte
kom ons God toe vir ewig en ewig.
Amen!”
13In antwoord daarop het een van die ouderlinge vir my gevra: “Hierdie mense wat die lang wit stolas dra, wie is hulle, en waar kom hulle vandaan?” 14Ek het hom geantwoord: “Meneer, u is die een wat weet.” En hy het vir my gesê:
“Dit is die mense wat uit
die groot verdrukking kom.
Hulle het hulle lang stolas gewas,
en wit gemaak in die bloed van die Lam.
15Daarom is hulle voor die troon van God,
waar hulle Hom dag en nag in sy •tempel dien.
En Hy wat op die troon sit,
sal sy tent by hulle opslaan.
16 Hulle sal nie meer honger of dors word nie;
nie die son nie, ook geen hittegloed
sal hulle brand nie.
17Want die Lam wat in die middel
voor die troon staan,
sal hulle soos 'n herder versorg
en hulle na fonteine
met lewende water lei,
en God sal elke traan
uit hulle oë vee.”

Currently Selected:

Openbaring 7: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in