YouVersion Logo
Search Icon

Hooglied 5

5
Hy:
1 Ek kom na my tuin,
my suster, my bruid.
Ek pluk my mirre met my speserye,
ek eet my heuningkoek
met my heuning,
ek drink my wyn met my melk.
Koor:
Eet, vriende!
Drink, en word van liefde dronk!
Sy:
2 Ek was aan die slaap,
maar my hart was wakker.
Hoor daar! My liefste klop!
“Maak vir my oop,
my suster, my liefling,
my duif, my volmaakte;
my kop is nat van dou,
my lokke deurdrenk
van die nag se dou.”
3 Ek het my oorkleed al uitgetrek,
moet ek dit weer aantrek?
Ek het my voete al gewas,
moet ek dit weer laat vuil word?
4My liefste het sy hand
deur die opening gesteek
en my hart het onstuimig geklop
oor hom.
5Ek het opgestaan
om vir my liefste oop te maak.
My hande het gedrup van mirre,
my vingers van vloeiende mirre,
op die handvatsels van die grendel.
6 Ek het oopgemaak vir my liefste,
maar my liefste het omgedraai
en weggegaan.
Toe hy wegdraai,
het dit geduisel in my.
Ek het na hom gesoek,
maar hom nie gevind nie;
na hom geroep,
maar hy het my nie geantwoord nie.
7 Die wagte, op hulle rondtes
deur die stad, het my gevind.
Hulle het my geslaan,
hulle het my verwond,
hulle het my sjaal afgeruk,
die wagte by die stadsmure.
8 Meisies van Jerusalem,
ek besweer julle:
As julle my liefste vind,
wat moet julle vir hom sê?
Dat ek siek is van liefde.
Koor:
9 Wat maak jou liefste beter as ander,
mooiste onder die vroue,
wat maak jou liefste beter as ander,
dat jy ons so besweer?
Sy:
10 My liefste is stralend en bloesend;
hy troon bo tienduisende uit.
11Sy kop is suiwer fyngoud,
sy hare raafswart dadeltrosse.
12 Sy oë is soos duiwe langs waterstrome,
wat bad in melk,
wat sit langs 'n vol poel.
13 Sy wange is soos beddings balsemkruid
wat geurige kruie laat uitspruit.
Sy lippe is narsings
wat drup van vloeiende mirre.
14Sy voorarms is ronde stawe goud
met •chrisoliet versier.
Sy buik is gepoleerde ivoor,
oortrek met •lasuursteen.
15 Sy bene is marmerpilare
wat rus op voetstukke van fyngoud.
Sy gestalte is soos die Libanon,
uitsonderlik soos die seders.
16 Sy mond is pure soetigheid,
hy is die begeerlikheid self.
So lyk my liefste, so lyk my vriend,
meisies van Jerusalem!

Currently Selected:

Hooglied 5: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in