7
Vastye en hoop vir die toekoms
1In die vierde regeringsjaar van koning Darius, op die vierde dag van die negende maand, Kislef, was dít die woord van die Here aan Sagaria. 2 Bet-El het Sar-Eser en Regem-Meleg met sy manne gestuur om die Here se guns te soek. 3 Hulle moes vir die priesters van die huis van die Here, Heerser oor alle magte, en vir die profete vra: “Moet ek nog in die vyfde maand huil terwyl ek my van baie dinge onthou, soos ek so baie jare lank gedoen het?”
4Toe was dít die woord van die Here, Heerser oor alle magte, aan my: 5“ Sê vir die hele volk van die land en vir die priesters, ‘Toe julle in hierdie sewentig jaar in die vyfde en sewende maand gevas en gerou het, het julle werklik om my ontwil gevas? 6 En wanneer julle eet en wanneer julle drink, eet en drink julle nie net soos gewoonlik nie?’ 7Is dit nie die woorde wat die Here by monde van vroeëre profete verkondig het nie, toe Jerusalem en sy omliggende dorpe nog rustig en bewoon was, en ook die Negev en die Sjefela nog bewoon was?”
8Daarna was die woord van die Here aan Sagaria: 9“ So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Laat die waarheid seëvier in julle regspraak; betoon troue liefde en barmhartigheid aan mekaar. 10 Moenie weduwees, weeskinders, •vreemdelinge en armes verdruk nie; moenie bose planne in julle harte teenoor mekaar bedink nie.’ ”
11 Maar hulle het geweier om te luister; hulle was halsstarrig. Hulle het hulle ore toegestop sodat hulle nie kon hoor nie. 12 Hulle het hulle harte verhard, so hard soos 'n diamant, sodat hulle nie die wet en die woorde gehoor het wat die Here, Heerser oor alle magte, deur sy Gees en deur die vroeëre profete gestuur het nie. Daarom was daar van die kant van die Here, Heerser oor alle magte, 'n baie groot oordeel uit toorn.
13“ ‘Soos hulle nie geluister het toe daar geroep is nie, so roep hierdie mense en luister Ek nie,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. 14 ‘Ek gaan hulle wegwaai tot tussen al die nasies wat hulle nie geken het nie. Agter hulle sal die land verlate wees; niemand sal daardeur trek of daarheen terugkeer nie. Hulle het van 'n pragtige land 'n verlate plek gemaak.’ ”