YouVersion Logo
Search Icon

1 Samuel 14

14
1Op ’n dag sê Jonatan, Saul se seun, vir sy wapendraer: “Kom ons gaan daar oorkant na die Filistyne se wagte toe.” Maar hy het nie vir sy pa gesê hy gaan dit doen nie. 2Op daardie stadium was daar so 600 man by Saul net buite Gibea. Saul self het onder die heilige granaatboom in Migron gesit 3saam met die priester Agija, wat vir die Here moes vra wat hulle moet doen. Niemand het geweet dat Jonatan weg was nie. (Agija was een van die priesters van Silo. Sy pa was Agitub, Ikabod se broer. Sy oupa was Pinehas, Eli se seun.)
4Aan elke kant van die bergpas waar Jonatan moes oorgaan om by die Filistyne se wagte uit te kom, was daar ’n rotskoppie. Die een rotskoppie se naam was Boses, en die ander een s’n Senne. 5Die spits rotskoppie is aan die noordekant duskant Mikmas, die ander een aan die suidekant duskant Gibea.
6Jonatan sê toe vir sy wapendraer: “Kom ons gaan na die wagte van daardie klomp heidene. Dalk help die Here ons. Dit maak mos nie saak of ons baie of min mense is nie, die Here kán ons laat wen.”
7“Maak soos jy goeddink,” antwoord die wapendraer, “ek volg jou.”
8“Goed,” sê Jonatan, “kom ons loop só na daardie manne toe dat hulle ons sien. 9As hulle vir ons sê: ‘Wag daar tot ons by julle is,’ bly ons staan waar ons is; dan klim ons nie op na hulle toe nie. 10Maar as hulle sê: ‘Klim op hier na ons toe,’ dan klim ons op, want dan is dit vir ons die teken dat die Here hulle aan ons oorgegee het.”
11Die twee loop toe openlik na die wagte toe. “Kyk daar,” sê die Filistyne, “die Hebreërs kruip uit hulle gate uit!”
12“Kom op hier na ons toe,” skree hulle vir Jonatan en sy wapendraer,” dan wys ons julle ’n ding of twee!”
“Volg my,” sê Jonatan vir sy wapendraer, “die Here het hulle aan die Israeliete oorgegee.”
13Jonatan het hande-viervoet teen die kop uitgeklim met sy wapendraer kort agter hom. Hy het die Filistyne platgeslaan, en sy wapendraer het hulle agter hom doodgesteek. 14Daar is omtrent twintig man dood in hierdie eerste aanval van Jonatan en sy wapendraer. Die lyke het sommer bymekaar gelê.
15Paniek het onder die Filistyne in die kamp losgebreek. Dié wat in die veld was, die ander wagte wat uitgesit was en die manskappe wat die Israeliete moes beroof, het hulle ook lam geskrik. Toe daar nog ’n aardbewing ook kom, was hulle doodbenoud.
16Die verkenners van Saul by Gibea in Benjamin het laat weet dat die kamp in rep en roer is. 17Saul het vir die manskappe by hom gesê: “Kyk wie van ons is nie hier nie.”
Hulle kom toe agter dat Jonatan en sy wapendraer nie daar is nie.
18Saul sê toe vir Agija: “Bring vir ons die ark van God.” (Die ark was toe by die Israeliete.) 19Maar terwyl Saul nog met hom praat, word die geraas in die Filistyne se kamp al groter. Saul sê vir die priester: “Los maar die ark!”
20Saul en al die manskappe by hom trek toe saam vir die geveg. Maar tot hulle verbasing sien hulle dat die Filistyne in die deurmekaarspul teen mekaar veg!
21Hebreeuse huursoldate wat vroeër altyd vir die Filistyne geveg het en wat saam met hulle in die kamp was, het hulle by die Israeliete onder Saul en Jonatan aangesluit. 22Al die burgers van Israel wat in die Efraimsberge gaan wegkruip het, het gehoor dat die Filistyne aan die vlug is. Ook húlle het die Filistyne gejaag. 23Die Here het Israel daardie dag uitgehelp.
Jonatan is in gevaar
Die geveg het aangehou tot by Bet-Awen. 24Die Israeliete het daardie dag harde bene gekou, want Saul het die manskappe voorgesweer: “So waar as die Here leef, enigiemand wat voor vanaand iets eet voor ek wraak geneem het op my vyande, sal doodgemaak word.” Niemand het aan iets geproe nie.
25Al die manskappe moes deur ’n plek met baie bome gaan. Daar was byeneste in gate in die grond. 26Toe die manne deur die bos gaan, sien hulle die vet heuningkoeke, maar niemand het dit gewaag om daaraan te proe nie, want hulle was bang oor die eed wat Saul gesweer het. 27Maar Jonatan was nie by toe sy pa dit vir die manskappe gesê het nie. Hy steek die kierie wat hy in sy hand het se punt in ’n heuningkoek en lek dit af. Sy oë het sommer weer geblink.
28Een van die manskappe praat toe met hom daaroor: “Jou pa het ons die dood voor oë gesweer en gesê: ‘Die man wat vandag iets eet, sal doodgemaak word.’ Daarom is die manskappe so gedaan.”
29“My pa het die land baie skade aangedoen,” antwoord Jonatan. “Kyk hoe blink my oë nadat ek net ’n bietjie heuning geproe het. 30Dit sou soveel beter gewees het as die manne vandag goed kon weglê aan die goed wat hulle by die Filistyne gevat het. Ons kon die Filistyne ’n nekslag gegee het.”
31Daardie dag het die Israeliete van Mikmas af tot by Ajalon die Filistyne kafgeloop. Omdat die manskappe doodmoeg was, 32het hulle teen die aand op die goed toegesak wat hulle van die Filistyne afgeneem het. Hulle het van die skape en bokke, koeie en kalwers gegryp en dit op die grond geslag en geëet sonder dat die bloed teen ’n altaar uitgegooi is.
33Iemand gaan sê toe vir Saul: “Die mense sondig teen die Here as hulle die vleis eet voor die bloed teen ’n altaar uitgegooi is.”
“Julle doen verkeerd,” sê Saul, “rol dadelik ’n groot klip nader.” 34Daarop sê hy: “Laat weet al die manskappe: Elkeen moet sy bees of skaap hier na my toe bring en dit op hierdie klip slag. Dan kan julle eet en nie teen die Here sondig met die bloed van die diere nie.”
Daardie aand het elkeen wat ’n dier wou slag, dit na die groot klip gebring en dit daar geslag. 35So het Saul vir die Here ’n altaar met die klip gebou. Dit was die eerste keer dat hy so iets gedoen het.
36Saul sê toe: “Ons gaan vannag in die vlakte agter die Filistyne aan. Ons vat hulle goed, jaag hulle tot die son uitkom en maak dan die laaste een dood.”
“Maak soos u goeddink,” antwoord die manskappe.
Maar die priester sê: “Kom ons hoor net eers wat God daarvan sê.”
37Saul vra toe vir God wat hy moet doen: “Moet ek agter die Filistyne aangaan in die vlakte? Sal U hulle aan Israel oorgee?”
Maar God het hom glad nie geantwoord nie.
38“Bring al die leiers van die volk hier bymekaar,” sê Saul. “Ek wil weet watter verkeerde ding vandag gedoen is, 39want sowaar as die Here, die Helper van Israel, leef, die een wat dit gedoen het, moet doodgemaak word, al is dit ook my seun Jonatan.”
Maar niemand wou iets vir Saul sê nie.
40Hy sê toe vir al die Israeliete: “Staan julle daar, ek en my seun Jonatan sal hier staan.”
“Dis goed so,” antwoord hulle vir Saul.
41Toe sê Saul vir die Here: “God van Israel, gee tog vir ons ’n duidelike antwoord.” Jonatan en Saul is toe geloot; die manskappe was vry.
42“Trek lootjies tussen my en my seun Jonatan,” sê Saul.
Jonatan is geloot.
43Saul sê vir hom: “Vertel my wat jy gedoen het.”
Jonatan vertel hom toe en sê: “Ek het maar net ’n bietjie heuning geproe met die punt van ’n stok. Moet ek nou daaroor doodgemaak word?”
44Saul antwoord hom: “Jy móét doodgemaak word, Jonatan. As ek nie doen wat ek vir die Here gesweer het ek sal doen nie, sal Hy my baie swaar straf.”
45Maar toe sê die manskappe vir Saul: “Moet Jonatan wat die Israeliete so ver laat wen het, doodgemaak word? Dit sal die dag wees! So waar as die Here leef, niemand raak aan Jonatan nie, want wat hy vandag gedoen het, het hy net reggekry omdat God hom gehelp het!” So het die manne Jonatan van die dood gered.
46Saul het toe nie agter die Filistyne aangegaan nie, en die Filistyne het teruggegaan na hulle eie plek.
Saul se regering en sy familie
47Saul het die sake van die koningskap eers goed gereël en daarna het hy oorlog gemaak teen al die vyande wat rondom die Israeliete gebly het: teen die Moabiete, die Ammoniete, die Edomiete, die koning van Soba en die Filistyne. Oral waar hy geveg het, het hy gewen. 48Hy was nie ’n bang man nie. Hy het die Israeliete vrygemaak van die Amalekiete wat hulle gedurig aangeval en hulle goed gevat het. 49Saul se seuns was Jonatan, Jiswi en Malkisua. Hy het ook twee dogters gehad; die oudste se naam was Merab en die jongste Mikal. 50Saul was getroud met Aginaäm. Sy was die dogter van Agimaäs.
Die naam van Saul se generaal was Abner. Abner was sy neef. Hy was Ner se seun. 51Kis, Saul se pa, en Ner was die seuns van Abiël. 52Solank Saul geleef het, was daar groot gevegte met die Filistyne. Daarom het Saul elke man wat kon veg en wat nie bang was nie, as ’n soldaat gebruik.

Currently Selected:

1 Samuel 14: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in