YouVersion Logo
Search Icon

1 Samuel 29

29
Die Filistyne wantrou Dawid
1Die Filistyne het al hulle manskappe by Afek bymekaargebring. Die Israeliete se kamp was by die fontein wat in die Jisreëlvlakte is. 2Die regeerders van die Filistynse stadstate het met hulle leërafdelings van honderde duisende man uitgetrek. Dawid en sy manne het saam met Akis die agterhoede gevorm. 3Die Filistynse regeerders sê toe: “Maar wat soek hierdie klomp Hebreërs hier?”
Waarop Akis hulle antwoord: “Dis mos Dawid, een van Saul, die koning van Israel, se offisiere. Hy is al ’n hele ruk by my. Vandat hy van Saul af weggeloop het tot vandag toe kon ek nog nie met hom fout vind nie.”
4Maar die Filistynse regeerders was die joos in vir Akis en sê vir hom: “Laat die man dadelik omdraai! Stuur hom terug na die plek toe waar jy gesê het hy kan bly. Hy trek nie saam met ons uit oorlog toe nie. Netnou spring hy om in die geveg. Daar is nie ’n beter manier om sy koning se guns te wen as met ons eie mense se koppe nie! 5Dis mos hierdie einste Dawid oor wie die vroue sing as hulle in die rondte dans: ‘Saul het duisende verslaan en Dawid tien duisende.’”
6Akis het Dawid laat roep en vir hom gesê: “So waar as die Here leef, jy is betroubaar en ek dink dis goed dat jy op al ons veldtogte saam met my is, want vandat jy by my gekom het tot nou, het jy, wat my betref, nog niks verkeerds gedoen nie. Maar die regeerders van die Filistynse stadstate vertrou jou nie. 7Gaan nou maar terug en wees rustig en moenie iets doen waarvan hulle nie hou nie.”
8Dawid het vir Akis gesê: “Maar wat het ek verkeerd gedoen? Kan u u vinger op enigiets lê wat ek gedoen het, vandat ek by u gekom het tot vandag toe, wat ’n rede kan wees waarom ek nie teen U Majesteit se vyande mag gaan veg nie?”
9Akis het hom geantwoord: “Ek weet, ek weet! Vir my was jy soos ’n engel uit die hemel! Maar die Filistynse regeerders het gesê jy mag nie saam met ons oorlog toe gaan nie. 10Maak nou môre vroeg klaar, jy en al Saul se onderdane wat saam met jou gekom het, en dan vertrek julle sodra dit lig word.”
11Dawid en sy manne het toe vroeg opgestaan en na die gebied van die Filistyne teruggegaan. Die Filistyne het daarna teen die Israeliete in Jisreël gaan veg.

Currently Selected:

1 Samuel 29: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in