YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 28

28
Agas word koning en dien afgode
1Agas was twintig toe hy koning geword het. Hy het sestien jaar lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie so tevrede met wat Agas gedoen het as met Dawid nie. 2Hy het dieselfde sondes gedoen as die konings van Israel. Agas het onder andere beelde van die Baäls gemaak wat die mense moes aanbid; 3offers vir vreemde gode gebring in die Ben-Hinnomdal; sy seuns met vuur verbrand as offers aan die gode, net soos die heidene vroeër gedoen het, en 4diere geoffer en wierook gebrand op al die ander nasies se godsdienstige plekke. 5Daarom het die Here sy God toegelaat dat die koning van Aram hom verslaan. Hy het ’n hele klomp gevangenes na Damaskus toe weggevat.
Die Here het ook toegelaat dat Israel se leër Agas s’n verpletterend verslaan. 6Die leër van koning Peka van Israel, Remalia se seun, het op één dag 120 000 van Juda se uitsoeksoldate doodgemaak. Dit het gebeur omdat hulle nie meer gedoen het wat die Here hulle God van hulle verwag het nie. 7Sikri, ’n held uit Efraim, het drie baie hoë amptenare van Juda doodgemaak. Hulle was Maäseja, een van die koning se seuns, Asrikam, die paleisbevelvoerder en Elkana, die koning se tweede-in-bevel. 8Die Israeliete het 200 000 Judeërs gevange geneem: vroue, seuns en dogters, almal familie van hulle. Hulle het ook die land geplunder en baie goed gevat. Hulle het al die goed en die gevangenes na Samaria toe weggevat.
Die Israeliete luister na die profeet Oded
9Oded was ’n boodskapper van die Here. Toe die leër van Israel na Samaria toe op pad was, het hy uitgegaan om hulle te ontmoet. Hy het vir hulle gesê: “Die Here, die God van julle voorouers, was kwaad vir Juda. Daarom het Hy toegelaat dat julle hulle so vernederend kon verslaan. Maar julle het die moord en doodslag te ver gevoer. Dit skree ten hemele. 10Nou beplan julle om nog verder te gaan en om die vroue en kinders van Juda en Jerusalem wat julle gevang het, julle slawe te maak. Het julle nie self ook ernstige sondes teen die Here gedoen nie? 11Luister na wat ek vir julle sê: laat die gevangenes vry, want hulle is familie van julle. Die Here is baie kwaad vir julle!”
12’n Klompie leiers van Efraim het met die profeet saamgestem. Hulle was Asarja, Joganan se seun, Berekja, Mesillemot se seun, Hiskia, Sallu se seun en Amasa, Gadlai se seun. 13Hulle het vir die soldate gesê: “Julle moet nie eens daaraan dink om die gevangenes hierheen te bring nie! Ons kan dit nie bekostig om nog meer sonde en skuld te hê nie. Ons skuld is al klaar baie groot. En die Here se woede dreig om enige oomblik teen ons los te bars!”
14Die soldate het toe die gevangenes daar voor die leiers en almal wat daar bymekaar was, vrygelaat en die goed wat hulle gevat het, gelos. 15’n Aantal mans is aangewys om vir die gevangenes te sorg. Uit die buit wat die soldate gevat het, het hulle vir die mense wat kaal was, klere gegee. Hulle het klere en sandale uitgedeel en vir almal kos en iets te drinke aangebied. Hulle het die beseerdes se wonde met olie versorg. Daarna het hulle dié wat te swak was, op donkies laat ry en almal teruggeneem na Jerigo, die Palmstad, en die gevangenes daar aan hulle broers terugbesorg. Daarna het hulle self teruggegaan Samaria toe.
Agas vra hulp by Assirië en sluit die tempel
16Dit was in dié tyd dat Agas die koning van Assirië gevra het om hom te kom help.
17Die Edomiete het Juda intussen weer aangeval en verslaan. Hulle het baie gevangenes weggevat. 18Die Filistyne het ’n strooptog uitgevoer op die dorpe in Juda se lae heuwels en in die suide van die land. Hulle het die volgende plekke vir hulleself gevat en daar gaan bly: Bet-Semes, Ajalon, Gederot, Soko en die dorpe in die omgewing daarvan, Timna en die dorpe in die omgewing, Gimso en die dorpe in die omgewing. 19Al die slegte dinge het met Juda gebeur omdat die Here koning Agas van Juda wou straf. Hy het immers sy mense aangemoedig om sonde te doen en hy self was heeltemal ontrou aan die Here. 20Toe Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, wel daar opdaag, het hy koning Agas glad nie gehelp nie. 21Agas het al die waardevolle voorwerpe uit die Here se tempel, die paleis en sy amptenare se huise gevat en dit vir die koning van Assirië gestuur. Maar dit het niks gehelp nie.
22Juis toe hy baie swaargekry het, het koning Agas nóg ongehoorsamer aan die Here geword. 23Hy het offers gebring vir die gode van Damaskus. Hy het so daaroor gedink: “Dié gode het die Arameërs gehelp toe hulle teen my geveg het. Miskien sal hulle my ook help as ek hulle nou vereer.” Maar dit het nie so gebeur nie. Hulle het net tot sy ondergang gelei. 24Die koning het die gereedskap wat in die Here se tempel gebruik is, gevat en dit in stukkies gebreek. Toe het hy die tempel se deure toegesluit en sy eie altare op elke hoek in Jerusalem gebou. 25Hy het in elke dorp in Juda heiligdomme gebou om vir vreemde gode offers te bring. Op dié manier het hy die Here verskriklik kwaad gemaak.
26Die res van Agas se geskiedenis en alles wat hy gedoen het, is in Die Geskiedenis van die Konings van Juda en Israel opgeskryf. 27Na sy dood het hulle hom in Jerusalem begrawe, maar nie in die koninklike begraafplaas nie. Sy seun Hiskia het hom opgevolg.

Currently Selected:

2 Kronieke 28: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Video for 2 Kronieke 28