YouVersion Logo
Search Icon

2 Konings 11

11
Atalia regeer in Juda
1Toe Ahasia se ma, Atalia, gehoor het dat hy dood is, het sy die hele koningsfamilie begin uitwis. 2Ahasia se suster, Jehoseba, het besef wat Atalia se plan was. Sy het stilletjies een van Ahasia se seuntjies, Joas, tussen die kinders wat doodgemaak sou word, gaan uithaal en weggesteek. Jehoseba het toe vir Joas en die vrou wat hom versorg het in ’n slaapkamer gaan wegsteek en daarom is hy nie doodgemaak nie.
3Joas is ses jaar lank in die tempel van die Here weggesteek. Dit is hoe lank Atalia oor Juda regeer het.
’n Paleisrewolusie breek teen Atalia uit
4Gedurende Atalia se sewende jaar op die troon het die priester Jojada die offisiere van die koninklike wag en die tempelwagte na hom in die tempel toe ontbied. Nadat hy hulle daar in die tempel ’n eed laat sweer het dat hulle nie sal praat nie, het hy ’n ooreenkoms met hulle gesluit. Daarna het hy vir hulle die koning se seun gewys.
5Hy gee toe vir hulle die volgende bevele: “Luister nou mooi na my reëlings: ’n derde van die soldate wat op die sabbatdag aan diens is, moet by die paleis gaan wagstaan. 6Nog ’n derde van julle moet by die Surpoort waghou en die orige derde moet agter die paleiswagte gaan waghou. Almal saam is verantwoordelik vir die paleis. 7Die ander twee afdelings, wat op die sabbatdag verlof het, is verantwoordelik vir die tempel en die koning. 8Julle is sy lyfwag en julle moet hom gedurig met julle wapens beskerm. As iemand by hom probeer uitkom, moet julle die persoon summier doodmaak.”
9Die offisiere het presies gedoen wat Jojada, die priester, beveel het. Hulle het albei groepe soldate, dié wat op die sabbat aan diens is en dié wat dan van diens af gaan, bymekaargemaak. Hulle het almal by Jojada byeengekom. 10Hy het vir hulle spiese en skilde gegee wat nog aan koning Dawid behoort het en wat nog altyd in die tempel van die Here gebêre was. 11Die soldate het die wapens gevat en ’n halfsirkel om die koning gevorm. Die halfsirkel om hom het van die tempel se suidelike hoek, by die brandofferaltaar verby, tot by die noordelike hoek gestrek. So is die koning baie goed beskerm.
12Toe alles gereed was, het Jojada die jong koning uitgebring. Hy het ’n kroon op sy kop gesit en die kroningsdokument vir hom gegee. Daarna het hulle olie op sy kop uitgegooi en hande geklap en hard uitgeroep: “Mag die koning lank lewe!” Só het hulle vir Joas koning gemaak.
Atalia word doodgemaak
13Toe Atalia die geraas buite hoor, het sy na die mense in die tempel toe gegaan. 14Daar sien sy toe die koning op die gebruiklike plek, met die leiers en trompetblasers rondom hom. Die mense was uitbundig en die trompette is geblaas. Atalia was geskok en het haar klere geskeur en ontsteld uitgeroep: “Dis verraad! Verraad!”
15Jojada het vir die leëroffisiere gesê: “Vang haar en vat haar weg uit die tempel uit! Moet haar nie hier in die Here se tempel doodmaak nie. Maak enigeen wat haar probeer help, dood!” 16Hulle het Atalia deur die Perdepoort na die paleis geneem en haar daar doodgemaak.
Jojada se godsdienstige hervorming
17Hierna het Jojada die priester ’n paar ooreenkomste gesluit:
tussen die Here en die koning en die volk - dat hulle die Here sal dien;
tussen die koning en die volk.
18Daarna het al die mense na die Baältempel toe gegaan en dit begin afbreek. Hulle het die altare en die afgodsbeelde stukkend gebreek. Toe het hulle vir Mattan, die Baäl-priester, reg voor die altare doodgemaak.
Jojada het wagte by die tempel aangestel. 19Daarna het hy en al die soldate en die hele volk die koning deur die Poort van die Voetsoldate na die paleis geneem. Die koning het op die koninklike troon gaan sit. 20Die mense van die land was uitbundig bly, terwyl die stadsbewoners rustig gebly het, al is Atalia in die paleis doodgemaak.

Currently Selected:

2 Konings 11: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in